Tuesday 29 August 2023

Dankbaarheid

Die woord dankie is so ‘n bitter klein woordjie. Die betekenis van die woord is ongelooflik groot. 
As ouer is dit een van die grootste geskenke wat ons ons kinders kan leer. Die twee belangrikste woordjies dankie en asseblief.

Daar is ’n ou legende wat baie van julle ken - lees dit egter gerus weer:

Lank, lank gelede is twee engele, Gabriël en Migael, ingeroep om ’n spesiale taak op aarde te gaan verrig. God het vir hulle presies verduidelik wat hulle moes doen. Alles was baie eenvoudig: Gabriël moes al die dankie-sê-gebede op aarde terugbring en Migael al die asseblief, Here-gebede bymekaar maak.

Hulle is daar weg om hulle mandjies waarin hulle die gebede sou sit, te gaan haal. Gabriël (die engel wat die dankie-sê-gebede moes insamel) het ’n yslike groot mandjie saamgebring. Hy het vir Migael gesê: “Ek bring ’n groot, groot mandjie saam. God is so goed vir hierdie mense op aarde, ek dink my mandjie gaan oorloop van al die dankies vir Hom.”

Migael het sy kop geknik en gesê: “Ek stem beslis met jou saam, daarom vat ek ’n klein mandjie. God is so goed vir die mense, hulle sal sekerlik nie so baie vra nie.”

Hulle is af aarde toe. Migael het geloop en gehoor hoe mense die een ding na die ander vra. Later het sy mandjie begin oorloop van al die gebede. Hy het later, toe daar nie meer plek in die mandjie was nie, dit in sy sakke gesit en selfs aan sy vlerke vasgemaak. Gabriël het met bekommernis besef sy mandjie gaan nie oorloop nie. Hier en daar het mense onthou om dankie te sê.

Toe hulle terugkeer na die hemel, het albei hartseer gevoel dat mense so maklik kan vergeet om vir God dankie te sê.

Gaan lees die verhaal in Lukas 17. Dit handel juis oor dankbaarheid. Tien melaatses het Jesus om genesing gevra, maar net een draai om. Net een is dankbaar genoeg dat hy na Jesus toe terugdraai.

Ek meet myself aan bogenoemde gedeelte en vra myself af of ek een van die 9 melaatses is en of ek die een is wat se dankie-sê in Gabriël se mandjie geplaas is?  

[Dankie, Anoniem, wat hierdie oë-oopmaak-verhaal met ons deel]