Showing posts with label Eeufeesalbum. Show all posts
Showing posts with label Eeufeesalbum. Show all posts

Friday, 27 September 2024

Terugblik: Kosterspaar 1940-1966


Mnr. en mev. Wagner was 'n aktiewe en geliefde kosterspaar, wat bekend was vir hulle hulpvaardigheid, nie net in die gemeente nie, maar ook in Kimberley. Geen versoek was vir hulle moeite nie. Mev. Wagner was veral bekend vir haar groot rangskikkings vir verhoë, troues, kongresse en konferensies,
Mev. Wagner tydens gemeente
se eeufeesvieringe in 1972
asook die vlyt waarmee sy skynbaar moeiteloos onthaalfunksies kon aanbied. Met Dutoitspan se 100-jarige feesvieringe het sy met liefde die blommerangskikkings gemaak, al was sy nie meer in die gemeente nie en so gehelp om die feesuitgawes in hierdie aspek baie laag te hou. 'n Ander talent wat ver buite die grense van Kimberley bekend was, was dat sy trourokke ontwerp en gemaak het en daarmee saam sommer ook die strooimeisie en die bruid van die ma se uitrustings. Voorwaar 'n bekende, geliefde en hardwerkende paar.   

Met die afsterwe van hul enigste dogter, Poppie, en die verswakking van mnr. Johnny Wagner se gesondheid, het hulle besluit om hulle liewer op 'n rustiger Boshof te vestig. Dit het meegebring dat hulle na 'n dienstydperk van 26 jaar se getroue en uitstekende diens as diaken, ouderling, Sondagskoolonderwyser en koster die amp moes neerlê.  

Die susters van die gemeente het vir hulle 'n spoggerige afskeidsfunksie aangebied (hierdie keer het mev. Wagner aan die ontvangkant van die onthaal gestaan.) 'n Adres en 'n geskenk van 'n R100 is deur die kerkraad as blyke van waardering vir die waardevolle en getroue dienste oor só 'n lang tydperk aan hulle oorhandig.

Rokke wat deur
mev. Wagner gemaak is.
Die groot vraag op almal se lippe was wie hierdie twee besondere mense gaan opvolg.

Bron: Eeufeesalbum 1972, mondelinge oorleweringe.

Friday, 5 July 2024

Terugblik: Die beginjare van Ons Huis - die tehuis vir bejaardes

Die eerste gebou wat as ouetehuis
(Ons Huis) gebruik is. Hierdie gebou was
regoor die kerk waar die meenthuise tans is.
Voor dit as ouetehuis gebruik is, was dit
'n losieshuis. 
Volgens 'n NG Kerk-ringverslag van Hopetown (1904 - 1905) is daar goedkeuring verleen deur die NG Kerk aan die gedagte wat toe reeds ontstaan het, naamlik dat daar 'n Afrikaanse Christelike Vrouevereniging gestig mag word.

Die doelstelling van so 'n vereniging sou spesifiek wees om nood te lenig en lyding te versag - toestande wat ná die Eerste Wêreldoorlog hoogty gevier het.

Met hierdie edele doel voor oë is die ACVV-tak in Beaconsfield gestig met mev. N Powell as presidente. Die tak alhier het in der waarheid deur die jare veel gedoen om in die nood van behoeftiges te voorsien. Besoeke aan siekes tuis waarheen ook voedsel geneem en barmhartigheidsdienste verrig is, sowel as besoeke aan siekes in die hospitaal, het 'n gereelde instelling geword.

Dienste wat op 'n stadium deur die Departemente Volkswelsyn en Pensioene, Kindersorg en so meer verrig word, was in die vroeë jare die selfopgelegde taak van die ACVV. Finansiële steun soos liefdadigheidsinstansies dit deesdae ondervind, was daar glad nie. Slegs die ywer en liefde vir die saak was vir die klein getal lede waarmee die vereniging gestig was, genoeg aansporing om groot struikelblokke uit die weg te ruim.

Namate die werkkring wyer geword het, het ook die nood van eensame en siek bejaardes na vore gekom - soveel so dat die lede die behoefte aan 'n tehuis vir bejaardes sterk aangevoel het.

