Thursday 31 August 2023

Handevatprojek: !XUN ALFA-gemeente


Kom ons as 'n gemeente vat hande en help die !XUN ALFA-gemeente om hulle kerkvloer te herstel. Slegs 
'n R100,00 per gesin uit ons gemeente, kan 'n verskil aan hulle gemeenteprojek maak.

Kindervreugde: Ondersteun die Santa Shoeboksprojek

Dis weer tyd om ‘n paar kinders se harte
rondom Kersfees bly te maak.
Kom, ons daag iemand uit om net een naam te vat
en daardie kinderhartjie bly te maak!!!!!!!
Ons het weer 50 name gekry.
Inligting is by die kantoor beskikbaar.
Ouderdomme wissel tussen 6 maande en 16 jaar!!
Bokse moet nie later as 03 November 2023 in wees nie!!!

Plaas die volgende op jou gebedslys

Ons is dankbaar:
  • dat die Here vir ds. Ensie 'n geseënde week saam met 15 A4J (Africa4Jesus) studente gegee het, waar hy diePLAN se kerkleierskapsopleiding aangebied het! Alle eer aan Hom wat getrou is!
  • vir U genade wat U so onvoorwaardelik op ons uitstort.
  • dat ons as 'n gemeente so betrokke by U saak kan wees.
  • dat U bemoeienis met ons wil maak.  
  • dat U verstaan wat ons op aarde beleef.
  • dat U in ons lyding en droefheid teenwoordig is.
  • dat niks ons van U liefde kan skei nie. 
Ons bid in die besonder vir:
  • Ds. Ensie wat diePLAN se kerkleierskapsopleiding DV vanaf 2 - 23 Sept (vliegdatums ingesluit) in Malawi moet gaan aanbied. Die 1ste week in die Noordelike deel, die 2de week in die sentrale deel & die 3de week in die Suidelike deel. Sover is daar 115 kerkleiers wat ingeskryf het.
  • die kerkleiers in Malawi - dat hulle in groot getalle sal registreer vir die opleiding.
  • die voorbereiding en vir die aanbieders van hierdie kursus - dat die saad op vrugbare grond sal val.
  • 'n veilige heen- en terugreis.
  • God se seën op hierdie 3 weke se opleiding, vir die 3 Sondae se eredienste, asook vir elke gesprek tussen-in. (Mt 28:19; Hd 1:4-8)
  • Neil Retief - tans besig met behandeling, hy het reeds die 1ste bestraling en chemo gekry.
  • Tan Rhoda wat siek is.
  • Ds Ray Goddess: weer keelkanker - het 'n operasie die 22ste Aug. 2023 gehad.
  • Danika Vermeulen – in die hospitaal met longinfeksie.
Moet ons vir jou bid?
Laat weet ons asseblief by die kerkkantoor: 053 842 1100

Dutoitspan se gebed vir elkeen wat hier lees, is ...
dat jy die nabyheid van God in jou lewe sal ervaar,
dat die Here vir jou die vrede van die hemel sal gee,
dat jy met Hemelse blydskap geklee sal word,
en dat jy geseën sal word met genesing
in die kragtige Naam van Jesus Christus.
Amen

Wednesday 30 August 2023

Tuesday 29 August 2023

Dankbaarheid

Die woord dankie is so ‘n bitter klein woordjie. Die betekenis van die woord is ongelooflik groot. 
As ouer is dit een van die grootste geskenke wat ons ons kinders kan leer. Die twee belangrikste woordjies dankie en asseblief.

Daar is ’n ou legende wat baie van julle ken - lees dit egter gerus weer:

Lank, lank gelede is twee engele, Gabriël en Migael, ingeroep om ’n spesiale taak op aarde te gaan verrig. God het vir hulle presies verduidelik wat hulle moes doen. Alles was baie eenvoudig: Gabriël moes al die dankie-sê-gebede op aarde terugbring en Migael al die asseblief, Here-gebede bymekaar maak.

Hulle is daar weg om hulle mandjies waarin hulle die gebede sou sit, te gaan haal. Gabriël (die engel wat die dankie-sê-gebede moes insamel) het ’n yslike groot mandjie saamgebring. Hy het vir Migael gesê: “Ek bring ’n groot, groot mandjie saam. God is so goed vir hierdie mense op aarde, ek dink my mandjie gaan oorloop van al die dankies vir Hom.”

