Showing posts with label Dankbaarheid. Show all posts
Showing posts with label Dankbaarheid. Show all posts

Saturday, 5 September 2026

Senior gemeentelede: Geniet julle lentefunksie

Die lente van die hart:

Met die winter wat finaal agter ons lê (ons hoop so), groet ons die koue en verwelkom ons die warm, lewendige kleure van die lente. Hierdie seisoen herinner ons daaraan dat hernuwing en skoonheid nie net aan die jeug behoort nie, maar dat die hart op enige ouderdom weer opnuut kan blom.

Met die geur van jasmyn in die lug en nuwe hoop in ons harte, hoop ons dat julle hierdie funksie terdeë sal geniet en deel sal maak van julle skatkis vol herinneringe. Mag dit vir jou vandag vrede en 'n glimlag bring!

Ons seënbede vir jou
Mag die Here jou hierdie lente en die res van die jaar ryklik seën met die warmte van Sy liefde en die lig van Sy teenwoordigheid. Mag Hy elke stram lit verkwik, elke bekommernis wegneem, en jou hart vul met 'n diep, standhoudende vrede.
Soos die natuur rondom ons nuut word, bid ons dat jou gees daagliks verfris sal word met nuwe krag, vreugde en dankbaarheid vir die pad vorentoe. Blom waar jy geplant is, omring deur Sy genade.
Amen.

Friday, 31 July 2026

Hoekom glo ek in God?

Ek het Hom nodig.

Hier is my antwoord:

Ek glo in God, want partykeer is die wêreld so "awesome" en dinge werk so goed uit dat my siel uitroep vir iemand om voor dankie te sê.
Dan is dit Hy!
 
Ek glo in God, want soms is die berge en die sonsondergang en die wolke en die maan so mooi dat ek iemand nodig het om te prys.
Iemand moes dit gemaak het.
Dis Hy!
 
Ek glo in God, want partykeer gebeur goed wat so onbeplan is en so seermaak. En dan voel dit of niemand verstaan nie, maar dan onthou ek die spykers in Sy hande en die Man aan die kruis.
Dan weet ek Iemand huil saam met my.
Dis Hy!
 
Ek glo in God, want partykeer is ek so deurmekaar en die lewe so sinneloos en my drome lyk onbereikbaar en dan het ek iemand nodig om saam met my die pad te stap en rigting te wys.
Dan is Hy daar!
 
Ek glo in God, want partykeer is ek so dom en ek doen sulke "stupid" goed en sonde mors my hart en my lewe so op en maak ander so seer.
En Dan het ek nodig dat Iemand vrede en wysheid bring
Dan is Hy daar!
 
Hy maak heel wat ekself verbrou het!
Hy bring genade selfs in seer wat ekself veroorsaak het!
Ek glo in God, want partykeer weet ek niks. Ek het leiding en wysheid nodig in 'n deurmekaar wêreld wat ek nie verstaan nie.

En dan skryf Hy vir my in die Bybel en ek lees Sy Woord en hoor Sy stem en dinge maak weer sin!
Ek glo in God, in Jesus, in sy Gees, want Hy's daar!
Heeltyd! Altyd!
 
In alles waardeur ek gaan, maak nie saak hoeveel keer ek dieselfde fout maak nie, Hy is daar!

Ek glo in God, want ek sien nie kans om ooit alleen te wees of enigiets alleen te doen nie.

Tuesday, 7 July 2026

Koop die tyd uit ...

Hoe ouer mens word, hoe meer en meer besef jy dat 'n R70-horlosie presies dieselfde tyd aangee as 'n R7000 een.
 
Of jy nou 'n R70- beursie het of 'n R700-beursie, die bedrag binne in die beursie se waarde bly dieselfde.
 
Of jou huis sewentig vierkante meter is of sewehonderd vierkante meter, die eensaamheid en hartseer of vrede en geluk binne die huis bly dieselfde.
 
Hopelik sal ons almal eendag besef dat innerlike vreugde en vrede nie van fisiese besittings of rykdom afhang nie.
 
