Sunday 31 October 2021

Gebed vir die eksamen

Dankie vir alles wat U vir my en diegene rondom my doen.
Ek weet dat u my so baie seën, 
maar ek wil vra dat U my sal help om te fokus
wanneer ek eksamen skryf. 
Ek het U hulp nodig om die inligting wat ek moet leer
goed te kan onthou en toe te pas wanneer ek skryf. 
Ek het U nodig om my te help om meer selfversekerd te wees
wanneer ek in die eksamenlokaal instap
en om te ontspan, sodat ek kan konsentreer.
Here, help asseblief die mense om my om te verstaan
dat ek moet fokus en studeer. 
Here, ek vra dat u my lei om na die regte plekke te kyk
en op die regte plekke te fokus. 
Daar is soveel inligting voor my,
en ek weet ek sal notas hê, 
maar help my om dit te lees op 'n manier wat sin maak.
Help my om die inligting duidelik te sien,
want dit sal my help om te slaag.
Here, help my ook dat wanneer ek in die eksamenlokaal instap,
ek vrede in my gemoed sal hê met die wete dat ek my bes gedoen het
om voor te berei vir die eksamen. 
Ek bid Here, vir U leiding wanneer ek eksamen skryf.
Here, dankie vir al die seëninge wat U in my lewe geplaas het.
Dankie dat U hier is in hierdie tyd wanneer ek 'n bietjie oorweldig voel.
Dankie dat U altyd daar is en my toelaat om op U te vertrou.
Ek prys U Heilige naam.
Amen.
[Dankie, Anoniem, dat jy hierdie met ons deel.]

Friday 8 October 2021

Ek het amper u Seun vir 50c verkoop!

'n Paar jaar gelede het 'n predikant van die platteland 'n beroep na die stad aanvaar.

Een spesifieke dag moes hy per bus na die middestad gaan. Nadat hy vir sy kaartjie betaal het, en 'n sitplek gekry het, het hy gesien dat die busbestuurder hom 50c te veel kleingeld gegee het.

Hy het gewik en geweeg. Sal hy dit nou terug gee of nie? Dis net 50c! Hy het 'n bietjie daaroor nagedink en besluit om die 50c terug te gee.
 
Toe die bus stop, het hy vorentoe geloop en voordat hy uitklim die 50c vir die bestuurder teruggegee. Die bestuurder het opgekyk en gevra: "Is u nie die nuwe dominee van die platteland nie?"
"Ja" antwoord die dominee verbaas dat iemand hom hier sou ken.
Die busbestuurder sê toe: "Ek het die laaste ruk baie gewonder oor waar ek kerk toe moet gaan om te aanbid. Ek wou net sien wat u sou doen, as ek u te veel geld gee. Ek sien u Sondag"
 
Van die bus af, moes die predikant vir 'n oomblik aan die lamppaal vashou.
"O Here!" het hy uitgeroep.
"Ek het amper u Seun vir 50c verkoop!"
 
Ons lewens is dikwels die enigste Bybel wat mense ooit sal lees. Dis skrikwekkend om te weet hoe baie mense ons as Christene dophou en sonder dat ons weet, ons toets.
 
Wees dus altyd versigtig oor wat jy sê en wat jy doen. Onthou: jy dra die Naam van Jesus Christus op jou skouers as jy jouself 'n Christen noem!

[Dankie, ds. Ensie!]