Wednesday 31 May 2023

Ruikers van die lewe


Elkeen het sy eie tuintjie in sy lewe
Want elkeen is die tuiner van sy eie lewe.
God het aan ons elkeen saad gegee.
Hoe ons dit plant en versorg sal beslis
of ons die groot voorreg sal hê
om eendag voor die
groot Tuinier te verskyn - 
dalk met 'n bossie dooie
of verlepte blommetjies
of dalk met 'n bossie fyn,
broos blommetjies,
lewendig en aangenaam gegeur.

Deur die jare heen sal jy jou blommetjies se saad oes.
Moenie huiwerig wees om dit wild te strooi nie.
Hoe welkom is 'n bossie vriendelikheid
of hulpvaardigheid getooi met 'n glimlag
nie dikwels aan 'n persoon nie?

Maai die onkruid van sonde uit en verbrand dit,
want dit sal altyd in jou blombedding verskyn.
En as dit eers diep gewortel is,
raak jy moeilik daarvan ontslae.

Voor jou deur sal daar ook baie bossies blomme neergesit word.
Party sal eg lyk,
maar later sal jy sien dit is slegs kunsblomme.
Ander sal verwelk en tot niet gaan,
maar ander sal vars en geurig bly
en elke dag 'n ryper skoonheid afgee.

Vir dié wat 'n bossie kwaadstook aan jou stuur,
stuur aan hulle 'n bossie mooi opregte komplimente met 'n uitnodiging na God se huis.

Vir die wat 'n bossie onvriendelikheid stuur,
stuur aan hulle 'n bossie vriendelikheid,
gegeur met een van Dawid se Psalms.

Vir dié wat aan jou 'n bossie haat stuur,
stuur aan hulle 'n bossie liefde,
getooi met die oggend se doudruppels.

Vir die wat aan jou 'n bossie norsheid stuur,
stuur aan hulle 'n bossie blymoedigheid saam met 'n brief van Paulus.

Aan die wat aan jou 'n bossie van GELOOF, HOOP en LIEFDE stuur, 
stuur jy dubbel soveel terug met seënwense.
Die grootste van die drie ruikers
sal dié een wees van die LIEFDE,
met Korinthiers 13 ingesluit

[Dankie, Anoniem, vir hierdie waarheid.]

Die ouderdom

Die ouderdom is 'n blikslater ...
Hy bekruip jou.
Soos droogte in die Boesmanland.
Stadig.
Maar seker.
Hy maak jou krom.
Hy maak jou stom.
Hy maak jou vergeet.
Hy knibbel stomp-tand
aan eergister se onthou.
Hy stroop die bas van jou onthouboom.
Hy los jou alleen.
Met net gedagtes.
Ver gedagtes.
Wat jou terugvat na jou jonkweesdae.
Jou eerste Daan Desimaal-jare.

Maar die ouderdom
maak jou ook astrant.
Soms neuk hy stroom-op met jou.
Na daar waar jy weet jy nie
eintlik moet gaan krap nie.
Want dis die plek van die
Groot Nostalgie.
Wanneer jy sonder dat jy wou,
skielik daai ou droë Heimweeboom
begin klim.
Ja, hoog in die takke is jy.
Jy raak dik gedrink.
Van die verlange se waters.
Jy boor diep.
Slukkie vir slukkie drink jy
uit blou jare terug se vars boorgate.
Jou kinderjare.
Skoolgaanjare.
Vingerbordjare.
Bok-bok-staan-styf-jare.
Jonk-verlief-wees-jare...

Soms praat jy met jouself.
Saggies.
Of so dink jy.
Want jou ore hoor nie meer
soos destyds nie.
Al is hulle nou groter ...
Ja, jou gesig krimp,
maar jou neus en ore word groter.
Jou tande raak stomp.
Jy word lomp.

Ouderdom is soos `n steeks donkie.
Hy briek jou.
Jý wil, maar jou bene steek vas.
Viervoet vat hy jou vloer toe.
Loopraam toe.
Soos `n kind.
Só stroop hy jou selfvertroue.
Gister se bravade maak plek
vir vandag se bang.

