Showing posts with label Funksies. Show all posts
Showing posts with label Funksies. Show all posts

Friday, 27 September 2024

Terugblik: Kosterspaar 1940-1966


Mnr. en mev. Wagner was 'n aktiewe en geliefde kosterspaar, wat bekend was vir hulle hulpvaardigheid, nie net in die gemeente nie, maar ook in Kimberley. Geen versoek was vir hulle moeite nie. Mev. Wagner was veral bekend vir haar groot rangskikkings vir verhoë, troues, kongresse en konferensies,
Mev. Wagner tydens gemeente
se eeufeesvieringe in 1972
asook die vlyt waarmee sy skynbaar moeiteloos onthaalfunksies kon aanbied. Met Dutoitspan se 100-jarige feesvieringe het sy met liefde die blommerangskikkings gemaak, al was sy nie meer in die gemeente nie en so gehelp om die feesuitgawes in hierdie aspek baie laag te hou. 'n Ander talent wat ver buite die grense van Kimberley bekend was, was dat sy trourokke ontwerp en gemaak het en daarmee saam sommer ook die strooimeisie en die bruid van die ma se uitrustings. Voorwaar 'n bekende, geliefde en hardwerkende paar.   

Met die afsterwe van hul enigste dogter, Poppie, en die verswakking van mnr. Johnny Wagner se gesondheid, het hulle besluit om hulle liewer op 'n rustiger Boshof te vestig. Dit het meegebring dat hulle na 'n dienstydperk van 26 jaar se getroue en uitstekende diens as diaken, ouderling, Sondagskoolonderwyser en koster die amp moes neerlê.  

Die susters van die gemeente het vir hulle 'n spoggerige afskeidsfunksie aangebied (hierdie keer het mev. Wagner aan die ontvangkant van die onthaal gestaan.) 'n Adres en 'n geskenk van 'n R100 is deur die kerkraad as blyke van waardering vir die waardevolle en getroue dienste oor só 'n lang tydperk aan hulle oorhandig.

Rokke wat deur
mev. Wagner gemaak is.
Die groot vraag op almal se lippe was wie hierdie twee besondere mense gaan opvolg.

Bron: Eeufeesalbum 1972, mondelinge oorleweringe.

Saturday, 25 November 2023

Wanneer my lyf vir my hart weghardloop

Dis hierdie tyd van die jaar, Here ... die tyd wat almal se lywe vir hulle harte weghardloop. Die tyd wat mense verby mekaar skarrel, en mekaar se oë miskyk.  Die tyd van keerdatums en afsluit en klaarmaak voor Kersfees.  Die tyd van eksamen skryf en eksamendruk en ‘n kind se bangwees vir nog ‘n prysuitdeling wat dalk te veel gaan vra.  

Ek hou nie van hierdie tyd van die jaar nie, Here. Dit maak my bang. Ek verlang terug na die tyd voor e-posse en whatsapps en zoom ... ek mis die posseël se gom wat op ‘n brief vasplak. Die opgewonde-bly-wees en wag vir die brief om oor ‘n paar dae eers by sy bestemming te kom. Ek verlang na die tyd toe die foon nog teen die muur vas was. Toe niemand ongeduldig en kwaai geraak het as daar geen antwoord was nie. Ek verlang na die tyd toe mense mekaar nog in die oë kon kyk en lag en gesels wanneer hulle eet. Nou, Here ... sit elkeen met ‘n stukkie rekenaar in die hand, die kos en kuier en saamwees is sommer net ‘n bysaak. Ek verlang na die tyd toe kinders in bome geklim het, en laataand fiets gery het. Ek verlang na die tyd toe mammas en pappas in die aande by die huis was, sonder vergaderings en wegwees met werk.

Ons lywe hardloop so vinnig, Here. Ons probeer elke whatsapp, elke e-pos, elke oproep betyds inhardloop ... en dan hardloop ons so baie keer verby U. Soms stamp ons U sommer net eenkant, want ons is so bang ons is nie betyds by die volgende stukkie stop nie. 
 
Help my, Here, om stil te gaan staan. Help my om die blommetjie wat U so opgewonde langs die pad na my toe uithou, raak te sien. Maak my oë oop vir U glimlag in ‘n klein kindjie se lag, dat ek U kan sien, Here. Stop my en maak my sit op die groen gras wat U so mooi helder ingekleur het ... en sit weer die verwondering in my hart vir elke wolkie wat patroontjies teken in die lug. Elkeen anders en uniek. Vat my na ‘n plekkie waar U en ek alleen kan wees, waar dit so stil is dat ek U liefde kan voel en hoor.  Daar waar daar nie fone en rekenaars en vergaderings en e-posse is nie.  Daar waar dit net U en ek is, Here.  

Dankie dat U in stilwees vir my wag ... dat U U hand uitsteek om my te stop wanneer ek vir my eie hart wegloop. Dankie dat U dadelik hoor as my hart so baie keer bang en vinnig begin klop. Dankie dat U juis dan stil by my kom sit, my hart in U hande toevou. Dankie dat U my hart versigtig teen U hart hou, totdat dit stukkie vir stukkie stadiger begin klop. Totdat dit in pas kom met U hart se klop, Here. En wanneer dit rustig is, sit U my hart stil-versigtig terug in my lyf. Dankie dat U my herinner om U liefde en U omgee en U sorg stukkie vir stukkie in te asem. Bietjie vir bietjie ... een asem op ‘n slag. Sodat my hart en my lyf kan stil word.  Dankie dat U my leer om een voet voor die ander te sit, en nie duisend treë te probeer inpas, teen tyd verby nie. Een voet voor die ander, Here. Een asem op ‘n slag. U liefde wat my regop hou. En U stem wat sag vir my sê: "Kom na My toe, Ek sien jy raak moeg. Kom, dat Ek jou hart stil teen Myne kan sit, sodat jy vir ‘n rukkie net kan rus."  

Dankie, Here. U alleen is vir my genoeg.

Skrywer onbekend

Dankie, Babsie, dat jy hierdie waarheid met ons deel.