Showing posts with label Bid. Show all posts
Showing posts with label Bid. Show all posts

Wednesday, 22 July 2026

Gebed vir vandag

Here, help my om vandag al my selfsugtigheid en eie wil weg te was,
sodat ek U die res van my lewe met nederigheid kan dien.
Here, stryk vandag al die plooie, wat deur die jare versamel het,
uit my gees sodat ek net die mooi in ander sal sien.
O God, help my dat ek sal regmaak waar ek ander te na gekom het. 

Here Jesus, help my om met die stoflap van u genade
die klein sondetjies wat in my hart skuil,
weg te vee en skoon te maak.

O God, gee my asseblief die wysheid om die dinge
te koop wat nodig is en nie wat ek begeer nie,
omdat ek weet Here, geen aardse skatte weeg op
teen dit wat in die Hemel wag nie. 

Help my, my Vader om die vrugte van die gees:
Liefde, Vriendelikheid, Hulpsaamheid, Sagmoedigheid,
Getrouheid en Selfbeheersing aan my naaste voor te sit.

O God, ek het my huis vir u voorberei.
Kom woon asseblief in my hart sodat ek die res van my lewe
in u teenwoordigheid kan deurbring.
Dankie Here, vir al my wonderlike vriende aan wie ek hierdie gebed kan stuur.
EK IS NIE SKAAM VIR MY HERE NIE.
Amen

[Dankie, Ann, vir die aanstuur.]

Tuesday, 7 July 2026

Mandjie Hoop: Die lewe is soos saad ...

Hoe MEER blomsaad jy saai - 
hoe meer blomme om later te pluk.
Hoe MEER liefde jy uitdeel - 
hoe ryker word jy.
Hoe MEER jy lag - 
hoe sterker word jou krag.
Hoe MEER jy bid - 
hoe sterker word die kragstroom
wat jou voed.
Waardeer God en 
dit wat Hy oor jou pad toelaat,
en waar Hy jou geplaas het.

Friday, 12 June 2026

Uitreik: Wat moet ons doen?

Ons moet mekaar liefhê 
met die Liefde wat God vir ons gee.
Ons moet mekaar vergewe 
soos God ons vergewe.
Ons moet vir mekaar bid,
sodat God ons kan beskerm 
teen die gevaar dáárbuite. 
Ons moet die Woord deel
met hulle wat ons pad vandag kruis.

Friday, 8 May 2026

Uitreik: Onbelangrik

In een van ons stede het 'n jong getroude vrou - intelligent, ryk en baie populêr - haar begin kwel oor die toestand van die wêreld, en sy het gewonder wat sy daaraan kan doen. Gewildheid gee vir 'n mens 'n sekere soort platform wat nie almal het nie. Om daardie platform ten goede te benut, is nie elkeen se begeerte nie. 

Eindelik het sy iets gedoen wat baie merkwaardig was vir 'n vrou met haar wêreldwyse agtergrond. Sy het na haar naaste buurvrou toe gestap en gesê: "Marie, jy kan vir my lag as jy wil, of jy kan weier as jy so voel, maar ek het net kom hoor of ons nie gereeld kan saamkom om vir die wêreld te bid nie. Dit mag vir jou onbelangrik klink, maar iets dryf my om dit te doen.

Haar buurvrou het haar verbaas aangekyk. Sy het eers vermoed dat dit 'n grap kan wees. Maar toe sy sien dat die ander een ernstig is, het sy ingewillig om aan die versoek te voldoen.

So het die twee vroue dan gereeld saamgekom vir gebed, en ander het mettertyd by hulle aangesluit.

Nadat hulle 'n geruime tyd vir die wêreld gebid het, het dit egter vir die vroue duidelik geword dat hulle geen hoop het om die wêreld te hervorm nie. Daarom het hulle besluit om die euwels in hulle onmiddellike omgewing en woonbuurt in die gebed te begin bekamp.