Migael het sy kop geknik en gesê: “Ek stem beslis met jou saam, daarom vat ek ’n klein mandjie. God is so goed vir die mense, hulle sal sekerlik nie so baie vra nie.”

Hulle is af aarde toe. Migael het geloop en gehoor hoe mense die een ding na die ander vra. Later het sy mandjie begin oorloop van al die gebede. Hy het later, toe daar nie meer plek in die mandjie was nie, dit in sy sakke gesit en selfs aan sy vlerke vasgemaak. Gabriël het met bekommernis besef sy mandjie gaan nie oorloop nie. Hier en daar het mense onthou om dankie te sê.

Toe hulle terugkeer na die hemel, het albei hartseer gevoel dat mense so maklik kan vergeet om vir God dankie te sê.

Gaan lees die verhaal in Lukas 17. Dit handel juis oor dankbaarheid. Tien melaatses het Jesus om genesing gevra, maar net een draai om. Net een is dankbaar genoeg dat hy na Jesus toe terugdraai.

Ek meet myself aan bogenoemde gedeelte en vra myself af of ek een van die 9 melaatses is en of ek die een is wat se dankie-sê in Gabriël se mandjie geplaas is?  

[Dankie, Anoniem, wat hierdie oë-oopmaak-verhaal met ons deel]

Sunday 27 August 2023

Want Hy is Jesus Christus

As ek val, tel Hy my op.
As ek misluk, vergewe Hy my.
As ek swak is, is Hy sterk.
As ek verdwaal, kom soek Hy my.
As ek bang is, gee Hy my moed.
As ek struikel, hou Hy my vas.
As ek seerkry, troos Hy my.
As ek gebroke is, maak Hy my heel.
en so doen Hy ook vir jou,
Want Hy is Jesus Christus,
Die seun van die Lewende God!

'n Heerlike tee-/koffiekuier na kerk

Friday 25 August 2023

Peppermint Crisp tert vir die naweek

Bestanddele:
1 pakkie tennisbeskuitjies  
1 blikkie gekookte (karamel) kondensmelk
1 boksie Orley Whip
1 blok peppermint crisp 100g

Metode:
Smeer die beskuitjies met kondensmelk.
Plaas 'n laag van die gesmeerde beskuitjies in 'n diep vierkantige bak.
Klits die Orley Whip styf en gooi 'n laag daarvan oor die beskuitjies.
Sprinkel van die gerasperde sjokolade oor.
Herhaal totdat al die bestanddele klaar is.
Plaas in die yskas vir 12-24 uur voor opdiening

['n Uitstekende manier om die week af te sluit en die die naweek te begin. Dankie, Karin, vir die hierdie maklike resep. Stuur 'n foto van jou eindresultaat.]

Thursday 24 August 2023

Kospakkies: oesmaande

Die nood is oral groot. Ons kan nie almal help nie, maar ons kan dit vir Dutoitspan moontlik maak om na 20 huisgesinne uit te reik.

Slegs met behulp van skenkings uit die gemeenskap en gemeente is dit moontlik om hierdie kospakkies te versprei. Dié projek sou nie moontlik gewees het sonder die hulp van elkeen van julle nie. 'n Groot dankie vir elkeen se betrokkenheid. Blikkie vir blikkie maak ons 'n verskil.

September: Blikkies vis
Oktober: Pasta
November: Baked beans
Desember: Blikkies ingemaagte vrugte, koekies, lekkers, jellie, vla

[Ongeveer 20 pakkies maandeliks]

Plaas asseblief jou skenking in die houer in die voorportaal, anders kan dit by die kerkkantoor afgegee word.

Plaas die volgende op jou gebedslys


Ons Huis- en Sally Aucampinwoners, siekes, personeel!

Almal wat siek is, swaar kry en sonder werk is!

Alle huwelike en gesinne!

Ons land en regering (1 Tim. 2:1-7)

Ons gemeente: Dat ons God eerste sal stel!

Neil Retief wat met kanker gediagnoseer is. 

110 000 dankies!





In minder as 'n week, kuier daar nog 'n 1000 mense op die blog. Aktiewe lesers wat graag artikels deel met ander. Dankie vir die groep aktiewe Kapenaars wat gereeld terugvoer gee. Dit word baie waardeer. Indien jy foto's of stories het wat ons kan plaas, moenie huiwer om dit per e-pos te stuur nie. E-posadres is bo in die linkerkantste hoek. Leesvreugde!

Wednesday 23 August 2023

Vrouemaand: Ek is 'n vrou ...

Ek oorreageer,
Ek onderskat,
Ek is ongeorganiseerd,
Ek het buie,
Ek is optimisties,
Ek huil maklik,
Ek is betroubaar,
Ek is mal oor alles wat soet is,
Ek is lomp,
Ek is vergeetagtig,
Ek is nalatig,
Ek is liggelowig,
Ek is gelowig,
Ek is baasspelerig,
Ek is ook saggeaard,
Ek maak dom foute,
Ek verdra nie onregverdigheid nie,
Ek word jaloers,
Ek raak gou verveeld,
Ek brand kos,
Ek is tydsaam,
Ek is ook haastig
Ek praat voordat ek dink,
Ek is mal oor skerp humor,
Ek is hardwerkend,
Ek het so 'n lui streep in my,
Ek val mense in die rede, maar ek gee altyd om.
Ek is altyd myself.
So moenie my ooit probeer verstaan nie, wees net lief vir my.

Tuesday 22 August 2023

Potpourri: Misdaad knou die kraai in jou

Met die jaareinde wat nader kom, raak mense meer as gewoonlik bewus van sekuriteit. Terwyl vakansieplanne gemaak word, word oppassers vir hond en huis gereël. Waarskynlik meer vir die huis as vir die hond.

Beleggings word beveilig. Dokumente met vertroulike inligting word in kluise toegesluit. Kluise word agter slot en grendel beveilig. Die sleutels van dié slotte word veilig bewaar.

Dekades gelede het ons 'n voëlpark besoek. Een van die besoekers het vir die kraai in 'n hok 'n blink muntstuk gegee. Die swart geveerde het die muntstuk in sy snawel geneem en ons met sy blink ogies aangestaar. Hy het rondgekyk en 'n sprong af grond gegee. Toe het hy die muntstuk sorgvuldig onder die waterbak weggesteek. Hy het 'n oomblik getalm, besluit dit is nie veilig nie en die muntstuk in sy nes gaan wegsteek. Weer was hy onseker. Ons het 'n halfuur staan en kyk hoe die arme voël plek na plek beproef. 

Sonder rus vir sy gemoed.  

Die samelewing dwing ons waarskynlik om soos hierdie kraai op te tree. Jy kies 'n wagwoord vir jou rekenaar, maar besluit die stelsel is nie veilig nie. Jy moet jou wagwoord verander.

Later sit jy met wagwoord op wagwoord op wagwoord. Een vir jou rekenaar by die werk. Een vir jou rekenaar by die huis. Een vir die program waarop jy werk. Een vir die bank.

Te midde van die diefwering, sekuriteitskameras, talle wagwoorde en persoonlike identifikasienommers raak diegene wat nie voorheen paranoïes was nie, effens onrustig.

En die kraai binne-in ons wonder: "Bestaan daar 'n plek wat waarlik veilig is?"    

*Noordkaap 22 November 2017 - Karin Muller

[Dankie vir Anoniem wat die uitknipsel gestuur het. Besoek gerus Netwerk24 (Noordkaap Bulletin) se gereelde rubrieke - daar is baie stof tot nadenke in hierdie rubrieke.]

Saturday 19 August 2023

Daniël-konferensie



WAAR: NG Kerk Dutoitspan
DATUM: 9 September 2023
KOSTE: R70 pp (koffie/tee en middagete ingesluit)
Kaartjies by die kerkkantoor beskikbaar!!

Friday 18 August 2023

Kerkgenotjies: Kinders

Die mens is die enigste dier wat sy kleintjies toelaat om terug te kom huis toe.

Klik HIER vir iets in ligter luim!

Thursday 17 August 2023

Gedagtesaad: oorgee, omgee, aangee ...

Derde kwartaalprogram

21 Aug: 18:30 Dankfees-nabetragtingsvergadering

30 Aug: 18:00 Kerssangdiensvergadering

1-2 September: Belydeniskamp (Finalejaars)

9 Sept Daniël Mannekonferensie

Vereistes vir 'n goeie verhouding met my kind

Gevoel/liefde
Ek is lief vir my kind, net soos hy is, want God het hom net aan my geleen. Ek laat my kind toe in my persoonlike ruimte en koester gereeld my kind geestelik en liggaamlik. 

Respek
Ek respekteer my kind se liggaam, persoonlikheid, persoonlike ruimte, gevoelens en siening.

