Showing posts with label Brief. Show all posts
Showing posts with label Brief. Show all posts

Friday, 22 May 2026

Wat sê ons vir God?

Gabs Malan het die  volgende stukkie geskryf wat vandag nog net soveel waarde het en veral hier rondom Pinkstertyd.

"My laatlam meisiekind het 'n manier gehad om klein-klein briefies vir my te laat rondlê. Ek het al hierdie briefies in 'n album gebêre. Ek het onlangs weer deur die album geblaai en my daaraan verkneukel. Ek deel graag so drie van die briefies:

* 'Ek hou baie van mamma, want ma is so goet vir ons almal,'

* 'Liewe Muis, ek is so jammer ek het nie my tand nie. My ma het hom weggegooi, maar ek het my brief in my beste skoene gesit vir jou. Muis, sal jy asb vir my 'n bietjie geld gee vir my tand. Liefde Lindi .'

* 'Mamma is die beste mamma wat ek nog ooit gehad het. Ek het mamma baie lief.'

Hoe baie beteken hierdie soort briefies nie vir ons as ouers nie? Dis daar om te lees as die dae koud word en die nagte lank - in die dae van eensaamheid en vertwyfeling - dan gee dit my weer mooi herinnerings en moed - hierdie uitdrukkings van liefde van my dogter ...

Wat sê ons vir God?

Sê ons vir Hom hoe lief ons Hom het??

Sê ons ook vir Hom dat hy die beste God en Vader is?

Of is die meeste gesprekke met Hom slegs versoeke?
* Here, help my asseblief ...
* Maak tog my kind gesond ...
* Help tog my man ...
* Bring ons dogter veilig terug ...
* Seën ons gesin ...

Hoeveel DANKBAARHEID is daar in ons gebede? 

Watter wonderlike oomblikke is daar vir ons aardse moeders as ons kinders hul arms om ons kom sit en vir ons sê dat hulle ons so liefhet?

En ek en God?

Is ek nie ook die ontvanger van sy liefde nie? Sorg Hy nie ook al die jare vir my nie?
* Sy bewaring
* Sy liefde
* Sy vergifnis
* Sy hulp
* Sy troue sorg
* Sy bedagsaamheid
* Sy groot sondaarsliefde wat, ja, ook vir my insluit.
* Hy wat selfs bereid was om sy kosbaarste, SY SEUN te stuur om my te kom losmaak van die sondebande wat my vasgevang gehou het.

WAT SÊ EK VIR SOVEEL LIEFDE? 

Hemelse Vader
Ek het U baie lief!
Dankie vir alles wat U vir my is en doen.
Dankie dat U U is, en dat U U elke dag oor my ontferm.
Dankie vir Jesus -
Ek het U baie lief!
Jesus, ek het U baie lief - dankie dat U gekom het om my weer in ere by God te herstel sodat ek nou by God kan uitkom en met Hom kan praat soos 'n kind met sy vader.
Dankie dat U die Heilige Gees gestuur het om in my te kom woonb, om vir my elke dag te lei op die pad van die lewe - my te help om reg te kies, my lief te hê en te vertroos.
Dankie, Heilige Gees van God.
Ek het U baie lief! ...

Dankie, klein-klein Lindi, vir jou briefies en die GROOT les van dankbaarheid - dankbaarheid wat 'n mens in woorde kan sê om 'n ander se hart bly te maak.

Ek wil die Here loof,
Ek wil die Here loof
Met my hele hart
wil ek U loof!

Dawid het gesê: 'Ek het U hartlik lief, Here, my sterkte.' (Ps. 18)

Loflied op die almag en genade van God.
Ps. 33:1 'o REGVERDIGES, jubel in die Here! 'n Loflied betaam die opregtes.'

Ps 37:4 'en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.'"

[Spore - Mei/Junie 1984 - bl.13-14]

Wednesday, 11 March 2026

Kommunikasie: Die swart skaap

'n Leser skryf soos volg:

'n Man het 'n slagbok by ons kom haal. Hy was 'n Spoorwegwerker en hulle het 'n hele paar kindertjies gehad waarvan twee blind was. Een van hulle was juis siek, en in die stad vir 'n operasie aan die ogies. Sy vroutjie het laat vra of ek dan nie 'n hoender aan haar kon afstaan nie. Sy wou dit slag vir die pad wanneer sy weer gaan kind gaan besoek.

Ek het laat weet dat ek net 'n klompie henne het wat lê, en nie graag hulle wou wegmaak nie. Daar was egter 'n swart hennetjie met 'n seer voetjie wat sy maar kon kry. Ek het dit vir haar present gegee.

Iewers het iets my egter gehinder. Ek kon net nie my vinger daarop lê nie. Maar daardie aand, nadat almal in die huis al geslaap het, lê en lees ek die getuienis van 'n man wat, toe die wolpryse so goed was, 'n swart skaap as dankoffer gegee het. Daarna het hy so baie probleme ondervind dat hy en sy vrou ernstig begin bid het; en op hul knieë het hulle ontdek dat al die teenspoed hulle getref het omdat hulle die Here afgeskeep en Hom probeer bedrieg het. Nadat hulle hul sonde bely het, het hulle besluit dat die Here net die beste sou kry. En toe het al die moeilikhede verdwyn.

