Saturday, 9 May 2015

Moedersdag 10 Mei 2015!

Lees meer!

2015 se basaar in kort!!

Nes al die vorige jare was hierdie basaar weer ‘n aangename, gesellige geleentheid. Dit was ‘n pretdag vir almal – oud en jonk! Die motors wat 'n plaat op die terrein geparkeer staan, was ‘n goeie aanduiding dat die geleentheid baie goed bygewoon is.

Vir die toevallige besoeker aan 'n kerkbasaar was dit ‘n heerlike aangeleentheid. Dadelik dink ‘n mens aan goedkoper kos en 'n winskopie of twee op vele terreine. Met ‘n koppie tee of koffie en ‘n soetigheid in die hand, is daar lekker saamgekuier met die gemeentelede.

Een van die gewildste stalletjies bly maar die pannekoekstalletjie. En daar is resepte en resepte, beproefde resepte en verbeterder resepte - die deeg word fyn uitgewerk - een eetlepel asyn is goedkoper as een eier …

En die man met die soettand, loop nooit leë hande van die basaar nie. Koeksisters! Groot Koeke! Klein Koekies… Ou Staatmakerresepte wat van een geslag na 'n ander oorgedra word, of sommer uit die nuutste Huisgenoot-treffers gemaak is. Klein koffiekoekies wat so in die koppie koffie gedoop word … dit is mos hierdie dinge wat belangrik is vir die goeie samesyn in 'n gemeente!

En dan is daar nog die poedingtafel - wat die gemeentedames met soveel trots opdis - die jellys, vlae, kitspoedings, gebakte poedings, kondensmelkpoedings en triffles!

Agter die skerms, vat dit maande se vergaderings om daar te kom. Elke item is deeglik beplan en nagevors. Daar moet deeglik oor die prys van die vleis besin word. Onthou, die land se ekonomie is nie baie sterk nie, so met die oog op die Brent Ru-olieprys, die Dow Jones en die JSE se bewegings, word ‘n versigtige formule uitgewerk.

Daar moet genoeg kaartjies wees, maar hoeveel is genoeg?? Gaan daar meer voete as verlede jaar wees, of minder - dit hang grotendeels ook van die weer af, want soos verlede jaar gaan dit 'n buitelugbasaar wees. En gaan die feit dat dit môre Moedersdag is, die verkope 'n hupstootjie gee??

Ja, dit neem baie, baie ontelbaar baie man-ure om die kerkbasaar te laat lyk asof dit sommer net een Saterdag oggend gebeur het …

2015 se kerkbasaar het gekom en gegaan. As almal eers klaar gebasaar het en huis toe vertrek het, lê daar nog ure se werk voor. Tafels en stoele moet weer opgelaai, teruggery en ingedra word. Vuilgoed moet opgetel word en alles moet netjies en skoongemaak word, want môre-oggend hou ons weer kerk en dan moet alles op hulle plek wees. 

Met seer voete en ‘n af rug, is elke werker die middag terug huis toe, groot verligting ... Dank Vader
dis verby!

Dankie aan elke werker, skenker, koper en bidder! Elkeen se bydrae, hoe gering, het 'n verskil aan 2015 se basaar gemaak!

Thursday, 7 May 2015

Die gewilde koektafels!


"Die gewilde tafel met die kleiner koekies..."
Die jong groen predikantjie by sy eerste kerkbasaar waar daar vroegoggend baie vrouens met baie koeke opdaag vir die tafels: "Goeie môre, Susters, ter wille van goeie orde vra ek die vroue met die groot koeke om aan my linkerkant plaas te neem. En die vrouens met die klein koekies kan aan my regterkant plaasneem. Baie dankie."

Saterdag is basaardag!!


Kom vroegtydig - hierdie stalletjie is 'n MOET!
Hierdie is die heel lekkerste resep in Kimberley !
Met stalletjies wat onder andere pannekoek, boereworsrolle en kerrie-en-rys verkoop het, is daar nie ‘n verskoning vir een maag om van die honger te grom nie.

Sluit die basaarkuiertjie af met 'n ietsie soet! Besoek die lekkergoedtafel of die tradisionele poedingtafel! Sien jou daar!!


Friday, 1 May 2015