Eerlikheid
Praat altyd die waarheid. Ek is eerlik met my eie gevoelens en optredes.

Vertroue
Wees betroubaar. Glo in jou kind. Ek vertrou my kind met vriende, werk en optredes ... Dit is die boodskap wat jou kind van jou as ouer af kry.

Gelykmatige temperament (emosionele stabiliteit)
Jou kind moet weet en kan aanvoel dat jy in beheer is van jou eie lewe en emosies. Dink voor jy iets sê of optree (vermy impulsiwiteit). Leer jou kind om nie sy emosies te onderdruk nie, maar daaroor te praat en 'n plan te beraam.

Sin vir humor
Leer jou kind om te lag vir dit wat regtig snaaks is in die lewe. Leer hom om dit raak te sien, te ervaar, te geniet en te kan deel.

Kommunikasie
Praat ... gesels.Leer jou kind om nie op te krop nie, maar om te praat. Skep ruimte, tyd en plek in jou huis om met jou kind te praat, te lag en te huil.

Stel belang in sy doen en late
Deel sy belangstellings en moedig dit aan. Stel belang in sy vriende, sy skool en sy onderwysers. Stel belang in sy toekomsvisie en drome.

Totoale toewyding
Wees lief vir jou kind soos vir jouself,met jou hele siel, krag en verstand. Kom jou doopbelofte na, nl. om deur jou daaglikse optrede en lewenswandel jou kind na God te lei. 

[Dankie, Karen Botha]

Wednesday 16 August 2023

'n Kleinmensie-kyk

Dis net altyd die grootmense wat oor waardes en die belangrikheid van die gesin gesels. kom ons hoor vir 'n verandering wat 'n kind sou of wou sê:

Mamma, Pappa, moenie sê ek is ...
  • 'n Kampioen - want dan moet ek altyd wen
  • 'n Wenner - want dan is daar altyd 'n verloorder
  • 'n Koning - want dan beteken dit ander is my onderdane
  • 'n Stouterd - want hoe anders kan ek julle aandag kry 
Mamma, Pappa sê liewers ek is ...
  • 'n Koningskind - want dan ken ek Jesus
  • 'n Kosbaarheid - want dan weet ek julle is lief vir my
  • 'n Staatmaker - want dan weet ek, ek doen my bes
  • 'n Klitsie -want dan weet ek julle geniet my grappe
Mamma, Pappa sê liewers ...
  • Julle is lief vir mekaar
  • Julle is lief vir ons - ek, kleinboet en kleinsus
  • Julle sal net so hard werk om ons gesin gelukkig te hou as vir die baas op kantoor
  • Julle sal altyd bly praat oor alles wat saak maak
Voorspoed, sukses, roem, 'n loopbaan of rykdom is kleingeld vir 'n kind. Dis gesinsgeluk, geloof wat tel, wat rente in Ewigheidswaarde vir hom of haar omsit.

Kom ons grootmense probeer dit onthou. 

109 000 e-kuiers


'n Groot dankie aan al ons getroue besoekers, lesers en hulle wat sommer toevallig op hierdie blog afkom. Ons hoop dat julle groot vreugde uit die e-kuiertjie sal put.

'n Ekstra groot dankie aan almal wat inligting, foto's en boodskappe stuur. Ons waardeer dit, gebruik dit en dit dra by tot die sukses van hierdie blog. Leesvreugde!

Monday 14 August 2023

Hier is die storie van 'n dogtertjie wat 200 jaar gelede in Wallis gewoon het

Hier is die storie van 'n dogtertjie wat 200 jaar gelede in Wallis gewoon het. Dié dogtertjie se naam was Mary Jones. Daar waar sy gewoon het, was maar min skole - en Bybels was skaars. Haar vader was 'n arm wewer, en hulle het in 'n huisie tussen die berge gewoon. Mnr. Jones en sy vrou kon nie lees nie, en daarom het hulle ook nie boeke gehad nie - nie eers 'n Bybel nie. Mary kon ook nie skool toe gaan nie, want daar was nie 'n skool naby hulle huis nie. Sy kon darem saam met haar ouers kerk toe gaan, en sy het graag probeer om die verse wat die dominee gelees het, te onthou. "Ag, as ek maar kon lees!" het sy gesug.

Eendag kom Mary se pa met wonderlike nuus huis toe: net drie kilometer van hulle af word daar 'n skool gebou! Uiteindelik, toe Mary al tien jaar oud was, kon sy vir die eerste keer skool toe gaan om te leer lees en skryf.