Of jy nou eerste klas of ekonomiese klas in 'n vliegtuig reis, as die vliegtuig val, val jy saam!

Daarom moet ons verstaan dat as ons ware vriende het, boeties en sussies saam met wie jy kan lag en huil en sing en bid en gesels oor alles en nog wat, dat dít eintlik WARE rykdom is ...
 
Geniet die mense rondom jou wat God oor jou pad gebring het, want hul waarde is onmeetbaar.
 
Vertel vir hulle hoe kosbaar hulle vir jou is en hoe belangrik hulle voetspore in jou lewe is.
 
Wees ook dankbaar vir diegene wat jou wieletjies pap maak en jou geduld beproef, want jy leer waardevolle lewenslesse deur hulle.
 
Vergewe en maak reg terwyl daar nog tyd is.
 
Wees dankbaar dat jy 'n gesin en vriende en familie het.
 
Hulle is net vir jou geleen, en eendag gaan jy hul werklike waarde besef as jy hulle leë stoel of plekkie raaksien ...
 
Besef vandag opnuut dat sonder God in jou lewe, alles eintlik 'n sinnelose gejaag na wind is.
 
Ons hou ons besig met soveel dinge wat geen ewigheidswaarde het nie, terwyl ons eintlik moet voorberei vir 'n ewigheidslewe saam in die hemel.
 
So kom ons koop die tyd uit, want tyd is die een ding wat ons nooit weer terug kan kry as dit eers verby is nie.

Friday, 3 July 2026

Darem so waar ...

Ek kan uit Pep uit dra en jy Markhams
Tog het ons al twee klere aan
Jy kan in 'n dubbelverdiepinghuis bly 
en ek in 'n hophuis
Tog het ons al twee 'n dak oor ons kop
Dis net standaard en gehalte ...
Maar aan die einde van die dag, 
gaan staan ons voor dieselfde God en 
ons almal gaan onder dieselfde grond lê.
Wees dankbaar vir dit wat jy het 
en vir wie jy is, 
die enigste persoon waarmee jy moet kompeteer 
is jouself deur te probeer 
om beter as gister te wees!
Here, ek het nie veel nie, 
maar vir dit wat ek het,
sê ek baie dankie ...
dis net uit U genade uit!

Sunday, 14 June 2026

Sondag-wense

In die sagtheid van 'n Sondag
lê nuwe krag.
Dit is 'n dag van genade,
van stilte en van
dankbaarheid vir
alles wat ons ontvang het.
Mag hierdie dag
jou siel voed
en jou hart met vrede omvou!  

[Dankie, Rosetta]

Friday, 29 May 2026

Gedagte uit 'n koevert: Die geheim van 'n gelukkige lewe

Een van die geheime 
van ‘n gelukkige lewe,
is dankbaarheid. 

As ek en jy dit kan regkry 
om met dankbaarheid te leef, 
verander dit die wêreld vir ons. 

Begin ons verby die dinge kyk
wat die lewe vir ons moeilik maak, 
en sien ons die seën wat ons het, raak.

Thursday, 30 April 2026

Die Krag Van Dankbaarheid In 'n Christen Se Lewe

Van al die maniere om God te aanbid, 
is dankbaarheid waarskynlik die een 
wat die meeste deur ons misgekyk word.

Van die insekte tot die diere, 
sien ons hoe God sy seëninge 
oor al sy skepsels uitgestort het, 
maar slegs die mens beskik oor die vermoë 
om deur woorde en dade
uitting te gee aan dankbaarheid. 

‘n Lewe van dankbaarheid lyk egter anders 
as om bloot goeie maniere te hê en dankie te sê. 
Die gawe van dankbaarheid word deel van ons lewe 
wanneer ons ten volle besef wat God vir ons 
uit genade gedoen het en dit ons dryfkrag word
om elke dag vanuit dankbaarheid te leef.

Begin vandag om elke dag dankbaar te leef!

Thursday, 2 April 2026

Dink hieroor: Hoe weet jy iemand het vir God gekies?

