Showing posts with label Juwele. Show all posts
Showing posts with label Juwele. Show all posts

Tuesday, 21 July 2026

Die geheim van die kleiballe

’n Man was besig om grotte langs die see te verken. In een van die grotte vind hy ’n seilsak met ’n klompie verharde kleiballe. Dit het gelyk of iemand die kleiballe met hul hande gerol het en hulle in die son gelaat het om kliphard te bak.

Hulle was nie indrukwekkend nie, maar het die man tog gefassineer en hy het die seilsak saam met hom uit die grot gedra. Terwyl hy langs die strand stap, het van die kleiballe geneem en hulle een vir een in die see gegooi sover as wat hy kan.

Hy het nie veel daarvan gedink nie, want dit is hoe hulle as kinders gemaak het met klippe as hulle langs die strand wandel, totdat hy een van die kleiballe laat val op ’n rots en dit oopkraak. Binne was ’n pragtige kosbare edelgesteente gewees!

Baie opgewonde begin die man die oorblywende kleiballe oopbreek. Elke een van die kleiballe bevat ’n soortgelyke skat. Hy het ’n paar duisend rand se waarde aan edelgesteentes in die 20 of so oorblywende kleiballe gevind.

Toe tref dit hom. Hy was al ’n hele wyle op die strand wat hy so kleiballe in die see gooi. Hy het maklik tussen 50 of 60 kleiballe in die see gegooi met hul verskuilde skat in. In plaas van ’n paar duisend rand se edelgesteentes kon hy 'n honderdduisend rand se edelgesteentes huis toe geneem het, maar hy het dit weggegooi!

Dit is ook so met mense. Ons kyk na iemand en ons sien net die buitenste kleihouer. Dit lyk nie na veel van buite nie. Dit is nie altyd pragtig en sprankelend nie, dus verwerp ons dit.

Ons sien die persoon as minder belangrik in vergeleke met iemand wat beeldskoon, of stylvol, of beroemd of ryk is. Maar ons het nie tyd gemaak om die versteekte skat wat binne die persoon begrawe is, te vind nie.

Daar is ’n skat in elke een van ons. Indien ons tyd sou maak om die persoon te leer ken en God te vra om ons te help om die persoon te sien soos Hy hom sien. Dit is dan dat die klei begin afdop en die mooiste skat begin skitter.

Mag ons nie aan die einde van ons lewe kom en uitvind dat ons ’n fortuin aan vriende weggegooi het net omdat die skat verborge was in ’n dun lagie klei nie.
 
Mag ons die mense met wie ons in aanraking kom, sien soos God hulle sien.

Friday, 20 March 2026

Terugflits: Leer ander om te dien

Sy naam is Surprise. Hy is 'n polisieman. Getrou in sy werk en ywerig in alles wat hy doen.

Ek het hom nooit spontaan ontmoet nie, maar sy naam het hom vooruit geloop. Juis daarom het ek moeite gedoen om hom te gaan leer ken.

Aan die Suidkus van ons land waar baie mense gereeld by die see gaan uitrus en in die branders en sand kop skoonmaak, het Surprise nie gerus nie.

Waar ander rus, daar is sy werksplek. By die klein, tog besige ou seeplekkie is Surprise gestasioneer.

Hy sou seker ook net die nodige kon doen soos baie van ons, maar nee, hy glo jy doen die ekstra moeite, jy dra daardie ekstra vrag, jy help onvoorwaardelik. As jy hom leer ken, dan kom jy dit onmiddellik agter. Dit was nie moeilik om hom op te spoor nie - ja, almal ken vir Surprise.

By die laaste huis waar hy 'n inbraaksaak hanteer het, het hy uit omgee vir hulle kos laat aflewer.

By die voertuig wat langs die pad gaan staan het, het hy nie net iemand gebel nie, maar haar later gebel en gevra of sy veilig tuis gekom het. 'n Ander se klein seuntjie se trane het hy afgedroog.

Nou ja, so kan ons seker baie dinge oor baie mense vertel - wat Surprise anders maak, is dat die dinge nie 'n nou en dan verskynsel in sy lewe is nie, dit is hoe hy elke dag leef.

Dit is wie hy is. Onvoorwaardelik altyd dienend. Sy lewe gevul met diensbaarheid.

In my gesprek met hom vra ek hom: "Hoe kry jy dit reg dat almal so mooi van jou praat, wat maak jou so anders?"

"Anders, Meneer? Ek is nie anders nie, ons is mos maar almal dieselfde. As ons oë kyk, sien hulle 'n plek waar hulle kan help, as ons ore luister, hoor hulle 'n plek waar hulle kan help, as ons mond praat, dan bring dit sagtheid.

In 'n nuwe jaar, met nuwe dinge, kan ons by Surprise iets leer: DIEN.

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth - gaan lees gerus die Twyfelhoekierubrieke op die internet -daar is soveel pitkos om aan te herkou.]

Friday, 17 May 2024

Terugflits: Soek die juwele in die alledaagse

Juwele kan baie werd wees. Hang af van die vakmanskap en die edelgesteentes of dit kan baie goedkoop wees omdat dit sentiment het. In 'n groot mate word juwele se waarde bepaal deur wat dit vir jou beteken. Daarom vir my so kosbaar die kleine blondekop-meisie wat haar skatte voor my kom uitskud.

Ons kampeer met kinders uit verskillende omstandighede. In haar beperkte konteks en haar vyf jaar van bestaan, ken sy nie diamantringe en goue juwele van 'n sekere karaat nie. Sy weet daarvan, maar die waarde is nog ver bo haar begrip. As sy haar juwele uitskud, dan besef ek sy gaan dit nooit verkoop nie, maar tog is dit van soveel waarde dat haar juwele moeilik vorentoe deur die harde werklikheid van goud en silwer vervang sal kan word.

"Oom, kyk my juweeltjies - ek tel elke dag 'n sak vol op."

Ongelooflik - twee skoenlappers, drie boomsade, 'n dooie tor, 'n wit klip, 'n stukkie rooi gras, 'n boompeul. Dit is haar juwele. Sy het al baie by die huis.

Haar ma het gesê sy mag dit in haar kamer hou. 

'n Mens moet ook nie dink dat sy nie weet wat elkeen vir haar beteken nie. Sy soek haar juweeltjies met die hand uit.

Ek is dom - ek durf vra of elke dag s'n dieselfde lyk. 

Verontwaardig kom die antwoord: "Natuurlik nie, Oom, daar is elke dag nuwe juweeltjies om my. Ek moet hulle net optel."

Hoe wonderlik as 'n mens nog in die klein goedjies juwele kan sien.

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth]