Sunday, 6 September 2026

Mossiestilte: Jesaja 26:1-6

Daar kom 'n dag wanneer hierdie lied in Juda gesing sal word: Ons het 'n sterk stad, God beskerm ons met mure, met 'n vesting. Maak oop die poorte dat die nasie wat gered is, kan ingaan, die nasie wat aan God gehoorsaam is en wat op Hom vertrou. Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel. Vertrou altyd op die Here, want die Here God is 'n veilige toevlug. Hy bring dié wat in hoë vestings woon, af grond toe, Hy gooi hulle hoë stadsmure om, Hy maak dit gelyk met die grond en laat lê dit in die stof. Hulle sal onder die voete vertrap word, onder die voete van onderdruktes; die armes sal op hulle trap.

Die mens bly nie lank genoeg met een ding besig om iets wat die moeite werd is daaruit te put nie. Dit veroorsaak rusteloosheid, geestelike en verstandelike moegheid en verwarring. Hulle het geen innerlike vrede nie.

Innerlike vrede is die produk van ʼn toegewyde verhouding met God. Om jou doelwitte in die lewe te identifiseer en dit met oorgawe na te jaag, gee rigting en stabiliteit aan jou bestaan. Om ʼn lewensdoel te kies, is egter nie altyd maklik nie, maar daarsonder smaak jy nooit die vreugde van innerlike vrede en kalmte nie.

As jy jou oopstel vir die invloed van die Heilige Gees en Hom vra om jou lewensdoel te omlyn, sal Hy jou nie teleurstel nie. As jy opreg vir God vra vir ʼn lewensdoel waaraan jy jou tyd, krag en talente kan wy en jy gehoorsaam die pad wat Hy aandui, sal die vreugde van vervulling nie uitbly nie. Jou lewe sal vrugbaar wees. In al jou handelinge sal daar nuwe daadkrag kom. Jy sal vrede ken en rustig wees omdat jou lewe beheers word deur Sy Gees.

[Aangestuur]