Nieteenstaande groot probleme waarvan finansies die vernaamste was, kon daar in 1943 oorgegaan word tot die ingebruikneming van 'n gebou wat sou dien as 'n tehuis vir bejaardes. Hierdie gebou was geleë op die hoek van Rosestraat en Dyerplek en het die mooi naam van "Ons Huis" gekry.

'n Bestuur van Beheer waarin die NG Gemeente Dutoitspan al die jare verteenwoordiging het, is in die lewe geroep met die doel om "Ons Huis" se sake te behartig en alle verantwoordelikheid in verband met die tehuis te dra.

Ons bring hulde aan die vroue wie se name hieronder verskyn. Hulle was die presidentes van die tak, van stigting tot en met 1972. Hulle is: mevv. M Powell, H van Reenen, LA Hough, F Rousseau, D de Waal, E Hugo en J Badenhorst.

In 1957 kon die bejaardes vanuit die ou gebou geneem word na 'n nuwe een, nl. die bestaande "Ons Huis" in Ariadnelaan. Volgens inligting was hierdie tehuis die heel eerste van sy soort wat deur bemiddeling van die ACVV tot stand gekom het met die finansiële steun van Departement Volkswelsyn en Pensioene. Daar was tóé 30 inwoners, maar die waglys het steeds gegroei, sodat daar vroeg in die sestigerjare alweer vertoë gerig moes word om verdere uitbreidings. Só dringend was die behoefte dat dit selfs deur die betrokke staatsdepartemente onderskryf is en in 1966 is die uitbreidings voltooi, sodat daar 48 inwoners gehuisves kon word.

Uitbreidings vir 'n aparte vleuel vir verswakte bejaardes, is goedgekeur. Hier word inwoners op 'n doeltreffende wyse versorg.

Langs hierdie weg bring die bestuur van "Ons Huis" innige dank en waardering aan die verskillende NG Gemeentes in Kimberley en ander donateurs in die stad deur wie se finansiële steun die tehuis se laste ligter gemaak word.

(Inligting uit Eeufees-album van die NG Gemeente Dutoitspan 1972: geskryf deur mev. MJE Abel)

Klik HIER om die storie oor matrone Joey Serfontein se resepteboek te lees. Resepte wat in die kombuis van die ouetehuis gemaak is in haar eie handskrif. Klik HIER om die koeksisterresep in haar eie handskrif te lees. Die kunsbotter waarna daar in die resep verwys word, is margarine

Die ouetehuis het ook op daardie stadium 'n hond gehad met die naam van Robbie. Robbie is tot in die afgrond bederf deur die inwoners en het homself nie as 'n hond beskou nie. ('n Foto van Robbie op Ons Huis se blog.)
 
Klik HIER vir foto's van matrone Johanna (Joey) Serfontein, een van die eerste matrones van Ons Huis! Daar is 'n foto waar sy met ruikers blomme in die eerste tehuis vir bejaardes staan, dié een op die hoek van Rosestraat en Dyerplek. Die datum agterop die foto is 18 Desember 1947. 

Friday, 31 May 2024

Terugblik: Inwyding van die tentkerk (en die stoelprobleem)

 

GESTIG
1872

RING
Kimberley (voorheen Dutoitspan)

ADRES
H.v. Rose- en Dyerplek, Beaconsfield, Kimberley

SLUIT IN
Beaconsfield en omgewing

EERSTE PREDIKANT
S.H. Kuhn (1877–1880)

Interessante terugblikbrokkie:

Die inwyding van Dutoitspan se kerktent op Saterdag 21 Januarie 1872 was 'n heuglike feesdag. Baie lidmate van New Rush het oorgekom om in die vreugde van hul bure te deel. Ds. EAJ du Toit van Jacobsdal en ds. Colin Fraser van Philippolis het by hierdie plegtigheid voorgegaan.