So 'n entjie van Mary-hulle se huis af het 'n vriendelike dame, mev. Evans, gewoon. Sy het geweet hoe graag Mary Bybelversies leer en kerk toe gaan en hoe mooi sy kan sing. Mev. Evans het Mary belowe dat, so gou as wat sy kon lees, sy na haar huis toe kon kom om uit haar Bybel te lees.

Een Saterdagoggend klop Mary aan mev. Evans se deur en word ingenooi. Op 'n tafeltjie in die een hoek sien Mary die groot Bybel onder 'n geborduurde lappie lê. "Kom nader, Mary," sê mev. Evans, maar Mary was bang om aan die groot Boek te raak. Sy vee haar hande af, maak die Boek oop en begin lees.

Toe Mary die aand huis toe gaan, was daar net een wens in haar hart: sy wou so graag haar eie Bybel hê. Haar pa het vir haar 'n spaarbussie van hout gemaak waarin sy al die geld gebêre het wat sy gekry het vir kinders oppas, eiers verkoop, hout bymekaarmaak en verkoop en naaldwerk doen.

'n Jaar het verbygegaan voordag Mary die geld getel het, maar dit was nog veels te min om 'n Bybel mee te kon koop. Mary se hart was baie seer, maar sy het nie moed verloor nie. Toe uiteindelik na ses lange jare, het sy genoeg geld vir haar eie Bybel gehad.

Uiteindelik het sy na ses jaar genoeg geld gehad, maar in haar dorp was daar nie Bybels om te koop nie. Mary moes na ’n ander dorp met die naam van Bala gaan om haar Bybel te koop. In daardie tyd was daar nie motors, busse of treine nie. Mary het daarom besluit om te stap, maar dit was baie gevaarlik - moet sy dit waag? Maar al waaraan Mary kon dink, was: "Ek moet vir my 'n Bybel in die hande kry!" Sy besluit  om te gaan.

Die groot dag breek aan en die oggend vroeg kniel Mary saam met haar pa en ma om te bid. Sy groet hulle en neem haar handsak met haar padkos, die geld waarvoor sy so hard gewerk het en 'n paar skoene om aan te trek wanneer sy die die dorpie Bala kom. 

Mary kyk na die hoë bergkruin en dink aan die woorde van Psalm 121: "Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het."

Die aand net toe dit donker word, kom Mary in die dorpie Bala aan. Sy is baie moeg en honger en haar voete is stukkend geloop.

Vriendelike mense het daardie nag vir Mary kos en 'n plek om te slaap gegee. Die volgende oggend gaan klop sy aan ds. Thomas Charles se deur, want sy het gehoor dat hy Bybels verkoop. Die dag waarvoor sy so lank gewag het, het aangebreek. 

“Ek is hier om ’n Bybel te koop sodat ek dit kan lees net wanneer ek wil.”

“Ek is baie jammer my kind, maar ek het nie meer Bybels om te verkoop nie,” antwoord ds Charles.

Mary was baie hartseer! Sy het gehuil en gehuil. “Maar ek het so ver gestap en ek spaar al vir die laaste ses jaar my geld.”

Eerwaarde Charles kon sien dat die Bybel vir Mary baie belangrik is en hy het besluit om haar te help. “Mary, jy kan een van my Bybels kry.”

“Oe! Dankie, ds. Charles!” het sy bly uitgeroep. “Dankie, dankie, dankie!”

’n Baie gelukkige Mary is met haar Bybel terug huis toe. Sy het nie meer nodig gehad om te wag totdat hulle Sondae kerk toe gaan nie, sy kon nou die Bybel lees net wanneer sy wou.

By die huis het Mary se ouers opgewonde vir haar gewag. By die groot paraffienlamp maak Mary vir die eerste keer die Bybel in hulle huisie oop. Sy blaai na Ps. 150 en sy lees: "Prys die Here! Prys God in sy heiligdom, prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf!"tot by die laaste vers: "Laat alles wat asemhaal die Here prys! Prys die Here!"

Toe kniel Mary saam met haar ouers om vir die Here dankie te sê dat hulle 'n Bybel in hulle eie taal het.