Ouderdom steel.
Jou onafhanklikheid.
Jou karsleutels.
Jou lisensie ...
Hy lewer jou oor.
Aan ander se genade.
Hy maak jou sag.
Weerloos.
En eensaam.
Hy laat jou huil.
Sommer oor niks.
Sommer oor alles.

Die ouderdom is `n wetter.
Met `n hoofletter!
Hy ruk jou uit jou huis uit.
Ontvoer jou.
Teen jou wil.
Huis Herfsblaar toe.
Waar Matrone jou baas is.
Huisreëls jou bind.
Styf.
Vas.
Met oumenstoue.
Waarvoor jy `n helse prys betaal.
Letterlik.
Terwyl jy Genadebrood moet eet ...
En perdesalf op ou spiere
se seer smeer.
Ouderdom druk jou smaakkliere toe.
Jy verloor jou proe.
Hy vat jou eetlus weg.
Jou energie.
Hy breek jou spoed.

Maar ouderdom leer jou ook geduld,
want die kinders kom kuier op húlle tyd.
Ouderdom laat jou spog.
Te veel.
Oor die kleinkinders.
Wat jou siel lawe!
Saam met die jare se grysheid,
kom daar darem ook `n bietjie wysheid.
En diepe dankbaarheid.
Vir gespaarde jare
uit Sy hand uit.

Maar dan.
Later.
Raak jý stadig maar seker weer kind.
Moet jy gewoond raak aan die
alewige verkleinwoordjies ...
En om na jou kinders te luister!

Geskryf: Barney Louw

[Dankie, Jan Harm, vir hierdie bydrae.]

Monday 29 May 2023

Ons spore is net aan ons geleen

Die spore van gister lê oral om ons heen.
Ons almal het spore wat ons leen.
Ons spore van gister is daar gelaat en dalk al toegemaak.
Môre se spore is die gister se spore van vandag.
Ons spore lê soms diep en ons spore lê soms vlak,
maar 'n spoor is daar!
Ons spore bly soms agter op iemand anders se hart ...
Daardie spore van 'n liefdeshart.
Elke mens het 'n spoor en elke mens het seer,
maar daar is 'n rede vir jou spoor.
Daar kom spore oor ons pad wat diep aan ons hart vat.
Dit is soos gegote spore in die beton van ons hart.
Soms, as ons omkyk, is ons spore alleen ...
Dan wonder ons waar is die ander spore heen.
En besef ons ... ons spore is net geleen ...

[Oorgeneem: internet]

Saturday 27 May 2023

Koffiehuiskonsertfoto's 2023

Kimberley se koue is 'n koue wat deur murg en been sny om 'n vastrapplekkie in jou gebeente te soek. Fanie Minne lyk soos een van die drie wyse manne, maar hierdie was 'n koffiehuiskonsert en nie 'n kerskonsert nie. Dit was Fanie se poging om die koue te fnuik, iets wat baie moeilik is in 'n kerksaal agter die verhoog se gordyne.                                                                                                                                                                2023 se koffiehuiskonsert het egter gesorg vir warm harte, geoefende lagspiere en meer nog ... 'n ligte gemoed ... die koue ten spyt. Saterdagoggend het skaars aangebreek of hoogtepunte en lagwekkende dele word oor 'n koppie heerlike warm koffie weer vertel, gedramatiseer, weer gelag ... net om tot die slotsom te kom dat 2024 se koffiehuiskonsert 'n moet is op 2024 se kerkkalender.    


Ds. Ensie, Annatjie en Natalie Willemse in
Ek is nou nie 'n dokter nie.
Ds. Ensie en Pieter Britz in die Parlementsitting
(Kerkraadsvergadering)


Bets le Roux & Coen Visser -
trekklavier & kitaar




Elsa Minne & Wian Willemse (6 jaar oud) -
Ribbebeen




Foto's: Elsa Minne

Terugflits: Wat beteken dit as pa die dag vleis braai?


