Showing posts with label Liefdevol. Show all posts
Showing posts with label Liefdevol. Show all posts

Monday, 26 May 2025

Gebed: Here, daar is geraas in my hart

Al word dit soms stil rondom my, is dit of die geraas binne my net nie stil word nie.
As ek besig is, dan pla dit my nie so erg nie, dan is dit maar soos donderweer in die verte.

Maar as dit stil word rondom my, daar waar ek in die nag wakker lê en peins, dan word hierdie veraf gedreun ‘n skrikwekkende storm.

En die klank is nie die majestueuse klank van ‘n simfonie wat opwerk tot ‘n magtige crescendo nie, nee, dis soos die oorverdowende gekap van potte en panne.

Wat ‘n lawaai. En ek voel magteloos om dit stil te maak hier binne-in my.

Here Jesus, U wat eens die wind en die golwe aangespreek het en dit het stil geword, maak dit stil in my.

Spreek net ‘n woord … en u vrede sal in my hart kom heers.

Ek wag … stil … geduldig.

Tot ek u liefdevolle opdrag hoor en as u vir my sê:
wees stil en weet, ek is die Heer.

[Outeur: Richard Foster]

Monday, 17 March 2025

Gebed: My lymwerk is swak en my laswerk skeef

My eie waterbak het al male sonder tal stukkend geval, Here.
Dan het ek dit sélf probeer regmaak.
Ek het die stukke probeer optel en dit probeer lym en las.
Maar so 'n kruik lek, Here.
My lymwerk is swak en my laswerk skeef.
Die water loop vinnig weg en dié wat daaruit moet drink, bly dors.
Daarom wil ek vandag kom vra dat Ú my sal heelmaak, Here.
Ek weet dat ek altyd broos sal bly, en dit is ook reg so.
Maak my egter só heel dat ek vir 'n dors wêreld die lewende water kan aanbied. Maak my heel én vol.
Maak my vriendelik en geduldig, eerlik en regverdig, liefdevol en sensitief.
O, Bron van lewende water, vul my met Uself.
Gee my moed en deursettingsvermoë.
Gee my geloof en hoop.
Maak my hardwerkend en help my om my plig goed te doen.
Maak my werklik U beelddraer,
'n héél mens wat ander sal inspireer,
nié met my woorde nie, maar met wie ek is in Jesus Christus.
Amen!!!

Thursday, 13 February 2025

Jy is 'n inspirasie

Jy's ‘n INSPIRASIE
as jy ander kan optel ongeag omstandighede.
Jy's NEDERIG
as jy onthou waar jy vandaan kom.
Jy's STERK
as jy jou hartseer leer om te glimlag.
Jy's BRAAF
as jy jou vrese konfronteer & ander help om dieselfde te doen.
Jy's POSITIEF
as jy probleme as geleenthede sien.
Jy's WYS
as jy nederig jou beperkinge aanvaar.
Jy's EERLIK
as jy nie blind is vir al jou foute & tekortkominge nie.
Jy's SUKSESVOL
as jy die potensiaal in ander kan raaksien & help ontgin.
Jy's TROTS
as jy weet wanneer om die minste te wees.
JY's MENSLIK
as jy ongeag jou foute steeds kan droom, wens & hoop.
Jy's LIEFDEVOL
as jy vergeet van jou seer& ander sin raaksien.
Jy's MOOI
as jou hart nog mooier is as jy.
JY's OPREG
as jy alles doen uit jou hart uit.
Jy's GELUKKIG
as jy jou geluk, hoop & liefde kan deel met ander.
JY's DANKBAAR
as jy glo al die seëninge in jou lewe is net genade.
JY LEWE
wanneer jy gister se seer agter jou kan sit, besef dat môre nie gewaarborg is nie & net leef vir nou.

[Dankie, Rosetta!]

Thursday, 11 July 2024

Hallo, Pappie

Een oggend het my man wakker geword met my driejarige dogtertjie, Mara, styf teen hom in die bed met 'n pen in die hand waarmee sy oor sy Bybel krap.

Hy het oorgeleun en die pen uit haar handjie geneem en sy het opgekyk na hom toe en toe vriendelik gesê: "Hallo, Pappie." 

Nou "Hallo, Pappie," is 'n normale sinnetjie vir enige kleutertjie van daardie ouderdom, maar Mara is erg outisties en nie-verbaal.