Berig in De Kerkbode

Aan die hand van 'n berig in De Kerkbode van 10/2/1872 kon ons die verrigtinge mooi volg. Die aanwesiges het hul eers na de oude kerkplaats - die noodkerk van bokseile wat van tyd tot tyd oor die waens en karre gespan was - begewe, waar ds. Du Toit hul kortliks toegespreek het. Vandaar het hul in plegtige optog na die kerktent gegaan, wat op die gebruiklike wyse deur ds. Fraser geopen is, terwyl dit een stryk deur gestortreën het. Ondanks die gure weer was die opkoms so groot dat die gebou in 'n ommesien propvol was. Nadat ds. Du Toit die gebed van Salomo by die inwyding van die tempel (1 Konings 8) voorgelees het, het ds. Fraser sy wydingsrede uitgespreek na aanleiding van Exodus 20:24: Op elke plek waar Ek my Naam laat gedenk, sal Ek na jou toe kom en jou seën. 

By al twee dienste die volgende dag was die bedehuis weer eens goed gevul. Die volgende Sondag is die nagmaal gevier. Hierdie bedehuis het blykbaar tussen die mynhope op die N.-Circularweg gestaan en is later deur die Dutoitspanmyn verswelg.

Met die inwyding het daar nog 90 pond (R180) skuld op die kerktent gerus.

Berig in Het Volksblad:

So het ons lidmate op sowel Dutoitspan as New Rush nou hul eie bedehuis gehad. Maar dié het natuurlik sleg afgesteek by die kerkgeboue van die ander kerke op die diamantvelde. Op New Rush alleen - aldus 'n berig van 'n korrespondent in Het Volksblad van 18/6/1872 - was daar toe al nie minder nie as ses gerieflike kerkgeboue van ander genootskappe.

Terwyl hierdie bedehuise hul eie stoele en banke gehad het, moes die lidmate van die NG Kerk vir elke diens hul eie stoele saamdra! Daar was dus nog 'n groot agterstand vir die Kerk om in te haal.

[Bron: Eeufeesalbum: Gous, HG. 1971. Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente: Beaconsfield Kimberley 1872-1972 - bl. 11]

Friday, 24 May 2024

Terugblik: Diamantveld-gemeente se groeteboodskap


Diamantveld-gemeente is die jongste dogtergemeente wat in 1955 van Dutoitspan afgestig het en tydens ons gemeente se eeufeesvieringe was ds. VO Nel die leraar van Diamantveld. Hier volg sy groeteboodskap aan Dutoitspan:

Dit is vir my 'n besondere voorreg om namens die jongste dogtergemeente, Diamantveld, u hartlik geluk te wens, waar u tans die honderdjarige bestaan van u gemeente herdenk. Ons is saam met u dankbaar en bly.

As ons oor die honderd jaar terugkyk, wil ons die Here dank vir daardie manne en vroue - geharde Godsvresende mense wat die behoefte gevoel het en daadwerklik oorgegaan het tot die stigting van die gemeente Dutoitspan. Hierdie gemeente het gegroei en met trots sy plek ingeneem in die ry van gemeentes van ons kerk. Ander gemeentes is van hom afgestig met 'n eie karakter wat God aan hulle gegee het.  

Die gemeente van Dutoitspan het saam met ons kerk in wording, gely en gestry en krisistye deurgemaak, insinkings belewe, maar deur die genade van God staande gebly en sy deel bygedra om die geestelike erfenis sowel as die kultuurgoedere van ons volk en kerk in stand te hou.

Na honderd jaar bely ons saam met u dat die Here u gelei het na Sy raad, en dank ons Hom vir wat die Calvinisme, ons Gereformeerde leer en die Verbondsgedagte vir u beteken het. Ja, dat die kerk van ons vaders nog ons kerk is!

Ons glo dat u 'n verbondsgemeente is, en dat God 'n besondere doel met u as gemeente het.

Waar ons grootste dank in oorgawe geopenbaar word, wil ons met die oog op die toekoms saam met u bid, die gebed van Dawid in 11 Samuel 7:29: "Laat dit U dan nou behaag, en seën die huis van U kneg, sodat dit vir ewig voor U aangesig kan wees."

Klik HIER vir meer inligting.