Mans hou daarvan om vleis te braai. Wanneer pa aanbied om Sondagmiddag na kerk vleis te braai, kom die volgende stappe in werking:
  • Ma gaan winkel toe om vleis, ens. te koop.
  • Sondag na kerk maak Vroulief die slaaie en poeding. Pa steek die vuur op - wat 'n ritueel!
  • Vroulief kry die vleis reg vir die braai, plaas dit saam met die nodige speserye, ens. op 'n skinkbord en neem dit vir haar man wat reeds by die vuur sit.
  • Hy plaas die vleis sorgvuldig op die rooster - net hy weet presies hoe!
  • Vroulief gaan na binne om die tafel te dek en na die ander kosse om te sien.
  • Sy kom later weer uit om vir hom te sê dat die vleis brand.
  • Hy haal die vleis af in die bak wat sy gebring het en gee dit vir haar en maak 'n volgende koeldrank (?) oop.
  • Sy haal die borde uit die lou-oond en roep haar man en die kinders om te kom eet.
  • Na ete was sy en die kinders die skottelgoed en maak alles aan die kant.
Dan vra Pa, uit sy gemakstoel, hoe sy die braai-ete en haar dag-af geniet het.

En wanneer hy die ergerlikheid in haar oë sien, dink hy: "Vroumense is ook nooit tevrede en dankbaar nie!"

[Uit: NG Gemeente Dutoitspan-afkondigings - 12 Desember 2010]

Friday 26 May 2023

Koffiehuiskonsert: 26 Mei 2023


LAG gewaarborg!!
Klim op die lekker-lag-vliegtuig en vergeet 'n wyle van PROBLEME!!  

Plek: Dutoitspan-kerksaal (Hier waar jy jou swaarkry-bekommernis kan vervang met lekkerkry-lag - met apologie aan Langenhoven.)

Nooi jou familie, bure, vriend en vyand om teen R10 per persoon te ontspan - beter as enige TV-program.

Kontak: Pieter Britz by 082 290 2104 vir kaartjies vir die hele gesin.
Kerkkantoor: 053 842 1100 vir die winskoop van die jaar!

Moenie te laat wakkerskrik nie - beperkte aantal sitplekke!!!
KAARTJIES OOK BY DEURE BESKIKBAAR!!

Saturday 20 May 2023

Terugflits: 'n Liedjie vir die lang pad ...??

 Indien jy vinnig (te vinnig) op die lang pad ry, sing gerus hierdie liedjie hardop ...
 

Teen 104 km per uur

God will take care of me

Teen 120 km per uur

Guide me, O, Great Jehova

Teen 140 km per uur

Nearer my God to Thee

Teen 150 km per uur

Nearer, still nearer

Teen 170 km per uur

The world is not my home

Teen 185 km per uur

Lord, I'm coming home

Teen 200 km per uur

Precious memories

 [Uit: NG Gemeente Dutoitspan-afkondigings - 12 Desember 2010]

Friday 19 May 2023

Lief en leed: Ons groet vir John O'Ehley


Wat ek is, is net genade,
Wat ek het, is net geleen.
Eintlik smag ek na U waters van rus
Lei my, Heer, vanaand daarheen.
[Gebed van Koos du Plessis]

’n Geliefde inwoner van Ons Huis en 'n jarelange gemeentelid, John O'Ehley (76), is gisteroggend oorlede.

Hy stap vanaf 1992 'n pad met Dutoitspan-gemeente. 'n Vriendelike, innemende mens met 'n blymoedige geaardheid - 'n fyn waarnemer. 

Hy was 'n baie getroue kerkganger en al kon hy die laaste ruk nie meer hoor nie, wou én het hy elke Sondag kerk toe gekom. Pieter Britz het hom Sondae kerk toe gebring. Dit was sy gebruik om altyd so 'n uur voor die diens sy plek in te neem en die tyd dan te gebruik om te bid. 'n Stille voorbeeld vir ons almal. 

Die troosdiens is Vrydagoggend, 26 Mei om 10h00 in Ons Huis se siekeboeg. Dit sal deur ds. Ensie gelei word.

Rus in vrede, liewe oom John.

