Showing posts with label Gedig. Show all posts
Showing posts with label Gedig. Show all posts

Sunday, 21 June 2026

Vadersdagwense

Pa doen soveel vir my
op eg vaderlike wyse.

Pa gee soveel liefde

daarvan is oorgenoeg bewyse;

My beste wense vir Vadersdag,

gelukkig en ook uitsonderlik,

Want Pa verdien net die beste ...

Pa is met een woord:

WONDERLIK!


[Dankie, Suzann, vir jou wense.]

Thursday, 11 June 2026

Uitreik: Plakkerskind

Ek deel 'n kamer met my pa, ma en boeties
die ryk mense noem ons die wit plakkerskamp
met hul groot karre bring hul pakke kos en klere
altyd mooi aangetrek en baie vriendelik
staan dan in 'n ry en wag ons beurt af
ons kinders sal opgewonde aan mekaar stamp.

Pappa kry nie werk nie
en mamma huil as ons slaap
dan dink ek aan die tannie
met die mooi klere
huil sy ook
is haar seuntjie ook af en toe honger
speel hy ook met plastiek gewere
ek hoor baie die woord "Armoede"
seker ons bont klere en sinkplaathuisies
daar is dae wanneer ons lekker speel en lag
dan vergeet ek van die mooi, ryk tannie
tot op ‘n dag wanneer almal uit hul huisies skarrel en bondel.

Nou gaan ons weer in 'n lang ry wag
ek is hier gebore, en dit is al wat ek ken
hier is 'n hondjie
maar is almal se hond
by my is sy naam Jasper
ander roep hom anders.

My voete is kaal en vuil
want dit het my skoene gewen
ek is baie lief vir my twee boeties
al maak ons mekaar seer
pappa en mamma het ook vir ons baie van JESUS se LIEFDE geleer.

@tertius

[Geleen op FB]

Getuienis-uitreik:
Kontak Coen by: 082 821 0217 vir inligting.

Friday, 5 June 2026

Gedagte uit 'n koevert: Die eie-ek

Elke dag word daar gesnoei
Aan die eie-ek wat nog iewers broei
Altyd groei daar weer 'n loot
Wat jy gedink het, is lankal dood

So moet die Snoeier aan jou werk
Elke dag en dit maak jou net sterk
Die middelstam waaraan die takke groei
Sodat dit elke jaar net mooier bloei.  

[Dankie, Mariet Hobbs]

Sunday, 10 May 2026

Moedersdag: Gedig

Ma, toe ons klein was,
wou jy ons vashou op jou skoot
en jou liefde in ons oortjies fluister.
Maar ons het honde en maats
en sonlig buite gesien
en ons uit jou arms losgewikkel.

Nou kom ek terug soos die één melaatse
wat darem onthou het
voordat dit te laat was.
Ek het Ma lief, 
want ek wéét nou
die sonlig was nooit buite nie:
die sonlig was Ma. 

[Dankie, vir die deel, Ann]

Friday, 1 May 2026

Werkersdaggedig

gelukkige werkersdag
veral vir die wat vandag
steeds aan die gang is;
en vir die ander - wees dankbaar.
onthou jou werkers
is jou heel grootste bate -
behandel dit met dieselfde respek
as wat jy al die ander blinker bates hanteer.

[Laat ons Lindie van Gass se woorde op Werkersdag 2026 beaam.]

Friday, 30 January 2026

Oorwinningslied

Ek sien in my gees die glorie
En die almag van die Heer
Die Allerhoogste wat in liefde
Oor sy Koninkryk regeer
Hy’t belowe aan die einde
Op die wolke kom Hy weer
Hy’s Koning Hy regeer

Loof Hom, prys Hom, halleluja (3x)
Hy’s Koning Hy regeer

Die Here is ons vesting
Wat vir altyd sal bly staan
Hy beskerm elke mens
Wat in geloof na Hom toe gaan
Hy’s ons skuiling, Hy’s ons wapen,
Hy’t die vyand reeds verslaan
Hy’s die rots wat ewig staan