Maar dis nie al wat gebeur het nie: daar was nog 'n storie na dié een. Ds. Charles wou vir die mense in London vertel hoe min Bybels daar in Wallis is. Hy vertel toe Mary se storie in London aan 'n klompie predikante. Daar is toe begin planne maak sodat die mense in Wallis meer Bybels kon kry wat ook nie te duur is nie. Die een predikant sê toe daar moet 'n vereniging gestig word om vir Wallis Bybels te gee. 

'n Ander predikant, Joseph Hughes, roep toe uit: "Nie net vir Wallis nie, maar vir die hele wêreld!" So is die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap op 7 Maart 1804 gestig. 

Hierdie genootskap het na ander lande uitgebrei. In Suid-Afrika het dit in 1820 amptelik in werking getree. Sedertdien het die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gegroei tot een van die grootste verspreiders van volledige Bybels in die wêreld.

Jy het waarskynlik jou eie Bybel. Hierdie ware verhaal van hoe Mary Jones haar eie Bybel gekry het, kan jou help om jou Bybel in jou eie taal nog meer te waardeer.

As jy die Bybelhuis wil help om vir elkeen 'n Bybel in sy eie taal beskikbaar te stel, kan jy jou bydrae na die Bybelhuis stuur.

Kontak die Bybelgenootskap HIER.

Noord-Kaap/Vrystaat
Posadres: Posbus 12149, Brandhof, 9324
Landlyn: 051 444 5980
e-pos: bibbfn@biblesociety.co.za

goeie nuus    vir almal     vir altyd




  




Mary died in 1864. Near her bedside was her old and much loved Bible. Today, this Bible is kept in the British and Foreign Bible Society’s Archives in the Cambridge University Library. It is a copy of the 1799 edition of the Welsh Bible.

Inside on one of the pages Mary Jones wrote:

Mary Jones was born 16th of December 1784.

I bought this in the 16th year of my age. I am Daughter of Jacob Jones and Mary Jones His wife. The Lord may give me grace. Amen.

Mary Jones His The True Onour of thie Bible. Bought In the Year 1800 Aged 16th.

A stanza from a popular Welsh hymn which Mary would have probably sung with great fervor goes:

This is Jesus’ dear Bible,
Precious gift of God’s right hand;
There we find the rule for living
And the path to Canaan’s land;
There we read our ruin’s story,
Eden’s sad and sorry loss;
There we find the way to glory
Through my Jesus and His cross.


The life of Mary Jones is truly one of inspiration and great courage. I pray that all Christians would love God’s Word so much.

Click HERE for the rest of the story.

Lus vir 'n lekker koppie koffie?

\
Wel ... hier maak ek nou vir jou 'n lekker warm koppie koffie ...
As water gebruik ek Joh. 4:14
As suiker gooi ek 1 Kor. 13 in.
As melk gebruik ek Fil. 4:13.
Vir daardie heerlike, romerige smaak word room ingeklits - Ps. 91
Jy kry 'n eetdingetjie daarby - Gal. 5:22
Geniet dit in stilte terwyl jy aan Jer. 29:11 herkou!

[Dankie, Valerie!]

Sunday 13 August 2023

Die Here is die Skepper van kleur, geur en atmosfeer

Baie dankie aan die Blombosdames vir die pragtige blomme wat elke Sondag kleur en atmosfeer aan die erediens verleen.

Kom raak deel van ons span en beleef die seëning om jou talente vir die Here se Koninkryk aan te bied. Ons benodig dames vir die blommegroep. As u kans sien om te help kan u vir Elize kontak: 072 732 4656

'n Heerlike tee-/koffiekuier na kerk

Friday 11 August 2023

Die 10 gebooie

*Eerste belofte
As Ek die eerste plek in jou lewe inneem, sal jy geen ander gode wil dien nie, want Ek sal die ereplek in jou lewe hê!

*Tweede belofte
As Ek in jou hart woon, sal dit nie nodig wees om gesnede beelde van My te maak nie, want jy sal self My beeld dra!

*Derde belofte
As jy My liefhet, sal My naam nooit ’n vloekwoord oor jou lippe kan wees nie, maar in alle omstandighede deur jou eerbiedig en gerespekteer word!

*Vierde belofte
As Ek die ereplek in jou lewe het, sal Sabbat die hoogtepunt van die week vir jou wees. Dit sal vir jou ’n vreugde wees om in die Gemeenskap van die gelowiges My te aanbid. ’n Dag om na uit te sien, nie om teen op te sien nie!