Gebed: Gebruik my vir vrede op aarde

Gee my vandag die moed, Here
om te wys waarvoor ek staan;
om op te staan vir die reg van hulle
wat hulself nie kan verdedig nie,
selfs al sou dit onreg teenoor myself ontlok.

Help my om aan niks hoër prioriteit te gee
as aan U nie;
om niks liewer te hê
as vir U nie;
want dan sal ek niks hoef te vrees nie
behalwe om U te verloën.

Help my om van niks 'n afgod te maak 
wat u plek kan inneem nie,
nie van die staat, of my kerk
of my politieke party nie,
nie van geld of status of eie belang nie.

Help my om geen ander vorm van vrede te soek
as dié wat net U kan gee nie.
Maak my 'n instrument van daardie vrede, Here,
deurdat U my oë en my ore en my hart oopmaak
sodat ek duidelik sal weet 
hoe U my wil gebruik om te werk
vir U vrede op aarde.

Alan Paton

[Uit: NG Gemeente Dutoitspan-afkondigings - 16 Januarie 2011]

Koffiehuiskonsert: 26 Mei 2023

Moenie wag nie!! Koop jou kaartjies vroegtydig!! 

Plek: Dutoitspan-kerksaal (Hier waar jy jou swaarkry-bekommernis kan vervang met lekkerkry-lag - met apologie aan Langenhoven.)

Nooi jou familie, bure, vriend en vyand om teen R10 per persoon te ontspan - beter as enige TV-program.  

Kontak: Pieter Britz by 082 290 2104 vir kaartjies vir die hele gesin.
Kerkkantoor: 053 842 1100 vir die winskoop van die jaar!

Moenie te laat wakkerskrik nie - beperkte aantal sitplekke!!! 

Thursday 18 May 2023

Koffiehuiskonsert: 26 Mei 2023

Koop jou kaartjies vroegtydig!! 

Hierdie is 50 jaar terug se kaartjiepryse en daarvoor kan jy vir twee heerlike ure vergeet van beurtkrag, waterprobleme, gate in die pad en die prys van petrol. Kom lag, gesels en ontspan. Vrydagaandete is by die koffiehuiskonsert beskikbaar en los sommer ma se probleem ook op.

Kontak: Pieter Britz by 082 290 2104 vir kaartjies vir die hele gesin.
Kerkkantoor: 053 842 1100 vir die winskoop van die jaar!

Believe the best is yet to come


Accept what you cannot change.
Stop playing the blame-game.
Discover the wonderful person you really are.
Apply healing medicine to your emotional wounds.
Choose and cultivate a positive attitude.
Love again - only more.
Put your failures behind you and move ahead.
Turn your scars into stars.
Dream a new dream.  
Believe the best is yet to come.

Leo Buscaglia

[From: NG Gemeente Dutoitspan-afkondigings - 16 Januarie 2011] 

Wednesday 17 May 2023

Wat my ma my geleer het ...

Ma het my geleer om werk wat gedoen is, te waardeer: "As julle mekaar wil doodmaak, doen dit net buite, ek het nou net hier klaar skoongemaak."

Sy het my van godsdiens geleer: "Jy moet bid dat daardie kol op die mat uit is as ek vanaand by die huis kom"
Sy het my van tyd geleer: "Ek sal jou tot in volgende week in klap, as jy nie nou opruim nie!"

Sy het my geleer pa's is slimmer en ryker as ma's: "Gaan vra jou pa!"

Sy het my oor plantkunde geleer: "Lyk dit vir jou of geld op my rug groei?"

Sy het my geleer om altyd nederig en klein te wees: "Meneertjie!!!"

Sy het my van die weer geleer: "Dit lyk of 'n dekselse orkaan jou kamer getref het!"

Sy het my geleer om myself te ontdek: "Hou op om jou soos jou pa te gedra!"

Sy het my van die wetenskap van osmose geleer: "Maak toe jou mond en eet jou kos!"

Sy het my van uithouvermoë geleer: "Jy sal by daardie tafel sit totdat jy jou groente opgeëet het!"

Sy het my geleer van sintuie: "Kinders word gesien en nie gehoor nie!"

Sy het my geleer van humor: "Hou aan lag, dan gee ek jou iets om oor te huil ook!"

