Showing posts with label Markus. Show all posts
Showing posts with label Markus. Show all posts

Wednesday, 11 March 2026

Mossiestilte: Mar. 7:37 + 8:18

En hulle was uitermate verslae en het gesê: Hy het alles goed gedoen: die dowes laat Hy hoor en die stommes praat.


Het julle oë en sien julle nie? En het julle ore en hoor julle nie?

In Gen. 1 lees ons hoe God alles geskape het en telkens gelees: En God het gesien dat dit goed was.
Ten spyte daarvan is ons blind vir die krag en liefde van God; soms hoor ons nie as God praat nie.
Die Here doen wonderwerke in ons lewens maar ons besef dit nie.
Die Here spreek en stuur ons op die regte pad maar ons soek ons eie weg.

Here, ek dank U vir die rus wat ons deur die nag gehad het. U pas ons op, terwyl ons dit net as vanselfsprekend aanvaar dat ons elke oggend wakker sal word. Dankie vir u genade.
Ek bid dat U, ons ore en oë sal open, om u stem te hoor en u wonderwerkende krag te kan aanskou. Heilige Gees ek bid dat ons sal verstaan as U, vir ons leer wat u wil is deur u wonderwerke. (verg. Mar. 8:21). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Friday, 25 July 2025

Geen tyd ...

Ons probeer om God te beperk tot binne die kerk op 'n Sondagoggend ...
Miskien ook Sondagaand ... 
En binne die onwaarskynlike diens op 'n weeksdag.

In tye van siekte, wil ons hom graag daar hê ...
En, natuurlik, by begrafnisse.

Nietemin, gedurende werktyd en wanneer ontspan word, 
het ons nie vir Hom tyd of plek nie ...
Daardie deel van ons lewens, na ons mening ... 
Kán ons, en behoort ons, self te behartig.

Mag God my vergewe dat ek ooit so gedink het ...
Dat daar 'n tyd en 'n plek is waar HY nie die EERSTE plek in my lewe moet inneem nie.

Ons behoort voortdurend tyd te hê om alles in herinnering te roep wat HY vir ons gedoen het.
Jesus het gesê: "Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader..." (Mar. 8:38 ).
Ja, ek hét God lief.
HY is die bron van my bestaan en my Redder.
Hy hou my funksioneel elke en iedere dag.
Sonder Hom sal ek niks wees nie.
Sonder Hom is ek 'n nul.
Maar, ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee (Fil. 4:13).

*DIE GEDIG** *

Ek het gekniel om te bid,
maar soveel het my te doen gestaan,
dus was dit van korte duur.

Ek moes my na my werkplek haas,
anders kon dié aan wie ek iets skuld, my aangluur.
Derhalwe het ek gekniel, gou 'n gebed gedoen;

en vinnig van my knieë opgestaan.
My Christelike plig was tog nou nagekom,
so my siel kon in rustigheid weer voortbestaan.

Die ganse dag het die tyd ontbreek om 'n woord van
bemoediging teenoor iemand te spreek.
Geen tyd is gemaak om met vriende oor Christus te praat -
hulle kon met my die draak steek.
Geen tyd, geen tyd, te veel om te doen,
dit was my voortdurende klaaglied.
Geen tyd afgestaan aan siele in nood,
maar eindelik baie tyd: dít wat die dood aan my bied.

Met neergeslane oë het ek voor die Here verskyn
en daar moes ek staan en bewe,
Want in Sy hand het God 'n boek gehad:
dit was die Boek van die Lewe.
"Jou naam verskyn nie in my Boek nie,"
sê God toe Hy met my spreek,
"Ek wou dit op 'n keer neerskryf,
maar die tyd daarvoor het ontbreek."

Sunday, 5 January 2025

Mossiestilte: Mark. 16:20

Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. 

God wil aan jou sy krag openbaar, deur jou geloof sodat jy sy woord kan verkondig. Die Here sal saam met jou werk en jou dade sal met tekens bevestig word. God wil sy Naam verheerlik deur jou dade in sy woord. Preek en leef die woord van God uit soos wat God jou gemaak het met die talente wat Hy vir jou gegee het.

Dankie Here, vir die oorvloed van talente en strome van seën. Hoe sou ek kon oorwin op my eie, maar U gee my u oorwinning daagliks. Ek sal al u werke doen, sodat u Naam verheerlik kan word. Ek weet dat hoe swakker ek is, hoe sterker is U, my Here, en my God. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel.]

Sunday, 1 December 2024

Mossiestilte: Mar. 11:16

en Hy het niemand toegelaat om enige voorwerp deur die tempel te dra nie.

Jesus reinig ten eerste die tempel, die plek van aanbidding vir God die Vader. 
Die moment toe hy die geld God, uit die tempel verban, het Satan gesoek om Hom uit die weg te ruim; Hy het Satan se ontspanne plek van sonde vernietig.
Hy het nie eers toegelaat dat iemand iets deur die tempel dra nie, dit is slegs 'n aanbiddingsplek aan God die Vader. 
 
Jy is die tempel van God. Is jou tempel skoon? Dra jy iets daardeur wat nie daar hoort nie? Soek jy 'n kortpad deur God se leer en wette na aardse rykdom?
Ondersoek en antwoord self jou vraag en reinig jou tempel tot eer van God alleen.

O Here, my God, U alleen moet in my tempel bly. Ek wil nie ander gode in my tempel hê nie. Ek wil niks onheiligs dra deur my tempel nie. U alleen wil ek aanbid en my tempel moet met die Heilige Gees gevul wees, 'n aangename geur vir die Vader. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel.]

Saturday, 23 November 2024

Kerkgenotjies: Leuenaars

Die predikant kondig aan dat hy die volgende Sondag 'n spesiale preek oor leuenaars gaan lewer. Hy vra die gemeente om solank Markus 17 te lees.

Die volgende Sondag vra hy dat almal wat Markus 17 gelees het, hulle hande moet opsteek.

Omtrent die hele gemeente steek hulle hande op.

"Dis nes ek gedink het," sê die dominee. "Die Markus-evangelie hou by hoofstuk 16 op." 

Wednesday, 2 October 2024

Mossiestilte: Mark. 10:49

Toe gaan Jesus staan en sê dat hy geroep moes word; en hulle roep die blinde man en sê vir hom: hou goeie moed, staan op! Hy roep jou.

Staan op, Jesus roep jou!

Is daar dalk 'n "blinde kol" in jou lewe? Is daar 'n probleem wat jou wil onderkry? Miskien wil jy net opgee op hierdie stadium. Hou goeie moed, staan op, want Jesus roep jou. Jesus sal jou blindheid herstel, sodat jy met wysheid die probleme in jou lewe kan oorkom. 

My Almagtige Vader, ek kom en heilig u Naam. Laat u wil in my lewe en omgewing geskied. net soos wat dit in die hemel geskied. Herstel my blindheid, Here, en laat my die vyand ontbloot en uitken in my lewe. Somtyds kan ek nie die rigting sien wat ek moet inslaan nie. Ek sukkel soms om reg en verkeerd te kan onderskei. Here, Seun van die Allerheiligste God, help my! Ek het U wysheid en sig nodig om verder die lewe in te gaan. Laat u koninkryk ook in my lewe kom. In Jesus Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel.]