Daar is die welbekende verhaal van 'n baie berugte rower wat niks en niemand ontsien het nie. Sy landgenote se grootste vrees was dat hulle paaie met syne sou kruis. 
  
Eendag het die berugte rower sleg tweede in 'n skermutseling gekom en is vir dood langs die pad gelos. Iemand het dié man met ernstige beserings na 'n nabygeleë sendinghospitaal geneem. Na weke van uitstekende behandeling en liefdevolle sorg, het die rower van sy beserings herstel en is hy ontslaan.  

Die rower het besef dat Christene sy lewe gered het en hom met liefde versorg het, ten spyte van sy lewenswyse. Hy onderneem om nooit weer ’n Christen te beroof nie. Dit is sy manier om sy dankbaarheid teenoor hulle te bewys. Die woord het egter vinnig versprei en elke keer as hy iemand wou beroof, het die persoon dadelik gesê: “Ek is ’n Christen!” 

Sy dankbaarheidsgebaar word baie vinnig 'n hindernis in sy beroep en hy besef dat hy 'n manier moet kry om Christene en nie-Christene van mekaar te onderskei. 

Die rower gaan toe terug na die sendinghospitaal en vra vir een van die verpleegsters hoe 'n mens vinnig kan toets of iemand ’n Christen is.

Die verpleegster se raad: "Christene behoort die 10 gebooie en die Onse Vader te ken."  

Hierdie toets het soos musiek in sy ore geklink. Uiteindelik 'n manier om die skape van die bokke te skei. Van toe af het hy sy potensiële slagoffers gevra om die 10 gebooie en die Onse Vader-gebed op te sê! As hulle dit nie kon regkry nie, het hy hulle beroof. Sy probleem voorlopig opgelos.

Die rowertoets: As die rower jou vandag iewers sou raakloop, sou hy jou laat gaan het of sou hy jou beroof het? 

Onthou: Die rowertoets is nie 'n toets of iemand vir God gekies het nie. 'n Gelowige herken jy aan sy leefwyse! Hy leef dankbaar, al gaan dit nie goed nie.

[1 Tessalonisense 5:18, Job 2:10]

Tuesday, 30 December 2025

Mandjie Hoop: Praktiese wenke om positief te bly

* Begin jou dag met ‘n positiewe gedagte.
* Omring jouself met positiewe mense.
* Oefen gereeld om jou gemoedstoestand te verbeter.
* Hou ‘n dankbaarheidsjoernaal.
* Vermy negatiewe selfpraat.


Sunday, 21 December 2025

Dis die laaste naweek voor Kersfees en my se wense vir jou is ...

Mag die wind slegs jou hare deurmekaar woel, 
maar nie jou gees omkrap nie.
Mag die son jou nie skroei nie, 
maar slegs warmte skenk, ook in jou hart.
As die reën op jou val, voel geseënd
As jy guns en gawes ontvang, 
neem dit met dankbaarheid en nederigheid.
As jy vriendskap ervaar, 
koester dit.
As jy liefde ervaar, 
troetel dit.
Mag jou bekers van geloof, hoop en liefde altyd gevul bly.
Mag die geskenke en lesse wat jy van die lewe ontvang, 
groter wees as dié wat met geld gekoop kan word.
Mag jy altyd bewus wees van die kosbaarheid
en kortstondigheid van tyd.
Mag jy veilig loop en ry op die paaie waar jy gaan.
Mag jou opdraandes nie te steil wees nie, 
en mag jou 'bagasie' nie te swaar word nie.
Mag die lewe jou met n sagte hand aanraak.
Mag jy altyd 'n bewustheid, empatie en begrip hê
vir en van die omstandighede van ander.
Mag jy vroegdag opstaan en saans gaan slaap
met 'n hart vol dankbaarheid.
Mag jy die ware Christus-vrede ervaar.

[Dankie, Wilna, dat jy dit met ons lesers deel.]

Friday, 5 December 2025

Wie van ons ken nie 'n persoon wat van kla en kerm hou nie?

DALK IS JY SELF EEN ...

* OM NEGATIEF IN DIE LEWE TE WEES OOR ALLES IS 'N KEUSE WAT JY SELF MAAK.
Ek is seker elkeen van ons het al iemand vermy wat elke dag net kla oor alles, omdat dit vir jou voel dat dit maak nie saak wat jy doen of sê nie, hulle verkies om in alles die NEGATIEWE te sien.

* DIE PROBLEEM MET 'N NEGATIEWE GESINDHEID IS ...
Jy trek mense AF na jou NEGATIEWE vlak toe, en POSITIEWE mense hou NIE daarvan om afgetrek te word NIE - hulle vermy jou liewer.
Mense wat NEGATIEF is en oor ALLES kla, doen GEEN MOEITE om iets in hulleself en hulle lewens te VERANDER NIE. Dit verg te veel energie en dis makliker om op die ou trant aan te gaan.

* NEGATIEWE MENSE LEEF NIE DANKBAAR NIE ...
Jy sien nie die mooi om jou raak nie.
Indien jy wel dankbaar is, gaan dit altyd gepaard met 'n MAAR ... 

ONTHOU:
👍 As JY 'n persoon is wat voortdurend kla en met alles foutvind, moet jy weet dat jy GEEN GELOWIGE se LIEFDE kan uitstraal na ander toe NIE.

👍 Ons Skepper het vir jou 'n BREIN, ENERGIE en KREATIWITEIT gegee, GEBRUIK dit.

👍 As JY TYD het om te KLA en KERM, dan het JY TYD om iets daaraan te DOEN. Raak stil en kom in aanraking met jou Skepper - Hy leef immers binne jou.
 
👍 Laat ons weer BEGIN om ons KLAENDE vriende opnuut AAN TE MOEDIG om saam met ONS 'n VERSKIL te MAAK.

👍 Ons kan slegs 'n VERSKIL maak, as ons met nuwe oë na die wêreld om ons kyk en die mooi raaksien.

👍 Leef dankbaar!!

Tuesday, 2 December 2025

Mandjie Hoop: Deel uit en gee weg

Van die dinge wat jy kan hou selfs nadat jy dit weggegee het,
is 'n dankbare hart 
en 'n glimlag ...

Tuesday, 30 September 2025

Tiendemaand: Ons sê dankie!


Oktober is tradisioneel tiendemaand-dankoffermaand. Op hierdie manier sê ons op ‘n spesiale manier dankie vir die Here vir al die genade, seëninge en liefde wat ons op 'n daaglikse basis uit sy hand ontvang.
Met hierdie bydrae bevestig ons net dat alles ‘n geskenk vanuit sy almagtige hand is!

Friday, 26 September 2025

Die skoene

Ek was vars gestort en netjies geskeer. Ek het my mooi das nog eenkeer reggetrek en toe vertrek. Ek het net betyds by die kerk bank ingeskuif en wou net my oë toemaak in gebed toe ek uit die hoek van my oog n paar skoene sien wat langs my ingeskuif het.
 
Ek het gesug ... was dit nou nodig om so naby aan my te sit dat ons skoene aan mekaar geraak het? Ek het my oë gesluit ... ONSE Vader ... toe onthou ek dat die Here ook sy vader is ... Maar nog steeds ontsteld wonder ek of hy nie net sy skoene kon skoonmaak nie. Die skoene se punte was afgekrap ... 'n dik laag stof het op die skoene gelê en sowaar daar was nog 'n gat aan die kant van die skoen.

Sekerlik het die man geen skaamte of trots nie ... DANKIE VIR U SEËNINGE het die gebed aangegaan. "Amen" het die paar skoene langs my hardop gesê.

Ek het so hard probeer om op die gebed te konsentreer maar elke keer het my oë gedwaal na die paar skoene langs myne.

Sekerlik moet ons altyd probeer om op ons beste te lyk wanneer ons by die kerk deure instap. Wel sekerlik het hierdie paar skoene langs my nie baie moeite gedoen nie.

Die gebed het geëindig en die lofsange het begin. Die paar skoene langs my het met volle oorgawe saamgesing. Met oë gesluit en hande omhoog het die skoene uit volle bors met diep oortuiging die lofliedere aan ons Skepper geoffer.

Ek was seker dat nie net die Here nie maar die hele dorp hierdie man se lofliedere gehoor het.
En toe kom die tyd vir die offergawe. Ek het n stewige bydrae ingegooi, en toe die bordjie aangegee na die skoene langs my. Daar was diep in die sakke gekrap ... eers die een en toe die ander een en diep onder in die sak is sy bydrae uitgehaal en met 'n helder geklink het die muntstukkie in die pragtige silwer bord geval.
 
Ek het gesteurd na die skoene langs my gekyk maar hy het so 'n salige uitdrukking op sy gesig gehad. So dankbaar dat hy wel iets gehad het om te gee.

Toe was dit tyd vir die Woord. En laat ek nou maar eerlik wees dit het my tot in my siel verveel, tot ek na die skoene langs my se gesig gekyk het.

Groot trane het by sy wange ofgerol ... Hy het met diep aandag geluister ... en ek het gewonder wat ek dan gemis het.

Ek was so besig met die skoene en die oordeel in my hart dat ek die seëning van die Woord totaal en al gemis het. Sy hart was vol ... sy honger was gestil ... en ek, ek het gewonder waarom ek dan nog so leeg gevoel het.

Toe besef ek; ek het nie soos die skoene langs my gekom met 'n verwagting nie ... daarom het ek niks ontvang nie en sy beker loop oor. Golwe skuldgevoel het oor my gespoel en ek het geweet die stukkende skoene het my vandag 'n baie duur les geleer.

Dit was ons gewoonte om altyd na die diens vreemdelinge te laat welkom voel, en na die slot gebed het ek my hand na die skoene uitgesteek.
 
Die gesig was oud en verrimpeld van baie son en weer en die hand wat myne vasvat was vol eelte.
Die skoene het na my gekyk en gesê: My naam is Charlie en ek is so bly om jou te ontmoet. Sy oë was vol hartseer en pyn.

Ek kom al 'n paar maande hier maar jy is die eerste om my te groet. Ek weet my kleredrag is nie op standaard nie maar ek probeer baie hard om altyd op my beste te lyk, en ek politoer gereeld my skoene maar die lang stap hierheen op die stof pad laat dit altyd weer vuil en vol stof.

My hart het begin pyn en ek het swaar gesluk aan die groot knop in my keel. Ek was stil, want ek het geweet as ek iets sou sê sou my woorde leeg en blikkerig klink teenoor die opregtheid van die stukkende skoene.

Ek het weer sy vereelte hand gedruk en toe met trane bely: Jy het my siel aangeraak en vandag het jy my 'n groot les geleer ... dat die mooi van die mens in sy hart lê en nie in sy blink nuwe skoene nie.
Dankie dat jou skoene vandag vir my 'n groot les geleer het. Dat daardie vuil stukkende skoene my geleer het om anders te sing, om meer intens te luister en om altyd met 'n verwagting te kom sodat ek vol en tevrede kan uitstap.

(Internet: Skrywer onbekend)

Monday, 18 August 2025

Gebed: Aan die begin van 'n nuwe dag.

Here, vanoggend is ons dankbaar dat U 'n nuwe dag aan ons lewens toegevoeg het. Dankie dat ons weet dat U reeds voor ons uit loop. Dankie dat U ons Saligmaker en Verlosser is. Ons kom vanoggend opnuut en gee weer ons hele lewe, al ons kommer, probleme, hartseer, ongelukkigheid in U hande oor! Here, ons sal op U vertrou vir ons rus en vrede. In Jesus se wonderlike Naam alleen. Amen

Tuesday, 15 July 2025

Mandjie Hoop: Dankbaarheid genees ...

Dankbaarheid genees jou ...
* van onvergenoegdheid.
* van moegheid.
* dikwels van neerslagtigheid - dink oor alles wat jy het.
* van jaloesie en afguns.
Dankbaarheid laat jou stilstaan - omdraai en laat jou vir Jesus sien.