Sy het my van jaloesie geleer: "Daar is duisende arm kindertjies wat ouers soos joune begeer!"

Sy het my wiskunde geleer: "Sit jy alweer en tande tel!"

Sy het my geleer tel: "Ek tel net tot 10 ... 1, 2, 3 ..."

Sy het my logika geleer: "Want ek sê so, dis hoekom!"

Sy het my geleer dat wonderwerke nog kan gebeur: "Ek sal jou klap dat jy jou tannie vir 'n eendvoël aansien as jy my weer terug antwoord!"

Sy het my ook geleer van persoonlike reiniging: "Jy kan dit op jou maag skryf, en dit met jou hemp afvee"

Sy het my selfs geleer van regsaspekte: "Gaan kla by die magistraat"

Ai, my Ma is darem maar slim ...

[Dankie, Elmari, vir die deel van hierdie stukkie wysheid.]

Klik HIER vir nog ma-gedagtes.

Tuesday 16 May 2023

Later ... wanneer is dit?

Skaars het die dag begin, dan is dit al sesuur saans.
Skaars breek Maandag aan, dan is dit weer Vrydag.
... en die maand is verby.
... en die jaar is verby.
... en so vergaan 30, 40, 50, 60 jare van ons lewens.
Skielik besef ons, hoeveel mense ons al verloor het. 
Ouers, familie, vriende en kennisse.
'n Terug is daar nie!
So laat ons die tyd geniet, wat ons nog oor het.
Laat ons nie ophou om tyd te gebruik, soos dit ons gelukkig maak nie.
Laat ons kleur voeg by ons gryse dae!
Laat ons glimlag oor dinge wat ons harte streel.
Ons moet die tyd wat ons oorhet, met rustigheid en vertroue geniet: die woord "later" uitskakel.
Ek doen dit later ...
Ek sê dit later ...
Ek sal later daaroor dink ...
Ons los alles altyd vir later!
Later is dalk te laat! 
Want, wat ons nie verstaan nie is:
Later is die koffie koud.
Later het prioriteite verander.
Later is die sjarme gebreek.
Later is die gesondheid verby.
Later is die kinders groot.
Later is ons ouers oud.
Later word gesprekke vergeet.
Later verander dag na nag.
Later eindig die lewe ...
En dan is dit te laat!
So asseblief, moet niks uitstel tot later!
Want intussen kan ons die beste oomblikke verloor ...
Die beste ondervindinge
Die beste familie
Die beste vriende
Vandag is dié dag! 
Die oomblik is nou!

Ons is nie meer jonk genoeg, om dinge wat vandag gedoen kan word, na môre te skuif nie.
Kom ons wees vandag net dankbaar vir diegene wat deel van ons lewens is.
Kom ons gee vandag 'n kompliment vir hulle wat ons pad kruis.
Kom ons reik vandag uit na iemand wat ons regtig nodig het.
Kom ons besoek vandag iemand wat siek is of bedlêend is en wat verlang na geselskap.
Kom ons bid vandag vir ons familie, vriende, die kerk, ons leiers op alle terreine en ons land.
Vandag is dié dag! 
Die oomblik is nou!
Môre is dalk te laat ...

[Dankie, Ina, wat hierdie stukkie met ons deel.] 
 

Monday 15 May 2023

Interessante statistiek na Moedersdag


Moedersdagbladsy is 344 keer besoek.
'n Kortkop agter die eerste bladsy is die een oor die basaaridees.

 

84 000 keer dankie!

Sunday 14 May 2023

'n Geseënde Moedersdag


Daar is 'n ou Joodse spreekwoord wat lui:
God kan nie oral gelyk wees nie,
daarom het Hy ma’s gemaak.


Elke ma weet dat sy besonders en spesiaal is, maar dat sy ook 'n groot verantwoordelikheid het om God se beelddraer te wees. Geniet 2023 se Moedersdag. Mag hierdie dag 'n dag vol liefde, vreugde, omgee, samesyn, maar ook diepe dankbaarheid wees.
 Gaan loer HIER vir nog boodskappies.

