Showing posts with label Rinus Slabbert. Show all posts
Showing posts with label Rinus Slabbert. Show all posts

Thursday, 12 June 2025

'n Kers vir Rinus Slabbert

Ewigheid

Iewers is dit als verby
en staan jy wat agterbly
vir lank verslae, verstom, verpletter …
Verblind!

Want sien jy my dan nie dwaal
deur die melkweg nie?
En voel jy nie hoe waai
my asem in die winde nie?
Hoor jy nie my fluisterstem
oor veld en vleiland nie?

Jy bly soek my
tussen klip en steen
en jy mis my -
jy mis my

waar ek oor jou reën …

[Digter: Braam Oberholzer]

Die troosdiens van Rinus Slabbert vind 20 Junie 2025 om 11:30 plaas. Die diens sal deur ds. Ensie Enslin gehou word. 'n Groot boom het in Dutoitspan-gemeente geval. Ons sal Rinus onthou as die omgeemens met die groot hart vir wie geen taak te groot of te onmoontlik was nie. Uitreik was 'n natuurlike reaksie, terwyl sy linkerhand nie geweet het wat sy regterhand doen nie. 

Ons bid vir Selma, die kinders en kleinkinders troos toe in hierdie hartseertyd.

Monday, 9 June 2025

Handevatprojek: Terugvoering

Coen Visser het vanoggend saam met dr. Herman Steyn van Fichardtpark-gemeente (Bloemfontein) die !Xun Alfa Kerk-gemeente besoek sodat hy kan terugvoer gee oor die werk wat Dutoitspan twee jaar gelede onderneem het om vir hulle te doen.

Natuurlik sou die oefening nutteloos wees sonder om erkenning aan Rinus Slabbert te gee wat grotendeels die werk georganiseer, uitgevoer en befonds het. 'n Foto van Rinus is tydens die besoek voor in die kerk geplaas, omdat hy Donderdagnag onverwags oorlede is.

Hierdie slegte nuus het die gemeentelede van die !Xun-kerk diep geskok, aangesien hulle vir weke skouer aan skouer met Rinus gewerk het tydens die herstel van die vloer. Hulle het onmiddellik gevra dat hulle ook by die roudiens teenwoordig wil wees. Hulle wil ook die foto van Rinus raam en in hulle kerk ophang as 'n blyk van respek en waardering. 


Klik HIER en HIER vir foto's tydens die werkery.

Foto's & inligting: Coen Visser

Thursday, 3 April 2025

Platfonteinnuus: Die A-span is 'n wenspan


Ons wil graag vir Rinus Slabbert, sy energieke A-span en Coen Visser bedank vir die uitreik, die uitstekende liefdesdiens wat hulle gedoen het om die Xhun Kerk-vloerprojek te voltooi in 'n rekordtyd. Julle bereidwilligheid, toegeneentheid en goeie samewerking het nie ongesiens verby gegaan nie. Vyf Xhun-manne het hulle sweet saam met die sement in die kerkvloer ingewerk. 

Dankie klink na só 'n klein woordjie vir so 'n groot taak.

[Foto: Coen Visser]

Tuesday, 1 April 2025

'n Handevatprojek word 'n genade-werklikheid


Coen Visser: "Ons het vandag klaargemaak met Xhun Alfa se vloer. Die koste was sowat R72 000. Eer aan die Here wat ons daartoe in staat gestel het en groot dank aan ons boukontrakteur, Rinus Slabbert en die span Xhun-manne wat elke dag hard gewerk het."

Wednesday, 26 March 2025

Handevatprojek - !XUN ALFA-gemeente (vordering)


Die werk aan !XUN ALFA-gemeente se kerkvloer vorder en dit is vir ons aangenaam om te kan sê dat teen gistermiddag 5 blokke van die vloer reeds voltooi is. Dankie aan elkeen wat op welke wyse hierdie handevatprojek moontlik maak.

