Saturday 26 February 2022

150 genadejare: Mnr. HG Gouws - 1972 se eeufeesbladredakteur


Mnr. Gouws was sedert 1929 lidmaat van die gemeente Dutoitspan. Hy het John Lubbe opgevolg as kassier en het hierdie posisie beklee van 1940 tot 1957. Hy dien terselfdertyd in talle kommissies van die kerkraad, verteenwoordig die gemeente tydens ringsittings en is 'n afgevaardigde na die Kaapse sinodes van 1965 en 1969 en die twee algemene sinodes van 1966 en 1970. Hy was ook lid van die skoolraad van Kimberley.

In 1929 begin hy sy onderwysloopbaan by die Laerskool Dutoitspan in Kimberley en vanaf 1939 tot en met sy aftrede in 1964 was hy die skoolhoof. 'n Onderwysman wat bekend was vir die ywer, takt, ewewigtigheid, deeglikheid en pligsgetrouheid waarmee hy sy taak volvoer het. 'n Eerbare en betroubare man, met 'n gematigde persoonlikheid.

Mnr. HG Gouws was die redakteur van die NG Gemeente Dutoitspan se eeufeesblad in

1972. Hy moes geweldig navorsing vir die blad doen en het notules, koerantberigte, Kerkbodes, verslae, ens. deurgewerk. Hy het die vorige predikante gekontak en met baie van die ouer gardes onderhoude gevoer, soos bv. Tannie Lizzie van Wyk, broerskind van die eienaar van die plaas waarop Dutoitspan-gemeente is, was in 1972 reeds 53 jaar in die gemeente. Sy het die voorreg gehad om op 'n betreklike hoë ouderdom deel te wees van die kerk se 100-jarige feesvieringe. Mnr. Gouws het ook die McGregor-museum besoek waar mev. H Geldenhuys, die gidslektrise van groot hulp was. Hy het dae in die argiewe van Kaapstad deurgebring - feite opgediep en gekruiskontroleer, deur al die stof gewerk en nagte geskryf aan 'n kosbare eindproduk, wat sommer die geskiedenis van Kimberley insluit.

In die wandel het almal hom oom Gouwsie genoem, 'n geliefde, beminde en gewaardeerde persoon.