Toe ek hierdie stuk klaar gelees het, het die swart hennetjie onmiddellik voor my kom staan. Ek het dadelik gereageer en vir die Here gesê: "Here Jesus, ek weet dat u vannag nog al my henne kan laat doodgaan. Ek beloof om vir hierdie vroutjie een van my beste henne te gee." En ek het ook.

Is dit nie wonderlik hoe die Here werk nie? Hy het die getuienis van iemand gebruik om vir 'n ander tot seën te wees.

[Mev. M.V.] 

Sunday, 21 September 2025

BRIEFIE VAN JESUS

My dierbare Vriend

Hoe gaan dit met jou? Ek móét net hierdie briefie aan jou skryf om jou te vertel hóé baie ek vir jou omgee ...
Ek het gister gesien hoe jy met jou vriende gesels en het die hele dag gewag in die hoop dat jy ook met My sal gesels ...

Ek het aan jou 'n sonsondergang gegee om jou dag mee af te sluit, en 'n koel briesie om jou te verfris, en gewag ... maar jy het nie gekom nie. Dit het My díép seergemaak, maar ek hét jou nog steeds lief, want jý is Mý vriend.

Ek het jou laasnag sien slaap en wou graag jou voorkop streel, toe laat ek maar die maan se strale oor jou gesig speel; wéér het ek gewag ... gereed om my na jou te haas sodat ons lekker kon gesels. My trane was in die reën.

As jy maar net wil luister. Ek het jou só ontsettend baie lief. Ek probeer om dit aan jou te vertel in die blou lug en in die stil, groen gras; ek fluister dit in die blare van die bome en adem dit uit in die kleure van die blomme, roep dit jou toe in die gekabbel van die bergstrome en gee aan die voëltjies liefdesliedjies om vir jou te sing.

Ek klee jou met die koesterende sonskyn en sprei die aangename geure van die natuur oor jou uit. My liefde vir jou is díéper as die díépste oseaan, en gróter as die grootste begeerte in jou hart.

Vrá na my? Práát met my? Moet my ásseblief nie ignoreer of vergeet nie? Ek het só baie om met jou te deel!!
Ek sal jou nie verder pla nie ... dis jóú besluit of jy 'n plekkie in jou hart aan My wil afstaan ... Ek het vir jóú gekies en ek sal áltyd op jou wag - want ek het jou innig lief en sal jou vir ewig liefhê!

Jou vriend
JESUS

[Dankie, Rosetta]

Saturday, 22 August 2020

'n Brief van Fanus Hansen

Klik HIER om na die brief te luister wat vir my en vir
jou geskryf is en deel dit met ander.

Saturday, 11 May 2019

Van 'n ouer aan 'n kind ...


Ek het jou die lewe gegee, maar ...
ek kan dit nie vir jou lewe nie.
Ek kan jou dinge leer, maar ...
ek kan jou dit nie maak leer nie.
Ek kan jou probeer rigting gee, maar ...
ek is nie altyd daar om jou te lei nie.
Ek kan jou vryheid toelaat, maar ...
ek kan nie vir dit verantwoording doen nie.
Ek kan jou kerk toe neem, maar ...
ek kan jou nie maak glo nie.
Ek kan vir jou mooi klere koop, maar ...
ek kan jou nie van binne mooi maak nie.
Ek kan jou raad gee, maar ...
ek kan dit nie namens jou aanvaar nie.
Ek kan jou liefde gee, maar ...
ek kan dit nie op jou afdwing nie.
Ek kan jou leer om mededeelsaam te wees ...
ek kan jou nie onselfsugtig maak nie.
Ek kan jou leer om respek te hê, maar ...
ek kan jou nie dwing om eer te bewys nie.
Ek kan jou raad gee oor jou vriende, maar ...
ek kan hulle nie vir jou kies nie.
Ek kan jou leer omtrent seks, maar ...
ek kan jou nie rein hou nie.
Ek kan jou die feite van die lewe vertel maar ...
ek kan nie jou reputasie behou nie.
Ek kan jou vertel van drank, maar ...
ek kan nie namens jou nee sê nie.
Ek kan jou waarsku oor dwelms, maar ...
ek kan nie verhoed dat jy dit gebruik nie.
Ek kan jou vertel van hoë prestasies, maar ...
ek kan hulle nie vir jou bereik nie.
Ek kan jou vertel van goedheid, maar ...
ek kan jou nie forseer om genadig te wees
Ek kan jou waarsku omtrent sonde, maar ...
ek kan nie jou standaarde stel nie.
Ek het jou lief as my kind, maar ...
ek kan jou nie God se kind maak nie.
Ek kan jou leer van Jesus, maar ...
ek kan nie Jesus jou koning maak nie.
Ek kan jou leer van die lewe, maar ...
ek kan jou nie die Ewige Lewe gee nie. 

Liefde Mamma