*Vyfde belofte
As Ek in jou lewe is, sal dit vir jou ’n voorreg wees om jou ouers te eer en lief te hê. Dit sal nie vir jou moeilik wees nie, want agter Hulle sal jy My sien wat hulle vir jou uitgekies het!

*Sesde belofte
As jy my liefde jou eie gemaak het, sal jy nooit iemand wil seermaak of haat nie, wat nog te sê doodmaak!

*Sewende belofte
As jy My liefhet, sal dit nie moeilik wees om aan jou lewensmaat getrou te wees nie. As Ek ’n plek in jou huwelik het, sal julle vir mekaar lief wees en julle geluk sal ek in my hande bewaar en vashou!

*Agtste belofte
As Ek op die troon van jou lewe sit, sal jy daagliks vra: "Aan wie en waar kan ek aan ’n ander iets gee en jy sal nooit iets van ’n ander wil neem nie?"

*Negende belofte
As Ek in jou lewe is, sal dit nie meer vir jou lekker wees om van ’n ander kwaad te praat nie. Deur my gees sal jy ’n mens wees wat van ’n ander niks sal sê as dit nie iets goeds is nie!

*Tiende belofte
As jy een met My is, sal My gees jou tevredenheid gee om vergenoegd te wees met wat jy het, met die besef dat God gee soos wat jy nodig het en wat Hy gee, gee Hy altyd genoeg sodat jy niks sal kortkom nie!

[Dankie, Anoniem]

Thursday 10 August 2023

Vrouefees: 11-13 Augustus


'n Herinnering vir diegene wat bespreek het. Beleef die fees en leef hoopvol.

Wednesday 9 August 2023

Vrouedag

Jy is 'n vrou met uithouvermoë.
'n Vrou met 'n hart wat glo.
Jy kan lag.
Jy kan huil.
Jy kan luister. 
Jy kan liefhê.
Jy kan verstaan.
Jy is snaaks.
Jy is ernstig.
Maar bo alles:
Jy is 'n geskenk aan die wêreld.

Saturday 5 August 2023

Daniël-konferensie



WAAR: NG Kerk Dutoitspan
DATUM: 9 September 2023
KOSTE: R70 pp (koffie/tee en middagete ingesluit)
Kaartjies by die kerkkantoor beskikbaar!!

Friday 4 August 2023

Lees LIG

Maak die tydskrif LIG deel van jou lewe. Klik HIER om hartsartikels uit LIG te lees. Rol af tot aan die onderkant van LIG se webwerf en vul jou e-posadres in as jy wil inteken op LIG se gratis nuusbrief. 

In die regterkantse hoek is daar plek om in te teken op hierdie inspirerende tydskrif.

Die tydskrif is gelaai met artikels vir elke behoefte, struikelblokke, omgee, inspirasie, raad en menslike stories ... hartstories om oor na te dink. 

Wednesday 2 August 2023

Groot gif kom in klein botteltjies

Tydens Dutoitspan se gesellige basaar Saterdag, het die meisies die botoon by die skryfskietkompetisie gevoer. Die basaar was immers aan die vooraand van vrouemaand ... Daarmee onderstreep hierdie drie sommer die feit dat die vrouens die pas aangee - soos wat Liané Kruger, Loreley Wolhuter en Jolene de Klerk dit prakties bewys het! 
   
In die ouderdomskategorie van 4-10 jaar het Liané Kruger (7 jaar) skoonskip gemaak met 140/150 punte.
Liané Kruger
In die ouderdomskategorie van 11-15 jaar het Loreley Wolhuter (11 jaar) met die louere weggestap met 103/150 punte.
Loreley Wolhuter
In die laaste kategorie waar almal van jonk tot baie ervare (lees: oud) kon meeding, het Jolene de Klerk stof in hulle oë geskop (lees: geskiet) en het sy met 90/150 punte geseëvier. Ten spyte van die feit dat daar in hierdie kategorie deelnemers was met jare se ondervinding.

Wat hierdie wenners meer spesiaal maak, is dat die jongste wenner die hoogste punte behaal het en dat Loreley Wolhuter 'n Nederlander is wat vir haar oupa Rinus en ouma Selma Slabbert in Kimberley kom kuier het. 

Ds. Ensie het van die kansel af gesê dat die manne nie hond haaraf kon maak nie.

Een ding is dus baie duidelik na Saterdag ... die manne moet hierdie tydjie tot en met die volgende basaar gebruik om te oefen! Sterkte, Manne ... sien julle daar!