Saturday 13 May 2023

Nog foto's van die heerlike gesinsnaweek

Kom blaai geus deur die fotoverhaal van 'n onvergeetlike naweek.
 
Gesinskamp: 2023 (Foto's deel 1)

Gesinskamp: 2023 (Foto's deel 2)

(Gesinskamp deel 2 is foto's wat Rencia le Roux met die lesers deel. Baie dankie!)

Wat is Liefde?

Liefde is nie wat jy kan kry nie, maar wat jy kan gee.
Liefde is nie wat ander vir jou kan doen nie, maar wat jy vir ander kan doen.
Liefde is 'n glimlag nie 'n frons nie.
Liefde is 'n drukkie nie 'n klap in die gesig nie.
Liefde is omgee nie misbruik nie.
Liefde is om die sambreel vir iemand in die storm te wees en die reënboog na die storm.
Liefde is om iemand se trane af te vee nie dit te veroorsaak nie.
Liefde is om boek te hou van goeie tye nie die slegte tye nie.
Liefde vergewe nog voor iemand jou seergemaak het.
Liefde maak van jou 'n ligtoring wat ander die rigting wys in die donker.
Liefde maak van jou 'n boom wat koelte gee vir die wat rus nodig het.
Liefde word nie gespreek nie maar gewys.
Liefde kan genees, vertroos, versterk al het jy niks om iemand te bied nie.
Maar jy het die liefde wat geld nie kan koop nie.

Friday 12 May 2023

n Breinknoper vir die naweek

Jy ry een aand deur die dorp, terwyl die wind woes waai en vlae reën neerstort. Toe jy by die bushalte verby ry, staan die volgende drie persone daar in die reën en koue:
  • 1. 'n Ou dame wat lyk asof sy enige oomblik ineen gaan stort.
  • 2. 'n Ou vriend van jou wat jare terug jou lewe gered het.
  • 3. Die perfekte (potensiële) lewensmaat van wie jy gedroom het.
Vir wie sal jy 'n rygeleentheid gee - met die beperking dat jy net plek vir een passasier het?

Dink oor die vraag en klik HIER vir die antwoord. 

Terugblik op die gesinsnaweek

Die samelewing is só gejaagd en die mense aan wie ons die meeste tyd moet spandeer, kry en sien die minste van mekaar. Daar is só baie invloede van buite wat op ons tyd en gesinstyd aanspraak maak, dat ons as 'n gesin bymekaar verby leef. Daarom dat hierdie naweek se tema Gesin vir God was.

In 'n ontspanne atmosfeer, weg van die huis af, wil die kerk gesinne die geleentheid bied om weer bymekaar uit te kom. Verskillende aktiwiteite het bygedra tot die atmosfeer ... en as 'n mens so na die foto's kyk, wil dit al voorkom asof hier vissers van gemeentelede gemaak is.


Daar word gekyk na 'n kort opsomming van die 5 liefdestale is:
  • Fisiese aanraking: Jy voel geliefd as iemand jou liefdevol aanraak.
  • Dade van diensbaarheid: Jy voel geliefd as ander jou help met takies of jou dien deur iets vir jou te doen.
  • Opbouende woorde: Jy voel geliefd as iemand jou komplimenteer of hul goedkeuring oor jou uitspreek.
  • Kwaliteittyd: Jy voel geliefd as iemand tyd met jou spandeer en hul aandag vir jou gee.
  • Geskenke: Jy voel geliefd as iemand vir jou iets gee wat hulle aan jou laat dink het.
Hierdie gesinskamp was 'n lewensveranderende kamp vir baie. Ons moet nou so leef dat ons geloof vir God dividente lewer.

Klik HIER en HIER en HIER vir foto's.

Monday 8 May 2023

'n Heerlike gesinsnaweek

 




'n Onvergeetlike naweek by Pro Regno. Klik HIER vir heerlike foto's.

[Foto's: Elsa Minne]

Sunday 7 May 2023

Ken jy die antwoord?

