Kort neffens sonsak wieg die Genadewa tot stilstand langs 'n verwaarloosde plaasopstal. Ek en die Mooiste Mooi bly in die ou bittereinder sit vanweë een van die mees asemrowende Kalahari-gesigte wat mensegoed nog ooit gesien het ... ‘n Kalahari-sonsak. Sien, sonsak in die Kalahari bly maar net iets besonders. Veral as die warmste hemellig die westelike kim met oranje-goud omsoom, terwyl hy sukkel-sukkel slaapplek opsoek agter die verste sandduin. Dan is die Kalahari op sy heel spoggerigste ... soos vandag.
My oë loop op die werf rond en steek by die bouvallige opstal en buitegeboue vas. Hierdie was sekerlik blou jare gelede 'n pronk plaas met ‘n spog woning vol vreugde, voorspoed en voortreflikheid gewees dink ek by myselwers. ‘n Plek wat oorvloed, sukses en genoegdoening uitbasuin. Maar deesdae, besef ek, deesdae vertel hierdie plaas 'n ander storie. 'n Hartseer hangskouerstorie vol diksand en dwarsduine. ‘n Hangskouerstorie van nie goed genoeg wees nie waar opgee, oorgee, swaarkry, sukkel en droogte die hoofrolle vertolk.
“Alle mensegoed het mos 'n pronkerige kant” fluister die Veilige Gees saggies. “Maar” fluister Hy verder “alle mensegoed het ook 'n kant waaroor hulle met hangskouers staan." Verbaas staar ek met witoë na die verste sien. Soos gewoonlik is die Veilige Gees reg.
Alle mensegoed het 'n mooi kant wat aan die wêreld voorgehou móét word. Dit is nou daardie prysenswaardige deel van ons daaglikse doendinge wat ingekleur is met voortreflikheid, vreugde en voorspoed. Net soos ‘n Moses van ouds is daar in ons gistertye aspekte en ding wat diep weggesteek moet word. Hangskouerdinge waarvan niemand iets mag weet nie.
Moses het mos eens op ‘n tyd 'n Egiptenaar doodgeslaan. Skaamte en vrees het gou-gou veroorsaak dat hy in Midian se woestyn gaan wegkruip het. Met hangskouers en al wat nou vergete en deel van sy gistergoed is, loop ‘n nuuskierige Moses hom in ‘n bos vas wat nie uitbrand nie. Hier roep die Here hom vir Moses op sy naam waartydens Hy Homself voorstel as die God van Abraham, Isak en Jakob.
Meteens herinner die Veilige Gees my daaraan dat daar vir Abraham se kleinseun twee name in die Bybel opgeteken is – Jakob en Israel.
Esau se kleinboetie het net soos alle ander mensegoed, 'n kant gehad waaroor hy geensins trots is nie. Jakob (wat ook soms bekend staan as Jakob die Bedrieër) se hangskouer kant vertel van bedrog, valsheid, leuens en sameswering. Daarmee saam was hy 'n lafaard wat agter sy vrouens en kinders weggekruip het. Waarlikwaar 'n mens sonder inbors wat nie goed genoeg is nie.
Maar Isak se jongste het ook een nag (so is dit opgeteken) met 'n engel gestoei ... tot dagbreek toe. Uit erkenning hiervoor gee die Here vir hom ‘n nuwe naam. 'n Pronkerige naam - Israel - want hy het met God en mens geworstel en nie kopgegee nie. Die kroon van die pronkerige kant van sy lewe is egter dat hy as volksvader van die Israeliete beskou kan word.
“Onthou,” beduie die Veilige Gees verder, “Ek is die God van Abraham, Isak en Jakob. Die God van Abraham die gelowige, Isak die stabiele en Jakob die een met die hangskouers. Ek is nie op soek na die goeie, die mooi, die perfekte, die prysenswaardige nie. Nee, Ek wil jou God wees ... met jou hangskouers en al.”
En net voor ek en die mooiste Mooi uit die Genadewa klim, wonder ek skielik hoekom dit vir ons mensegoed so bitter moeilik is om Hom met hangskouers en al te vertrou.
Eks 3:6 (NLV) = "God sê toe vir hom: “Ek is die God van jou voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Toe Moses dit hoor, het hy sy hande voor sy gesig gehou. Hy was bang om na God te kyk."
Sandkorrel baie seëninge.
Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Gaan maak ook 'n draai HIER.
[Dankie, Valerie Kilian, dat jy so gereeld pitkos met ons lesers deel.]