'n Leser skryf soos volg:
'n Man het 'n slagbok by ons kom haal. Hy was 'n Spoorwegwerker en hulle het 'n hele paar kindertjies gehad waarvan twee blind was. Een van hulle was juis siek, en in die stad vir 'n operasie aan die ogies. Sy vroutjie het laat vra of ek dan nie 'n hoender aan haar kon afstaan nie. Sy wou dit slag vir die pad wanneer sy weer gaan kind gaan besoek.
Ek het laat weet dat ek net 'n klompie henne het wat lê, en nie graag hulle wou wegmaak nie. Daar was egter 'n swart hennetjie met 'n seer voetjie wat sy maar kon kry. Ek het dit vir haar present gegee.
Iewers het iets my egter gehinder. Ek kon net nie my vinger daarop lê nie. Maar daardie aand, nadat almal in die huis al geslaap het, lê en lees ek die getuienis van 'n man wat, toe die wolpryse so goed was, 'n swart skaap as dankoffer gegee het. Daarna het hy so baie probleme ondervind dat hy en sy vrou ernstig begin bid het; en op hul knieë het hulle ontdek dat al die teenspoed hulle getref het omdat hulle die Here afgeskeep en Hom probeer bedrieg het. Nadat hulle hul sonde bely het, het hulle besluit dat die Here net die beste sou kry. En toe het al die moeilikhede verdwyn.
Toe ek hierdie stuk klaar gelees het, het die swart hennetjie onmiddellik voor my kom staan. Ek het dadelik gereageer en vir die Here gesê: "Here Jesus, ek weet dat u vannag nog al my henne kan laat doodgaan. Ek beloof om vir hierdie vroutjie een van my beste henne te gee." En ek het ook.
Is dit nie wonderlik hoe die Here werk nie? Hy het die getuienis van iemand gebruik om vir 'n ander tot seën te wees.
[Mev. M.V.]