Hulle het mense geteiken en vir hulle by die naam gebid. 
* Mense vir wie gesinswaardes nie belangrik is nie. 
* Hulle wat daarvan gehou het om partytjies te hou.
* Hulle wat die elmboog te hoog te lig ten koste van hulle gesin. 
* Diegene wat graag naweek na naweek in klubs en kroeë deurgebring het.

Een vir een het diegene wat hulle geteiken het in gebed en gesprek tot bekering gekom.

Immoraliteit, buitensporige probleme, gesinsgeweld, gesinsverwaarlosing en hartseer in die omgewing het gaandeweg minder geword en die gemeenskap het ongemerk 'n verandering ondergaan.

Hierdie aanvanklik poging van 'n aarselende individu wat nie presies geweet het waar om te begin nie, het uiteindelik 'n omwenteling in tientalle lewens in haar onmiddellike omgewing tot gevolg gehad.  

Onbelangrik? JY??

Jy weet nie hoe belangrik jy kan wees nie.

[N.V.P.] 

Sunday, 3 May 2026

Gebed bring Ike op die been

Hy was maar dertien jaar oud toe hy ná skool op pad huis toe sy linkerknie nerf-af geval het. Hy het die knie gevryf, 'n bietjie spuug aangesmeer, en toe mank-mank aangesukkel huis toe. Hy was 'n taai boerseun wat nie oor enige kleinigheid gekla het nie en daarom het hy nie eens sy ouers of broers van sy val vertel nie.

Maar toe hy die aand bed se kant toe staan, het die knie weer van die pyn begin klop.

"Môre sal dit seker beter wees,"het hy gedink toe hy in sy bed kruip in die kamer waar hy en sy vyf broers geslaap het.

Die volgende môre moes hy op sy tande byt van die pyn, maar het maar met sy plaaswerk deurgedruk voordat hy skool toe is.

Twee dae later was Sondag. Sy been was toe al so seer dat hy dit agter hom aangesleep het. Hy het maar tuis gebly toe die res van die gesin kerk toe is, en deur die gesin se familiebybel geblaai om gedeeltes uit te soek wat hy die week kon lees aangesien dit sy beurt was om by huisgodsdiens die Skriflesing te doen.

Teen etenstyd was hy egter weer in die bed en moes hulle sy skoenveters afsny voordat hulle sy skoen kon uittrek, só was die voet geswel. Sy moeder het die been deeglik versorg, maar spoedig besef dat die hulp van die ou familiedokter, dr. Conklin, ingeroep moes word.

"Die been lyk nie goed nie. Ek twyfel of ons hom sal kan red. As ons dit nie gou afsit nie, kan die inflammasie u seun se lewe kos," het die dokter ná sy ondersoek bekommerd gesê.

"My been afsit? Nooit! Dan liewer dood," het die jong knaap uitgeroep en sy been eenkant toe getrek.

"Hoe langer ons wag, hoe meer sal ons van die been moet afsit," het die dokter gewaarsku.

"Ed! Ed!" het die sieke egter skielik na sy broer geroep, en toe hy langs die bed kom staan, aan hom gesê: "Belowe dat jy sal sorg dat hulle nie my been afsit nie. Jy verstaan mos, veral as ek later miskien vanweë die koors deurmekaar raak."

Ed het sy kop geknik, hom na die dokter gedraai en gesê: "Dokter, niemand gaan sy been afsit nie. Ek sal voor die siekekamer se deur bly staan totdat hy weer beter is. 

So was dit ook. Twee dae en twee nagte lank het Ed op sy pos gebly, reg voor die kamerdeur. Maar intussen het die rooi vlek al hoe hoër teen die seer been opgeskuif.

"Dis moord. Net 'n wonder kan nog die kind se lewe red," het ou dokter Conklin uitgeroep toe hy weer sy pasiëntjie ondersoek het.

'n Wonder? 'n Wonder van Bo?

Maar dit is mos die antwoord, het die ouerpaar skielik besef en dadelik op hul knieë gegaan om te bid vir die wonder om te gebeur. Ed het langs hulle gekniel, en later ook die ander broers. So het hulle aangehou met bid. Daar het geen oomblik verbygegaan dat nie een van die gesin op die knieë was nie. Selfs terwyl hul vader die koeie gemelk of hul moeder kos voorberei het, het die kinders die gebede voortgesit.