Loof Hom, prys Hom, halleluja (3x)
Hy’s die rots wat ewig staan

Kom deel nou in ons loflied
Hef jou hande op na bo
Blaas basuine, slaan op dromme
En kom dans voor God se oë
Kom leef in die oorwinning
Van sy Woord waarin ons glo
want sy Woord sal ewig staan

Loof Hom, prys Hom, halleluja (3x)
Sy Woord sal ewig staan

[Bron: Klik HIER]

Thursday, 29 January 2026

Dink hieroor: Soos jy saai - sal jy maai

Dit is raar maar waar,
Diegene van wie jy nie hou nie,
vind jou ook naar.
Die rede hiervoor is duister.
Nogmaals besef jy dat wanneer jy suur is
en die lewe jou teister
Is vriende skaars en moeilik te vinde.
Wanneer jy kwaad is en vir almal kwel
wens hulle jy bly stil en gaan na die h*l.
Maar as jy glimlag en 'n ander deuntjie sing
Vergader vriende vir die geluk wat jy hul bring
Dit is dus raar maar waar
Diegene van wie jy hou, hou ook van jou!

[Dankie, Janeanne)

Tuesday, 6 January 2026

Mandjie Hoop: Kaalvoetkind-gedig

Mag jy altyd ’n kaalvoetkind
van Afrika bly
wat haar antwoorde by
die sonsondergang kry
en mag jou seëninge oor
jou neersak soos
’n laatmiddag-reën.
Mag die nagapies
jou drome veilig hou
en mag jy altyd
met jou voete plat
op die grond loop.
Mag die sonbesies
met die lied in
jou hart harmoniseer
en die bosveld altyd
jou toevlug wees.

-Kaalwoorde-

[Bron: Klik HIER]

Thursday, 25 December 2025

A Christmas Letter from Jesus

When you look for me at Christmas, 
you won’t need a special star.
I’m no longer just in Bethlehem, 
I’m right here where you are.
You may not be aware of me 
amid the celebrations.
You’ll have to look beyond the stores 
and all the decorations.
But if you take a moment 
from your list of things to do,
To close your eyes and say a prayer, 
I’m waiting here for you.
You’re the one I want to be with. 
You’re the reason that I came!
And you’ll find me in the stillness
Where I’m whispering your name.

[Thank you, Rina, for sharing]

Friday, 19 December 2025

Gedig: Kruise langs mekaar

Elke huis het sy kruis,
’n las wat net die draer ken.
Ek dra myne, jy dra joune - nie omdat ons wil nie,
maar omdat dit ons s'n is.

Jy sou myne optel as jy kon,
ek sou joune dra as ek mag.
Maar ’n kruis pas net op een skouer,
en tog, loop ons langs mekaar,
tree vir tree,
jou sug is my gebed,
my las is jou fluistering in die nag.

Dis ligter so - nie omdat die kruis krimp nie,
maar omdat ons weet,
ons is nie alleen nie.

Jy bid vir my, ek bid vir jou,
want dis altyd makliker
om die hemel te storm
vir iemand anders se seer
as vir jou eie stukkend.

Maar miskien,
net miskien,
is dit presies waaroor vriendskap gaan -
nie om die kruis weg te vat nie,
maar om dit te sien,
te erken,
en saam te loop,
langs mekaar,
deur die stof,
tot by lig.

[Skrywer onbekend]

Monday, 15 December 2025

Gebed: Here, hoor ons pleit ...

Koning Jesus, Barmhartige Here,
U het vertel van ʼn Samaritaan
wat in plaas van blindweg verder te gaan
wyn en olie gegiet het op iemand se sere.

Nederige Jesus, sorgsame Koning,
vir blindes, bedelaars, siekes en
sondaars het U ʼn kleim afgepen
in u ryk - in God se ewige woning.

Here, hoor ons pleit dat leiers deur u Gees
in hul kombuis ʼn hoendersop sal kook
ʼn doepa sal brou wat vir hulle en ook
ons chaotiese wêreld tot genesing sal wees!

