Saturday 22 April 2023

Sunday 16 April 2023

Wednesday 12 April 2023

Sê 'n keer iets goeds van my voordat ek dood is ...

As jy die mense op straat, in die winkel, kafee of werksplek hoor praat, kry jy die indruk dat die meeste mense slegte mense is.
As jy egter begrafnisse bywoon en al die Ter herinnering aan lees, sal jy dink dat daar nie slegte mense bestaan nie en dat alle vaders en moeders ideale vaders en moeders is en al die eggenote teergeliefd en vol toewyding en sorg!
Nooit vind jy in 'n doodsberig in die koerant: Hy was 'n buffel of Sy was 'n kwaadstoker nie.
Ons kan van 'n grafskrif alles leer behalwe een ding:
Moenie wag tot iemand dood is voordat jy vir hom of haar die pluimpie gee nie!
Bring jou blomme nou voordat ek dood is!

[Dankie, Anoniem]

Tuesday 11 April 2023

'n Paaskuier by Sally Aucamp

 








... vandag is nie 'n plig nie, maar 'n voorreg;
dit is nie 'n uitdaging nie, maar 'n geleentheid vol hoop;
die dag is nie 'n resies nie, maar 'n genade-geskenk ...
Paasfees ... Vreugde, vrede en genade van weer saamwees.

En dit is hierdie saamwees wat die tydjie so heerlik gemaak het. Gesellig saamkuier en die uitdeel van heerlike warm slaapsokkies en mussies, saam met paaseiers, het hierdie naweek net 'n hupstootjies in die vreugderigting gegee. Dankie aan elkeen wat saamgewerk het om die boodskap van Paasfees tasbaar uit te dra. 

Dankie tannie Etna, tannie Daphné, tannie Rina, Natalie en Natashia wat die diens gehou het. 

Friday 7 April 2023

Geseënde Paaswense vir die Sally Aucamp-inwoners



Paasfees wil ons troosvol herinner dat ons die opgestane Jesus sal ontdek op plekke waar ons Hom nie verwag nie en sal ervaar dat die lewende Here in die midde van ons ontredderde situasies steeds verskyn as die een wat ons groet: ‘Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende’; en saam met Paulus onthou dat dieselfde kragtige werking wat Christus uit die dood opgewek het, werk in die harte van ons wat glo.

Seën vir julle en mag hierdie dag en naweek ook baie spesiaal wees. Geniet die uitreik! 

Rina Groenewald

Saturday 1 April 2023

Dis mos GEK!


Op 1 April is daar net twee soorte mense: dié wat gek is na Aprilgrappe en dié wat dink Aprilgrappe is gek. 

Die linkerhandbielie
In 1988 het Burger King 'n volbladsyadvertensie in USA Today laat plaas om die linkerhandbielie, wat spesiaal vir die 32 miljoen linkshandige Amerikaners gemaak word, aan die publiek bekend te stel. Die linkerhandbielie bevat dieselfde bestanddele as die bekende, oorspronklike Whopper (blaarslaai, tamaties, hamburgerfrikkadel), maar al die geurmiddels word vir die gerief van die linkshandige eters 180 grade gedraai, is gesê. Duisende linkshandiges het dié Aprilgrap geglo en sulke hamburgers bestel.

Tieners met getatoeëerde ore
Op 1 April 1994 word op die radioprogram, All things conidered, aangekondig dat maatskappye soos Pepsi die tatoeëering van tieners se ore met die logo van deelnemende maatskappye gaan begin borg, mits dit twee sentimeter groot is. Tieners wat getatoeëerde logo's op hul ore vertoon, sou lewenslank 'n afslag van 10% op die produkte van die betrokke maatskappy ontvang. Honderde tieners het met groot entoesiasme op die aanbod gereageer.

Rekord-spaghetti-oes
Op Maandag 1 April 1957 is daar oor die BBC-nuusprogram Panorama berig dat die landbougemeenskap van Switzerland danksy 'n matige winter en die sukses wat met die bestryding van die gevreesde spaghetti-kalander behaal is, 'n rekord-spaghetti-oes in die oesjaar verwag. Beeldmateriaal van plaaswerkers wat stringe spaghetti uit die bome ryg, is aan die kykers vertoon. Baie mense het dit onwrikbaar geglo en ingeskakel om navraag te doen oor die kweek van spaghettibome, waarop hulle die volgende antwoord van die BBC ontvang het: "Plaas 'n spaghetti-takkie in 'n blik tamatiesous en hoop vir die beste." Vir 1 jaar sou spaghetti volop wees!!! 

[Verwerk uit Vrouekeur, 1 April 2005]