Toe daardie woorde uit haar mondjie kom, het die trane oor my man se wange begin rol ... hy was oorweldig met emosie om sy dogtertjie se stemmetjie te hoor nadat sy 3 jaar lank nie-verbaal was.
Haar woorde het gate in sy damwal gedruk ... jy weet van watter damwal ek praat ... daardie damwal wat jy om jou hart bou, sodat geen emosies kan ingaan of uitkom nie ... maar daardie oggend toe verkrummel daardie twee woordjies: "Hallo, Pappie," daardie damwal ... Hy het gehuil oor die verlies van 'n normale dogtertjie waaroor hy drome gedroom het ... hy het gehuil oor 'n stemmetjie wat hy nie geken het nie ... hy het gehuil oor 'n dogtertjie wat in haar eie wêreld vasgevang is ... hy het gehuil omdat hy dikwels gewonder het of sy weet wie hy is ... hy was nog besig om te huil toe die Gees van die Here met hom praat.

EK weet hoe jy voel, want ek is ook 'n Vader ... My kinders praat ook nie met My nie ... My kinders is ook in hulle eie wêreld vasgevang ... 'n wêreld van ontbyt ... werk ... aandete ... TV kyk en slaap ... ek wonder ook soms of hulle my herken ... of hulle weet wie Ek in hulle lewens is. My kinders is vasgevang in 'n wêreld van stokperdjies en sport en ure se sepies kyk ... Ek probeer alles dat hulle My moet herken ... Ek antwoord gebede ... Ek voorsien in hulle behoeftes ... Ek het selfs so ver gegaan om my Seun te stuur vir hulle verlossing ... Ek het hulle nie nodig nie, maar Ek wil hulle so graag hê ... hulle het My só nodig maar wil My nie hê nie. Ek is nie kwaad nie, maar ook so hartseer soos jy.

Ek wag ook vir die dag wat hulle opkyk na My met liefde in hulle oë en vir my sê: "Hallo, Pappie."

[Aangestuur deur Rozetta Venter.]

Friday, 11 November 2022

My vingerafdrukke


Here Jesus, oral waar ek gaan
laat ek vingerafdrukke na.
Op die hande wat ek aanraak,
op borde, mure en boeke.
Daar is nie wegkomkans nie,
waar ek vat,
los ek 'n teken van my identiteit.

Help my Here,
om vandag waar ek ookal gaan hartafdrukke na te laat ...
Hartafdrukke van regverdigheid en deernis,
van begrip en liefde,
van barmhartigheid en belangstelling.
Hartafdrukke van hartlike vriendelikheid
en van opregte betrokkenheid.
Mag my hart 'n ander hart aanraak
en 'n afdruk van U liefde laat.
En as iemand sou sê: "Jou aanraking het my vandag versterk",
laat hulle agterbly met die wete dat dit U liefde was wat hul in my ervaar het 

Sunday, 3 July 2022

Wees jouself ...

Wees ... lojaal teenoor jou vriende.
Wees ... vriendelik met jou vyande.
Wees ... sterk genoeg om die wêreld elke dag vierkantig in die oë te kyk.
Wees ... swak genoeg om te weet dat jy nie alles alleen kan doen nie.
Wees ... vrygewig teenoor hulle wat jou hulp nodig het.
Wees ... spaarsamig met dit wat jyself benodig.
Wees ... wys genoeg om te besef dat jy nie alles weet nie.
Wees ... dwaas genoeg om te glo in wonderwerke.
Wees ... bereid om jou vreugdes te deel.
Wees ... bereid om die hartseer van ander te deel.
Wees ... ’n leier wanneer jy ‘n weg sien wat ander gemis het.
Wees ... ’n volger wanneer jy omring word deur die mistigheid van twyfel.
Wees ... die eerste om ‘n opponent geluk te wens met sy sukses.
Wees ... die laaste om ‘n kollega wat misluk te kritiseer.
Wees ... seker waar jy volgende gaan trap sodat jy nie struikel nie.
Wees ... seker van jou finale bestemming, ingeval jy die verkeerde rigting inslaan.
Wees ... liefdevol teenoor hulle wat jou liefhet.
Wees ... liefdevol teenoor hulle wat jou nie liefhet nie, dalk kan hulle verander.
Bo alles ... wees jouself.