*

Wat is die heel beste middel teen spanning en stres, altyd tot almal se beskikking en heeltemal gratis?
Die antwoord is lag.
(Hierdie middel/medikasie is deel van ons DNA - deur ons Maker ingebou - gebruik dit net.]
Die heerlike lag wat diep in ons wese begin, wat ons mond vul met gelag en ons tong met gejubel.
Selfs net ‘n glimlag is genoeg om ons gedagtes ‘n positiewe wending te laat neem.
Dit is ons sin vir humor wat ons die komiese in een of ander situasie laat sien en ons lagspiere prikkel, en hoe nodig het ons dit nie in hierdie wêreld van vandag met al sy uitdagings nie!
Hoe gereeld gebruik ons hierdie middel?
Ons moet egter onthou dat die lewe nie altyd maanskyn en rose is nie.
Dan moet ons nie soek na iets om oor te lag nie, want dit sal beslis nie ons sin vir humor weerspieël nie, maar eerder ‘n gebrek aan liefde en empatie.
Soms is ons geneig om ‘n berg van ‘n molshoop te maak, en dit is hier waar ‘n sin vir humor ons kan red uit ‘n situasie wat na ons mening net te ernstig geraak het.
As geestelike wesens op ‘n pad van lig, sê ons: “Dankie Vader, vir die vermoë om te kan lag!”
Dis die beste raad en boonop is dit verniet!
Deel dit uit, maar gebruik hierdie raad ook so dikwels as moontlik.

[*Gaan lees gerus die stukkie in Mieliestronk.]

Die Geheim

Eendag vra die een vriend vir die ander:
"Hoe is dit moontlik dat jy altyd so gelukkig is?
Jy het soveel energie,
En ek het jou nog nooit af of moeg gesien nie ... "
Met 'n glimlag in sy oë sê hy:
"Ek ken die geheim!"
"Wat se geheim is dit?"
Hy antwoord:
"Ek sal jou alles van die geheim vertel,
Maar jy moet my belowe,
Dat jy die geheim met almal sal deel."
Na instemming sê hy: 
"Die geheim is dat ek het geleer dat daar min in my lewe is
wat ek kan doen om myself werklik gelukkig te maak.
Ek moet op God vertrou om my
gelukkig te maak en te voorsien in my behoeftes.
Wanneer 'n behoefte in my lewe ontstaan,
moet ek op God vertrou om daarin te voorsien ...
Ooreenkomstig Sy besluit.
Ek het geleer dat die meeste van die tyd
het ek nie die helfte nodig van dit wat ek wil hê nie.
Hy het my nog nooit teleurgestel nie.
Vandat ek hierdie geheim geleer het, is ek gelukkig."
Die vriend se eerste gedagte was:
"Dit is te simpel en te eenvoudig!"
Maar nadat hy sy eie lewe oordink het,
besef hy, hy het gedink 'n groter huis sal hom gelukkiger maak, maar nee, dit het nie!
'n Meer betalende werk sal hom gelukkiger maak, maar dit het nie.
Wanneer het hy besef was hy op sy gelukkigste?
Toe hy saam met sy kinders en nou saam met sy kleinkinders op die mat gesit het,
en speletjies gespeel, pizza geëet en vir hulle 'n storie gelees het.
'n Geskenk van God.
Nou weet jy dit ook!
Mens kan nie op mense vertrou om jou gelukkig te maak nie.
GOD en Sy wysheid alleen kan dit doen.
Vertrou op Hom!
Hierdie geheim word nou met elke leser gedeel.

Saturday 6 May 2023

Psalm 23 DB

Die Here sorg vir my soos 'n herder wat Sy skape oppas;
ek het niks meer nodig nie
Hy gee vir my die heel beste van alles; kos, veiligheid en vrede!
Omdat die Here by my is, bekommer ek my nie.
Wanneer ek moedeloos word, laat Hy my die lewe weer anders sien!
Hy gee my krag om elke dag reg te lewe!
Soos 'n goeie gids lei Hy my elke dag om volgens Sy wil te lewe.
Almal in my lewe kan sien hoe belangrik God is.
Selfs wanneer die lewe vir my so donker word dat ek nie weet watter kant toe nie, sal ek nie bang wees dat probleme my onderkry nie, want U is altyd by my!
Dit troos my dat U my lei en beskerm. U laat my veilig voel.
Soos 'n gasheer sit U net die beste van die lewe aan my voor;
hulle wat nie naby U lewe nie, kan maar net verleë toekyk.
U behandel my soos 'n spesiale gas; ek geniet alles in oorvloed.
U sal vir my goed wees en my liefhê so lank as wat ek lewe;
ek sal naby U lewe tot ek die dag doodgaan!