Foto: Coen Visser

[Klik HIER om na die beginfoto's wat op 11 Maart geplaas is, te kyk.]

Wednesday, 12 March 2025

Handevatprojek: !XUN ALFA-gemeente - 'n suksesverhaal


DANKIE aan elkeen wat op die advertensie gereageer het, asook elke Sondag se afkondiging! Julle het die handevatprojek werklikheid gemaak. 

Tuesday, 11 March 2025

Handevatprojek - !XUN ALFA-gemeente

Hierdie week het die diensgroep begin om !Xhun Alfa Kerk se vloer te herstel.

Met die hulp van donasies uit eie geledere, NG Kerk Harmonie Kimberley en Fichardtpark in Boemfontein, gaan hulle die wa deur die drif kry met die R70 000 wat hulle tot op hede ingesamel het.

Rinus Slabbert en sy kompressor het hierdie projek met 'n knal aan die gang gekry. Ywerige !Xhun-manne doen self die ding!!!

'n GROOT dankie aan elkeen wat eenmalig of maandeliks bygedra het tot hierdie hartsprojek. Dit word opreg waardeer.


Foto's: Coen Visser & Elsa Minne 

Thursday, 21 December 2023

Kersete by Sally Aucamp


Die Sally Aucamp-familie het heerlik gesmul aan die uithaler-kersete in die vorm van 'n braai.  Ds. Ensie Enslin van Dutoitspan het die Kersboodskap gebring en met al die kommersiële aktiwiteite rondom Kersfees, is dit so maklik om die ware boodskap van Kersfees te vergeet. Daarna het Marius Willemse die inwoners met pragtige liedere en spesiaal Kersliedere bekoor. 

Elkeen het baie spesiaal gevoel toe die Kersgeskenke uitgedeel is. Baie dankie aan Rina Groenewald vir net mooi ALLES! Dit is só lekker dat sy elke week saam met die inwoners kuier. 'n Groot dankie vir elkeen wat vandag spesiaal gemaak het. 'n Sally Aucamp-dankie aan Rinus Slabbert, Natalie Willemse, Marius Willemse, Hennie Groenwald, Daphné de Beer en ds. Ensie.

Daarna het almal heerlik onder die afdak gesit en gesels.




Klik HIER vir nog foto's van die Kersbraai.

Wednesday, 2 August 2023

Groot gif kom in klein botteltjies

Tydens Dutoitspan se gesellige basaar Saterdag, het die meisies die botoon by die skryfskietkompetisie gevoer. Die basaar was immers aan die vooraand van vrouemaand ... Daarmee onderstreep hierdie drie sommer die feit dat die vrouens die pas aangee - soos wat Liané Kruger, Loreley Wolhuter en Jolene de Klerk dit prakties bewys het! 
   
In die ouderdomskategorie van 4-10 jaar het Liané Kruger (7 jaar) skoonskip gemaak met 140/150 punte.
Liané Kruger
In die ouderdomskategorie van 11-15 jaar het Loreley Wolhuter (11 jaar) met die louere weggestap met 103/150 punte.
Loreley Wolhuter
In die laaste kategorie waar almal van jonk tot baie ervare (lees: oud) kon meeding, het Jolene de Klerk stof in hulle oë geskop (lees: geskiet) en het sy met 90/150 punte geseëvier. Ten spyte van die feit dat daar in hierdie kategorie deelnemers was met jare se ondervinding.

Wat hierdie wenners meer spesiaal maak, is dat die jongste wenner die hoogste punte behaal het en dat Loreley Wolhuter 'n Nederlander is wat vir haar oupa Rinus en ouma Selma Slabbert in Kimberley kom kuier het. 

Ds. Ensie het van die kansel af gesê dat die manne nie hond haaraf kon maak nie.

Een ding is dus baie duidelik na Saterdag ... die manne moet hierdie tydjie tot en met die volgende basaar gebruik om te oefen! Sterkte, Manne ... sien julle daar!