Thursday, 26 March 2026

Uitreik: Enigste hoop vir die toekoms

In hoofstuk 1:16 skryf Paulus aan die Romeine: "Ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek."

In Paulus se dae het die Grieke meer in poësie en filosofie belanggestel as in iets anders. Dié soort godsdiens wat hulle maklik kon aanvaar, was "verlossing deur kennis," omdat hulle gehou het van enigiets wat met wysheid te doene gehad het. Toe Paulus dus gespreek het oor verlossing deur geloof in Jesus Christus wat gekruisig is, het die Grieke hom vir 'n dwaas aangesien.

Die Jode daarenteen, het belanggestel in die leerstelling van die "verlossing deur werke." Hulle het gedink dat hulle as uitverkore volk gered sou word deur die formele nakoming van die tien gebooie en seremoniële wette. Toe Paulus hulle op die dwaling wys en dit beklemtoon dat hulle slegs deur geloof in Jesus Christus gered kon word, het hulle hom gehaat. Vir hulle was die evangelie 'n struikelblok.

Daar is vandag nog 'n groep mense wat soos die Grieke van destyds bloot belangstel in die sogenaamde wetenskap, en die filosofie aanhang wat God ignoreer. Daar is hulle wat liewer die evolusieleer ondersteun en grade toeken aan mense omdat hulle sulke leuens glo, as om God as Skepper te erken en te gehoorsaam. Hulle verag die Kruis-evangelie en beskou die Christelike geloof as dwaasheid.

'n Ander groep glo dat Jesus Christus 'n geskiedkundige persoon en profeet was, maar omdat hulle gemaklik wil lewe en die wêreldse dinge wil geniet, weier hulle om Hom as Verlosser aan te neem. 

Daar is ook diegene wat 'n hekel het in mense wat die waarheid van die evangelie aan hulle wil openbaar, omdat dit hulle rus verstoor. Die evangelie is vir hulle 'n struikelblok.

Tog bly die evangelie die enigste hoop in die deurmekaar wêreld en vir die toekoms.

Ons is die draers van die Evangelie en as ek nie 'n aktiewe dissipel is nie, hoe gaan hierdie verlossingsboodskap by my familie, my buurman en my medemens uitkom nie. 

Daar is nie meer tyd om te sit en wag vir ander om dit te doen nie - die tyd is min!

Getuienis-uitreik:
Wanneer: Getuienis-uitreike vind Sondae direk na die erediens plaas.
Kontak Coen by: 082 821 0217 vir verdere inligting.

[The Railway Messenger  July 1985 - Tekens van die tye]