Die ontvangs, verwelkoming en bevestiging van die predikantspaar was gedurende die naweek van 6-8 Desember 1968. In hierdie dae het die beroep van 'n predikant anders gewerk as deesdae. Hoe ds. Siebert van Ysterplaat-Suid se naam op die beroepslys geland het, kon niemand verklaar nie. Geeneen van die kerkraadslede het hom geken nie en na die geslote stemming, het sy naam die meeste stemme gehad. 'n Gestuurde dus van Bo.
Sommer reg aan die begin is ds. en mev. Siebert met spesifieke uitdagings in die gemeente gekonfronteer, onder andere, 'n slegte finansiële situasie, baie skuld, sommige wyke wat diakenloos was, en 'n onwilligheid om op die kerkraad te dien. Dit het gelei tot die verlies van maandelikse dankoffers, en swak kerkbywoning, veral aanddienste, ten spyte van 'n groot lidmaattal waarvoor die kerkgebou te klein sou raak.
Ds. Johnny Siebert het geen steen onaangeroer gelaat nie. Die diakenprobleem is eerste aangespreek, sodat die maandelikse dankoffer op 'n gereelde basis deur diakens in al die wyke geïn kon word. Strategieë is uitgewerk hoe om fondse op ander maniere, buite die grense van die gemeente, te genereer. Die gemeentesusters wat aan die Vrouesendingbond (VSB) behoort het, het een Saterdag per maand 'n koekverkoping (Die bekende Môremark) voor die ou OK en voor John Orr (beide in Jonesstraat) gehad. Een keer 'n maand het hulle die kos voorsien by 'n vandisie by Basie Heckroodt, asook by Noord-Kaap Vandisiekrale.
Ds. Siebert het ook sy eerste twee salaristjeks vir die gemeente teruggegee, want hy wou nie 'n salaris vat van 'n gemeente wat dit nie op daardie stadium kon bekostig het nie. Die kerkraad was bewus van hierdie gebaar en ook bekommerd oor hulle herder se finansiële posisie. Die gemeente het egter nie weer teruggekyk nie. Onder die pastoriepaar se simpatieke leiding het die finansiële situasie van die gemeente spoedig verbeter.
Die bywoningsyfer van die kerkdienste het toegeneem en spoedig het ds. Siebert vier dienste op 'n Sondag gehou. Twee dienste in die oggend, met die Sondagskool wat tussen die twee dienste gehou is, 'n diens by Ons Huis, die ouetehuis binne die gemeentegrense en dan die aanddiens. Tydens beide oggenddienste is stoele ingedra en die meeste van die tyd het die kerkraadslede in die konsistorie gesit tydens die oggenddienste, sodat daar nog plek in die kerk beskikbaar kon wees. Besoekers van ander gemeentes en kerke was 'n algemene gesig.
Die jaarlikse dankofferbasaar het gegroei tot 'n baie groot gebeurtenis. Ds. Siebert het op dié betrokke Saterdagoggend reeds om 04:00 begin bid vir die dag se verrigtinge. Later jare het van die kerkraadslede saam met hom gebid. Hierdie baie vroeë biduur is gevolg deur die aansteek van die vure om 05:00. Die basaar het die hele dag geduur, met Kimberliete wat van oraloor kom saamkuier het. Hier teen 17:00 is 'n dankbiduur gehou en 19:00 was daar 'n filmvertoning in die saal, wat intussen reggepak is en skoongemaak is. Dié vlytiges was die KJV (Kerkjeugvereniging) en die diakens. Basaarpoedings, koffie, tee en koeldrank is weer tydens die pouse verkoop. So teen tienuur is die saal se deure gesluit na 'n baie genoeglike dag.
Die gemeente sou sy 100-jarige bestaan in 1972 vier. Die kerkraad het egter besluit dat daar geen feesvieringe sou wees, indien die kerk se skuld nie afgewerk is nie. Gedurende 1970 kon die gemeente reeds begin met die opknapping van die kerkgeboue en moes daar dringend na die uitleg van die tuin gekyk word. Daar is 'n boorgat gesink aan die agterkant van die saal, wat die waterrekening in die kerk se guns laat swaai het.
Vroeg in 1971 was alle herstelwerk klaar. Die ou kerkbanke is vervang met ronde banke, daarmee is die sitplektal met meer as 150 vermeerder. Die ou kerkbanke is aan gemeentelede of belangstellendes verkoop om fondse in te samel. Daar was egter meer kopers as banke in die kerk. Mense het die bank gekoop waarop hulle gewoonlik gesit het.
Die ou kansel
is vervang met die huidige kansel wat beter by die ronde kerkbanke pas. Die
buitetoilette langs die konsistorie is aangebou omdat daar groot hoeveelhede
mense tydens die feesvieringe verwag is.
In hierdie breek-en-bou-tyd in 1970, is die eredienste in die saal voortgesit. Ds. Siebert het vir mev. Van der Westhuizen, die orrelis, afgegee en sommer self die gemeente begelei tydens elke erediens. Die klavier (wat vandag nog in die gemeente diens doen) het langs die kateder op die verhoog gestaan en daar het die gemeente ook bewus geword van die dominee se musiektalent.
12 dakwaaiers is geïnstalleer in 'n poging om die Kimberley-hitte te temper. Nuwe matte is in die kerk en konsistorie gelê, nuwe blindings is in die kerk aangebring, die orrel is gediens, gordyne is voor die boonste venstertjies van die saal gehang, en 'n stoorkamer is aangebou.
Die stadsraad het sementblokke op die sypaadjies reg rondom die kerk gelê. Die kerkkompleks het 'n totale verjongingskuur ondergaan. Dutoitspan kon met 'n ligte gemoed die eeufeesjaar binnegaan, want daar was geen skuld nie, selfs die verbeteringe wat aangebring is, was klaar betaal.
Die kerkraad het die geskiedenis van die kerkgebou laat herleef deur die verskillende stadiums uit te beeld op verskillende vlotte. Ook hier het die gemeente se mans moue opgerol en is daar getimmer, gesaag en geverf in die aand. Presiese replikas van die tentkerk, sinkkerk en die vorige steenkerk, saam met die huidige kerkgebou is gebou en foto's van die vlotte kan op die kerk se blog besigtig word. Van die geboue is aan Kimberley se oopmynmuseum geskenk om daar uitgestal te word.
[https://dutoitspan.blogspot.com/p/eeufeesvieringe-1972.html]