Friday 31 May 2024

Terugblik: Inwyding van die tentkerk (en die stoelprobleem)

 

GESTIG
1872

RING
Kimberley (voorheen Dutoitspan)

ADRES
H.v. Rose- en Dyerplek, Beaconsfield, Kimberley

SLUIT IN
Beaconsfield en omgewing

EERSTE PREDIKANT
S.H. Kuhn (1877–1880)

Interessante terugblikbrokkie:

Die inwyding van Dutoitspan se kerktent op Saterdag 21 Januarie 1872 was 'n heuglike feesdag. Baie lidmate van New Rush het oorgekom om in die vreugde van hul bure te deel. Ds. EAJ du Toit van Jacobsdal en ds. Colin Fraser van Philippolis het by hierdie plegtigheid voorgegaan.

Berig in De Kerkbode

Aan die hand van 'n berig in De Kerkbode van 10/2/1872 kon ons die verrigtinge mooi volg. Die aanwesiges het hul eers na de oude kerkplaats - die noodkerk van bokseile wat van tyd tot tyd oor die waens en karre gespan was - begewe, waar ds. Du Toit hul kortliks toegespreek het. Vandaar het hul in plegtige optog na die kerktent gegaan, wat op die gebruiklike wyse deur ds. Fraser geopen is, terwyl dit een stryk deur gestortreën het. Ondanks die gure weer was die opkoms so groot dat die gebou in 'n ommesien propvol was. Nadat ds. Du Toit die gebed van Salomo by die inwyding van die tempel (1 Konings 8) voorgelees het, het ds. Fraser sy wydingsrede uitgespreek na aanleiding van Exodus 20:24: Op elke plek waar Ek my Naam laat gedenk, sal Ek na jou toe kom en jou seën. 

By al twee dienste die volgende dag was die bedehuis weer eens goed gevul. Die volgende Sondag is die nagmaal gevier. Hierdie bedehuis het blykbaar tussen die mynhope op die N.-Circularweg gestaan en is later deur die Dutoitspanmyn verswelg.

Met die inwyding het daar nog 90 pond (R180) skuld op die kerktent gerus.

Berig in Het Volksblad:

So het ons lidmate op sowel Dutoitspan as New Rush nou hul eie bedehuis gehad. Maar dié het natuurlik sleg afgesteek by die kerkgeboue van die ander kerke op die diamantvelde. Op New Rush alleen - aldus 'n berig van 'n korrespondent in Het Volksblad van 18/6/1872 - was daar toe al nie minder nie as ses gerieflike kerkgeboue van ander genootskappe.

Terwyl hierdie bedehuise hul eie stoele en banke gehad het, moes die lidmate van die NG Kerk vir elke diens hul eie stoele saamdra! Daar was dus nog 'n groot agterstand vir die Kerk om in te haal.

[Bron: Eeufeesalbum: Gous, HG. 1971. Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente: Beaconsfield Kimberley 1872-1972 - bl. 11]