Die volgende môre was dr Conklin weer daar.

"Ongelooflik! Die swelsel het gesak," het hy verslae gesê, "maar ek kom vanaand weer."

Die gesin het aangehou met bid. Teen die aand het die gevaarlike rooi vlek langs die been so te sê verdwyn. En drie weke later was klein Dwight Eisenhower weer perdfris en op die been - gereed vir die taak wat later op hom sou wag om eers as militaris en later as president sy volk te dien.

Hierdie treffende gebedsverhoring moes beslis 'n groot invloed op die jong seun se geloofslewe uitgeoefen het. Hy was later jare allerweë bekend as 'n diep gelowige volksleier. Ek onthou goed dat iemand my met 'n besoek in die jare vyftig aan Washington DC die sitplek in die kerkgebou gewys het waar president Eisenhower elke Sondag sy plek getrou ingeneem het.

Ons vergeet so maklik dat God vandag nog gebede verhoor en dat ons so baie dinge in die lewe nie ontvang nie, omdat ons die Here nie op sy Woord wil neem nie. Tog het hy belowe: "Bid, en julle sal ontvang ..."

Soos Jakobus dit stel: "Julle het nie, omdat julle nie bid nie." (4:2). Dink maar aan 'n paar dinge waaraan ons so baie keer gebrek ly ... vrede, gemoedsrus, sukses, blydskap, oortuigingskrag, gesondheid ...

Dit net omdat ons nie bid nie.

Die meeste van ons bid wel ja, maar baie keer so verkeerd. Dink aan ons rammel- en sleurgebede, aan die baie gebede wat so halfhartig, ongereeld en selfsugtig gebid word. Geen wonder dat geen wonders gebeur nie.

Die armoede van die Christendom hang ten nouste met ons biddeloosheid saam. Tog is die gebed die asemhaling van 'n mens se siel. Wie daarom ophou om te bid, hou ook op om asem te haal en gaan mettertyd geestelik dood. 'n Gebed met net die lippe - sonder dat die hart by is - is harteloos, sielloos en waardeloos. So 'n gebed bring geen resultate nie, om van wonderwerke nie eens te praat nie.

Die voorreg en die gebedsverhoring is nie net vir spesiale mense bedoel nie. Tereg het Jakobus ook geskrywe: "Elia was 'n mens net soos ons ... en hy het gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit."(5:17).

Mense net soos ons. Elia, die Eisenhowers en baie ander mense voor en ná hulle, mense wat ondervind het dat God nie net hoor nie, maar ook verhoor, en dat wonderwerke nog gebeur - as ons God maar net op Sy Woord wil neem ...    

[Henno Cronje - Woord en Wêreld, Bylae by Die Volksblad, bl. 12, Saterdag 1 Maart 1980]      

Tuesday, 21 April 2026

Mandjie Hoop: Minsaamheid ...

Die beste beskrywing vir minsaamheid mag miskien wees: Liefde in aksie.
 
Liefde ontstaan uit 'n gevoel van barmhartigheid, medelye, van waarlik omgee vir andere, en 'n diep begeerte om hulle gelukkig te sien.

Selfs die geringste gebare van vriendelikheid teenoor ons medemens, kan verreikende gevolge hê, baie soos die golfies op 'n dam water wanneer 'n klippie daarin gegooi word.
 
Vriendelikheid kos so min, en is tog só kragtig dat dit mense se woede kan stil, hul pyn kan versag, en hul help om hulself as waardevolle kinders van 'n Hemelse Vader te sien.

'n Paar minute van onverdeelde aandag om te luister en te hoor wat 'n vriend vir ons wil sê - 'n glimlag of 'n sagte drukkie, is alles maniere waarop ons sê: "Ek gee om vir jou. Jy is baie belangrik vir my."

Die gedagtes, woorde en dade wat voortbloei uit ons liefdevolle hart, kan al hoe wyer van ons af uitkring, en 'n vriendeliker, liefdevolle wêreld tot gevolg hê.