[Klik HIER vir die Griekwa-psalm.]

Friday 5 May 2023

Van ‘n ouer aan 'n kind

Ek het jou die lewe gegee, maar ek kan dit nie vir jou lewe nie.Ek kan jou dinge leer, maar ek kan jou dit nie maak leer nie.
Ek kan jou rigting probeer gee, maar ek is nie daar om jou te lei nie.
Ek kan jou vryheid toelaat, maar ek kan nie daarvoor verantwoording doen nie.
Ek kan jou kerk toe neem, maar ek kan jou nie maak glo nie.
Ek kan jou leer onderskei tussen reg en verkeerd, maar ek kan nie vir jou besluit nie.
Ek kan vir jou mooi klere koop, maar ek kan jou nie van binne mooi maak nie.
Ek kan jou raad gee, maar ek kan dit nie namens jou aanvaar nie.
Ek kan jou liefde gee, maar ek kan dit nie op jou afdwing nie.
Ek kan jou leer om mededeelsaam te wees, maar ek kan jou nie onselfsugtig maak nie.
Ek kan jou leer om respek te hê, maar ek kan jou nie dwing om eer te bewys nie.
Ek kan jou raad gee oor vriende, maar ek kan hulle nie vir jou kies nie.
Ek kan jou leer omtrent seks, maar ek kan jou nie rein hou nie.
Ek kan vir jou die feite van die lewe vertel, maar ek kan nie jou reputasie behou nie.
Ek kan jou vertel van drank, maar ek kan nie namens jou NEE sê nie.
Ek kan jou waarsku teen dwelms, maar ek kan nie verhoed dat jy hulle gebruik nie.
Ek kan jou vertel van hoë prestasies, maar ek kan hulle nie vir jou bereik nie.
Ek kan jou vertel van goedheid, maar ek kan jou nie forseer om genadig te wees nie.
Ek kan jou waarsku omtrent sonde, maar ek kan nie jou standaarde stel nie.
Ek het jou lief as my kind, maar ek kan jou nie God se kind maak nie.
Ek kan vir jou bid, maar ek kan nie maak dat jy met God wandel nie.
Ek kan jou leer van Jesus, maar ek kan nie Jesus jou Koning maak nie.
Ek kan jou leer van die lewe, maar ek kan jou nie die Ewige Lewe gee nie.
- Onbekend

Thursday 4 May 2023

Onthou Moedersdag: gee jou blomme voordat dit te laat is ...

"As jy die mense op straat, in die winkel, kafee of werksplek hoor praat, kry jy die indruk dat die meeste mense slegte mense is. As jy dan vir een week lank by alle begrafnisse in jou omgewing aandoen en al die Ter herinnering aan lees, sal jy dink dat daar nie slegte mense bestaan nie en dat alle vaders en moeders ideale vaders en moeders is en dat al die eggenotes teergeliefd en vol toewyding en sorg was! 

Nooit lees jy in 'n doodsberig die nuus: Hy was 'n buffel  of  Sy was 'n kwaadstoker of Sy was 'n slegte ma nie. Ons kan van 'n grafskrif alles leer, behalwe een ding: Moenie wag tot iemand dood is voor jy vir hom of vir haar 'n pluimpie gee nie! Bring jou blomme nou voordat ek dood is!" 

Moedersdag lê om die draai en met bogenoemde in gedagte: Onthou om vir jou ma blomme te koop hierdie MOEDERSDAG of gaan drink net 'n koppie tee saam met haar. 'n Dankie of 'n pluimpie kos nie geld nie, doen dit sommer vandag nog.

[Dankie, Anoniem, vir hierdie stukkie waarheid.]