Want aan U behoort die koninkryk
en die krag
en die heerlikheid 
tot in ewigheid. 
Amen

Ds. Schalk van Wyk

[Klik HIER: Gebed vir wêreldleiers]

Sunday, 30 November 2025

Kerslied: Somerkersfees

1. Welkom o stille nag van vrede,
Onder die suiderkruis,
Wyl stemme uit die verlede
Oor sterrevelde ruis.

2. Hoor jy hoe sag die klokke beierin eeue-oue taal.
Kyk, selfs die nagtelike swye
vertel die ou verhaal.

3. Voel jy ook nou Sy warm liefde
As ons die dag gedenk,
Toe Hy sy Seun aan ons gegee het –
Ons grootste Kersgeskenk.

KOOR
Kersfees kom, Kersfees kom -
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.

* Die eerste twee verse is deur Koos du Plessis (1945-1984)) geskryf in 1971 en die derde deur Jannie du Toit in 2001.

[Klik HIER om na 'n video te kyk. Bron: HIER ]

Friday, 28 November 2025

Gedig

"U wat lang afstande te voet afgelê het
in die bloedige somerson
oor stowwerige en gevaarlike paaie
van 'n dor en arm land;

U wat heeldag geskaaf en gesaag het
aan jukke vir osse
en planke vir tafels vir klante
wat soms ook vitterige was, dorpstimmerman;

U wat die houtkruis van skande gedra het
nadat hulle U met stokke geslaan het
en met die vuis en die gesel,
en U die ganse nag nooit kon rus nie;

kyk, Here, ek kom na U met my las
omdat ek moeg is van mense en
die vrees dat ek mag misluk,
en moeg is van wonder oor wat die moeite werd is,
en moeg is om alleen te dra - Help my! "

Uit: Die goeie sal lewe - I.L. de Villiers

Friday, 14 November 2025

Gedig: Die biddende hande

Die "hande in gebed gevou"
is meer as kuns - veel meer.
Dit is 'n sieleskepping;
'n offer tot die Heer ...
'n Meesterskeppingswerk is dit,
van liefde onbeperk;
simbool van onbaatsugtigheid -
dog onbekroonde werk.
Die hande ru, deur werk verweerd,
is 'n toonbeeld van die man
Wat in sy plig, sy roeping,
beantwoord aan Gods plan ...
En hy wat in die Heer se Naam
iets prysgee of selfs ly,
Sal in die "Hemelsaal van Roem"
met lof erkenning kry.
En wie kan sê met watter maat
word ons talent gemeet -
Wie in ons Hemelvader's oog
die grootste is? Wie weet?

[Helen Steiner Rice]

Monday, 20 October 2025

Gebed: Dankie vir U beskerming Here

Dankie dat U ons beskerm al voel ons bang
Heer, dankie dat ons al U wonderwerke mag sien
Dankie dat U ons die keuse gee of ons U wil dien
Ons hoef nie in vrees te lewe nie
Want U is die eindpunt waarna ons strewe
Heer, neem ons dankgebed aan in hierdie kort gedig
U is die rede waarom ons kan stap oor hierdie brug
Heer, U gee ons soveel geleenthede om U aan te neem
Help ons terug waar ons van U begin vervreem het
U ken al die opstruksies waarteen ons daagliks vaskyk
U ken al die tekens wanneer ons begin afwyk
Maar my hart jeubel en juig op hierdie dag
Weereens maak U ons oë oop en wys ons u krag
Nog ‘n geleentheid word geskep waarin ons kan terugkeer
Want in U liefde vergeef U ons keer op keer
Dankbaar dink ons terug aan Christus op die kruis, Amen.

Friday, 17 October 2025

Gedig: Geen tyd

Ek het gekniel om te bid, 
maar soveel het my te doen gestaan, 
dus was dit van korte duur.

Ek moes my na my werkplek haas, 
anders kon dié aan wie ek iets skuld, 
my aangluur.
Derhalwe het ek gekniel,
gou 'n gebed gedoen; 
en vinnig van my knieë opgestaan.

My Christelike plig was tog nou nagekom, 
so my siel kon in rustigheid weer voortbestaan.
Die ganse dag het die tyd ontbreek 
om 'n woord van bemoediging teenoor iemand te spreek.

Geen tyd is gemaak om met vriende oor Christus te praat - 
hulle kon met my die draak steek.
Geen tyd, geen tyd, te veel om te doen, 
dit was my voortdurende klaaglied
Geen tyd afgestaan aan siele in nood, 
maar eindelik baie tyd: 
dít wat die dood aan my bied.