Bron: Eeufeesalbum: Gous, HG. 1971. Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente: Beaconsfield Kimberley 1872-1972

Tuesday, 4 July 2023

150 genadejare: Feeskomitee - Toe en nou

 

Redaksie van die eeufeesboek 1972
Dagbestuur 2022

Friday, 15 April 2022

150 genadejare: Kerkraadslede - Toe en nou

Kerkraad 1912

Kerkraad 1972 - tydens eeufeesvieringe
Kerkraad 2022  - 150-jarige feesvieringe
Bron: 1872-1972 Eeufeesalbum (foto's) en kerkkantoor

Saturday, 26 February 2022

150 genadejare: Mnr. HG Gouws - 1972 se eeufeesbladredakteur


Mnr. Gouws was sedert 1929 lidmaat van die gemeente Dutoitspan. Hy het John Lubbe opgevolg as kassier en het hierdie posisie beklee van 1940 tot 1957. Hy dien terselfdertyd in talle kommissies van die kerkraad, verteenwoordig die gemeente tydens ringsittings en is 'n afgevaardigde na die Kaapse sinodes van 1965 en 1969 en die twee algemene sinodes van 1966 en 1970. Hy was ook lid van die skoolraad van Kimberley.

In 1929 begin hy sy onderwysloopbaan by die Laerskool Dutoitspan in Kimberley en vanaf 1939 tot en met sy aftrede in 1964 was hy die skoolhoof. 'n Onderwysman wat bekend was vir die ywer, takt, ewewigtigheid, deeglikheid en pligsgetrouheid waarmee hy sy taak volvoer het. 'n Eerbare en betroubare man, met 'n gematigde persoonlikheid.

Mnr. HG Gouws was die redakteur van die NG Gemeente Dutoitspan se eeufeesblad in

1972. Hy moes geweldig navorsing vir die blad doen en het notules, koerantberigte, Kerkbodes, verslae, ens. deurgewerk. Hy het die vorige predikante gekontak en met baie van die ouer gardes onderhoude gevoer, soos bv. Tannie Lizzie van Wyk, broerskind van die eienaar van die plaas waarop Dutoitspan-gemeente is, was in 1972 reeds 53 jaar in die gemeente. Sy het die voorreg gehad om op 'n betreklike hoë ouderdom deel te wees van die kerk se 100-jarige feesvieringe. Mnr. Gouws het ook die McGregor-museum besoek waar mev. H Geldenhuys, die gidslektrise van groot hulp was. Hy het dae in die argiewe van Kaapstad deurgebring - feite opgediep en gekruiskontroleer, deur al die stof gewerk en nagte geskryf aan 'n kosbare eindproduk, wat sommer die geskiedenis van Kimberley insluit.

In die wandel het almal hom oom Gouwsie genoem, 'n geliefde, beminde en gewaardeerde persoon.

Wednesday, 19 December 2018

Leraar en kerkraad se kerswense ...

 

Met Kersfees 2018 om die draai, is dit nogal interessant om in die gemeente se geskiedenis te delf en te kyk na een van die gebruike van so ongeveer 50 jaar terug. In die laat 1960's en gedurende 1970's het die kerksraadslede hierdie boekmerkies met die handige bladsynommers van die Bybelboeke by die deure uitgedeel, net voor die kersdiens. Hierdie bladsynommers agterop die boekmerk het verwys na die 1953-vertaling van die Bybel.

In daardie jare was dit die gebruik om die Bybelboeke op die punte van jou vingers te ken. Dominees het die kinders van die kansel af aangemoedig om te sien wie eerste by die gelese gedeelte uitgekom het. Hierdie boekmerkies was baie gewild, veral onder die kinders. Die bladsynommers het hulle sommer baie vinnig op die regte spoor gesit.

Tuesday, 3 April 2018

Eeufeesboek van die gemeente...

Enkele EEUFEESBOEKE van die gemeente is nog beskikbaar. Stel jy belang in wanneer ons gemeente gestig is of wie die vorige leraars was? Moet jou kind 'n taak uitwerk oor Kimberley en sy ontstaanjare? As jy ‘n eksemplaar van hierdie boek wil aanskaf, kontak gerus die kerkkantoor. Dit gaan nog 'n stukkie Africana word.

Lekker lees!