Saturday 9 May 2015

'n Voëlvlug oor 2015 se basaar!!

Nes al die vorige jare was hierdie jaar se basaar weer ‘n aangename en 'n gesellige geleentheid. ‘n Pretdag vir oud en jonk! Vir baie gemeentelede is dit die hoogtepunt op die kerk se kalender en vir ander is dit die eindpunt na baie ure se beplanning en vergaderings.

Vir die toevallige besoeker aan dié kerkbasaar het die vinnige inloer in ‘n heerlike kuiergeleentheid verander. Met ‘n koppie tee of koffie en ‘n soetigheid in die hand, is daar stories uitgeruil en selfs adresse met 'n moontlike belofte van 'n kuier.

Een van die gewildste stalletjies bly maar die pannekoekstalletjie. En daar is resepte en resepte, beproefde resepte, verbeterde resepte en geheime familieresepte. Die vrywilligers by die pannekoektafel weet dat basaardag beteken lank staan, baie warm kry en moeë voete aan die einde van die dag, maar met 'n glimlag sê hulle "ja" vir volgende jaar, want hulle trek lag-lag die meeste mense ... en wie hou nou nie van 'n pannekoek nie?   

En die man met die soettand, loop nooit leë hande van die basaar nie. Koeksisters! Groot koeke! Klein koekies … Ou staatmakerresepte wat van een geslag na 'n ander oorgedra word, of sommer uit die nuutste Huisgenoot-treffers gemaak is. Klein koffiekoekies en die gewilde gemmerkoekie wat so in die koppie koffie gedoop word … dit is mos hierdie dinge wat belangrik is vir die goeie samesyn in 'n gemeente!

En dan is daar nog die poedingtafel - wat die gemeentedames met soveel trots opdis - die jellies, vlae, kitspoedings, gebakte poedings, kondensmelkpoedings en triffles!  Kerkbasaarpoeding smaak mos net anders. 

Agter die skerms, vat dit maande se vergaderings om daar te kom. Daar moet deeglik oor die prys van die vleis besin word. Onthou, die land se ekonomie is nie baie sterk nie, so met die oog op die Brent Ru-olieprys, die Dow Jones en die JSE se bewegings, word ‘n versigtige formule uitgewerk.

Daar moet genoeg kaartjies wees, maar hoeveel is genoeg? Gaan daar meer voete as verlede jaar wees, of minder - dit hang grotendeels ook van die weer af, want soos verlede jaar gaan dit 'n buitelugbasaar wees. En gaan die feit dat dit môre Moedersdag is, die verkope 'n hupstootjie gee??

Ja, dit neem baie, baie ontelbaar baie man-ure om die kerkbasaar te laat lyk asof dit sommer net een Saterdagoggend gebeur het …

2015 se kerkbasaar het gekom en gegaan. As almal eers klaar gebasaar het en huis toe vertrek het, lê daar nog ure se werk voor. Tafels en stoele moet weer op hulle plekke kom. Vuilgoed moet opgetel word, skottelgoed moet gewas word en alles moet netjies en skoongemaak word, want môreoggend hou ons weer kerk en dan moet alles op hulle plek wees.

Met seer voete en ‘n af-rug, is elke werker die middag terug huis toe, groot verligting, maar ook met 'n dankbare hart ...

Dankie aan elke werker, skenker, koper en bidder! Elkeen se bydrae, hoe gering ookal, het 'n verskil aan 2015 se basaar gemaak!