Friday 17 May 2024

Terugflits: Soek die juwele in die alledaagse

Juwele kan baie werd wees. Hang af van die vakmanskap en die edelgesteentes of dit kan baie goedkoop wees omdat dit sentiment het. In 'n groot mate word juwele se waarde bepaal deur wat dit vir jou beteken. Daarom vir my so kosbaar die kleine blondekop-meisie wat haar skatte voor my kom uitskud.

Ons kampeer met kinders uit verskillende omstandighede. In haar beperkte konteks en haar vyf jaar van bestaan, ken sy nie diamantringe en goue juwele van 'n sekere karaat nie. Sy weet daarvan, maar die waarde is nog ver bo haar begrip. As sy haar juwele uitskud, dan besef ek sy gaan dit nooit verkoop nie, maar tog is dit van soveel waarde dat haar juwele moeilik vorentoe deur die harde werklikheid van goud en silwer vervang sal kan word.

"Oom, kyk my juweeltjies - ek tel elke dag 'n sak vol op."

Ongelooflik - twee skoenlappers, drie boomsade, 'n dooie tor, 'n wit klip, 'n stukkie rooi gras, 'n boompeul. Dit is haar juwele. Sy het al baie by die huis.

Haar ma het gesê sy mag dit in haar kamer hou. 

'n Mens moet ook nie dink dat sy nie weet wat elkeen vir haar beteken nie. Sy soek haar juweeltjies met die hand uit.

Ek is dom - ek durf vra of elke dag s'n dieselfde lyk. 

Verontwaardig kom die antwoord: "Natuurlik nie, Oom, daar is elke dag nuwe juweeltjies om my. Ek moet hulle net optel."

Hoe wonderlik as 'n mens nog in die klein goedjies juwele kan sien.

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth]