Showing posts with label Potpourri. Show all posts
Showing posts with label Potpourri. Show all posts

Tuesday, 11 June 2024

Terugflits: Moenie oppasser verkwalik

Gewoonlik is daar 'n buurvrou, vriend of familielid wat darem bereid is om na 'n mens se plante en diere om te sien wanneer 'n mens nie tuis is nie. Jy is dalk ook bereid om dit vir iemand anders te doen.

My vriendin Monnick doen so 'n uitsonderlike werk met ons diere wanneer ons nie tuis is nie dat hulle amper spyt is wanneer ons terug is.

Terwyl my broer diensplig gedoen het, moes ek sy slange versorg. Ek was net nege jaar oud, maar hy het my goed touwys gemaak. Om na die slange om te sien was vir my aanvaarbaar, maar om die muise aan die lewe te hou wat weer vir die slange gevoer moes word, was 'n groot uitdaging.

Onlangs het my skoonsus haar man se visse versorg terwyl hy 'n paar weke oorsee was. Die visse het op 'n streep begin vrek. Sy was moedeloos, want sy het al die opdragte wat aan haar verduidelik is so sorgvuldig moontlik uitgevoer. Dit is maklik om honde en katte namens iemand te versorg. Delikate goed soos visse en fyn plantjies is 'n ander storie.

Dalk voel die diere en die plante aan die roetine het verander. Dalk is dit net effens minder of meer water of kos of op 'n ander tyd van die dag as waaraan hulle gewoond is. Dalk mis hulle hul eienaar.

Dit mag wees dat hulle uit protes 'n eetstaking onderneem en so hul eie ondergang bewerkstellig.

As Pollie dus met jou tuiskoms onderin die voëlhok lê of jou fyntuin lyk soos 'n paar dae ná die runderpes, is dit nie noodwendig omdat iemand nie omgee of tyd daarvoor ingeruim het nie.

Dit is dalk net omdat die een wat die oppaswerk moes doen, nie presies dieselfde soort aanvoeling as jy het nie.

[Bron: Noordkaap - Potpurri - Karin Muller]

Tuesday, 22 August 2023

Potpourri: Misdaad knou die kraai in jou

Met die jaareinde wat nader kom, raak mense meer as gewoonlik bewus van sekuriteit. Terwyl vakansieplanne gemaak word, word oppassers vir hond en huis gereël. Waarskynlik meer vir die huis as vir die hond.

Beleggings word beveilig. Dokumente met vertroulike inligting word in kluise toegesluit. Kluise word agter slot en grendel beveilig. Die sleutels van dié slotte word veilig bewaar.

Dekades gelede het ons 'n voëlpark besoek. Een van die besoekers het vir die kraai in 'n hok 'n blink muntstuk gegee. Die swart geveerde het die muntstuk in sy snawel geneem en ons met sy blink ogies aangestaar. Hy het rondgekyk en 'n sprong af grond gegee. Toe het hy die muntstuk sorgvuldig onder die waterbak weggesteek. Hy het 'n oomblik getalm, besluit dit is nie veilig nie en die muntstuk in sy nes gaan wegsteek. Weer was hy onseker. Ons het 'n halfuur staan en kyk hoe die arme voël plek na plek beproef. 

Sonder rus vir sy gemoed.  

Die samelewing dwing ons waarskynlik om soos hierdie kraai op te tree. Jy kies 'n wagwoord vir jou rekenaar, maar besluit die stelsel is nie veilig nie. Jy moet jou wagwoord verander.

Later sit jy met wagwoord op wagwoord op wagwoord. Een vir jou rekenaar by die werk. Een vir jou rekenaar by die huis. Een vir die program waarop jy werk. Een vir die bank.

Te midde van die diefwering, sekuriteitskameras, talle wagwoorde en persoonlike identifikasienommers raak diegene wat nie voorheen paranoïes was nie, effens onrustig.

En die kraai binne-in ons wonder: "Bestaan daar 'n plek wat waarlik veilig is?"    

*Noordkaap 22 November 2017 - Karin Muller

[Dankie, Anoniem wat die uitknipsel gestuur het. Besoek gerus Netwerk24 (Noordkaap Bulletin) se gereelde rubrieke - daar is altyd iets in hierdie rubrieke om aan te herkou.]