Met neergeslane oë het ek voor die Here verskyn
en daar moes ek staan en bewe,
Want in Sy hand het God 'n boek gehad: 
dit was die Boek van die Lewe.

"Jou naam verskyn nie in my Boek nie," sê God toe Hy met my spreek,
"Ek wou dit op 'n keer neerskryf, maar die tyd daarvoor het ontbreek".

('n Variasie op verlede week se TYD-gedig. Klik HIER om dit weer te lees!)

Friday, 10 October 2025

Terugflits: Gedig - Tyd

Ek kniel en bid, maar nie te lank
Want daar is soveel te doen
Ek moet my jaas want pligte wag
te veel om op te noem.

Ek prewel 'n paar woorde gou,
Spring van my knieë op
My plig as Christen het ek gedoen,
My hart kan rustig klop.

Dwarsdeur die dag was daar geen tyd
'n Trooswoord uit te spreek;
En om van Christus te getuig
Het my gans ontbreek.

"GEEN TYD, GEEN TYD, te veel te doen
Dit laat ek steeds versteen.
Geen tyd oor armes te ontferm
Toe breek my sterfdag aan.

En toe ek voor Gods troon verskyn
En skuldig staan en bewe
Sien ek die Groot Boek in sy hand
Die Boek van Eewge Lewe.

God blaai daar in sy Boek en sê:
"Jou naam staan hier nie in nie.
Ek wou dit eenmaal hierin skryf,
Maar kon die TYD nie vind nie.

[Uit: Dorstfontein NG Gemeente Dutoitspan Maandblad Oktober 1986]

Thursday, 18 September 2025

Think about it: Be that ONE today

One tree can start a forest.
One smile can begin a friendship;
One hand can lift a soul;
One word can frame the goal;
One candle can wipe out darkness;
One laugh can conquer gloom;
One hope can raise your spirits;
One touch can show you care;
One life can make the difference,
BE THAT ONE TODAY.

[Unknown]

Friday, 5 September 2025

Gedig: En as hulle jou nie meer liefhet nie ...

En as hulle jou nie meer liefhet nie ...

Daar kom ’n dag
wanneer jy nie meer in hul oë sal glim nie. 
Wanneer jou naam nie meer ’n sagte heimwee bring nie,
maar ’n stilte.
’n Afdraai in hul pad.

En jy sal wonder ...
Was ek te veel?
Te min?
Te hard, te sag, te reg, te verkeerd?

Maar hoor my nou:
Jy was nie gemaak om jou waarde te soek in 
hande wat jou laat val nie.
Jou lig is nie minder net omdat iemand anders 
hul oë toeknyp.

Liefde wat wegstap,
maak plek vir liefde wat sal bly.
Die regte harte sal jou vind 
harte wat nie net jou glimlag liefhet nie,
maar ook jou stiltes,
jou foute,
jou groei.

Jy hoef nie kleiner te wees
om gehou te word nie.
Jy hoef nie anders te wees
om waardevol te wees nie.

Jy is genoeg.
Meer as genoeg.
En jy sal weer liefgehê word 
nie ondanks jou krake nie,
maar juis daardeur.
©annelie janse van rensburg 

© Outeursreg voorbehou. Mag gedeel word met erkenning – nie herskryf of as eie gebruik. 
Klik HIER vir die oorspronklike weergawe. 

[Aangestuur deur Rosetta Venter]

Wednesday, 27 August 2025

'n Gedig vir Woensdag: Vir 'n pepermossie

Voortaan sal ek winterskemer
Vleilangs loop
En droë takkies
van geraamte struike stroop

Die wilgers sal gekruisig
Aan die hemel hang
En ek sal, dood menslik
Na jou terug verlang

Soos na die somer se rinkink
Van vinke in palmiete
En die onbeholpe liefde
Van wildeganse tussen riete

Voortaan sal ek winterskemer
Vleilangs loop
En droë takkies
van geraamte struike stroop

-Willie van der Merwe-

[Dankie, Liz, vir die aanstuur van vreugde. Klik HIER vir die gedig.]