Showing posts with label Omgee. Show all posts
Showing posts with label Omgee. Show all posts

Tuesday, 8 September 2026

Mandjie Hoop: Toon liefde met die klein dinge in die lewe

Liefde hoef nooit luid, groots en flambojant te wees nie. 
Wys omgee in klein gebare. 
Hou 'n sambreel in die reën vas. 
Los die laaste sny brood vir jou geliefdes. 
Gee iemand 'n drukkie wat gestres is. 
Klein dingetjies wat gereeld gedoen word, 
word later die groot verskil in iemand se lewe
waarvoor daar aanvanklik gehoop is.
Laat jou omgee van jou na ander vloei,
eerder as om dit van ander te verwag.

Friday, 21 August 2026

Oorvloed kom van Bo

Eendag vra 'n man vir 'n ander man wat soveel goed doen aan ander: "Hoe is dit dat jy so baie het, terwyl jy so baie weggee?"
Daarop antwoord hy hom: "Soos ek uitskep, so skep die Here weer in, en Hy het 'n baie groter graaf as ek".
Mag Hy vandag vir jou met 'n laaigraaf skep!

Friday, 24 July 2026

Is dit nie wonderlik nie?

 Hoe sien ander ons gelowiges versus ongelowiges.

Lank gelede was daar ’n man wat graag die verskil wou weet tussen die gelowiges en die ongelowiges want dit wat hy in die alledaagse lewe kon sien het vir hom geen aanduiding gee van die verskil nie.

Albei groepe het baie seëninge ontvang soos gereelde reëns, suksesvolle oeste, geen groot teëspoed nie.
Hy het ernstig gebid dat hy die verskil tussen die twee groepe kon verstaan.

Eendag terwyl hy in die veld wandel kom daar ’n engel na hom en deel hom mee dat hy gestuur is om aan hom te toon die verskil tussen die gelowiges en die ongelowiges. Die engel het hom weggevoer en aan hom gesê dat hy hom eers gaan wys hoe is dit gesteld met die ongelowiges.

Hulle het in ’n groot vertrek gekom waar daar baie mense rondom ’n groot pot met bredie gesit het. Elkeen was uitgehonger en desperaat om van die bredie te eet.

Elkeen het ’n lepel gehad wat tot in die pot kon bykom maar die lepel se steel was langer as hul eie arm gewees en hulle kon die kos skep maar hulle kon nie die kos in hul mond kry nie ...

Die leiding was verskriklik gewees.

Die engel neem die man en sê, “Kom, nou sal ek jou die gelowiges gaan wys.”

Hulle het ’n ander vertrek binnegegaan, soortgelyk aan die eerste vertrek, die mense om die pot bredie, die lang steel lepels. Maar almal was gelukkig en goed gevoed.

“Ek verstaan dit nie” sê die man. “Hoekom is die klomp hier so gelukkig en opgeruimd terwyl die ander in die eerste vertrek verhongerd en misrabel is terwyl alles dieselfde is?”

Die engel glimlag. “Ah, dis baie maklik,” sê hy. “Hier het hulle geleer om mekaar te voed met die lang steel lepels.”

GOD het ons hierdie wonderlike aarde gegee ... om daar te wees vir mekaar ... mekaar te help ten alle tye!

Thursday, 21 May 2026

Ek is bereid om in jou skoene te loop

Dr. Elsje Büchner: "Ware omgee vra dat ek en jy bereid sal wees om in iemand se skoene te loop. Jy moet bereid wees om te voel wat hulle voel. Omgee beteken dat jy sal seker maak wat vir die ander persoon belangrik is, hoekom hulle sekere dinge vra en sê. Dit is presies wat Jesus gedoen het en wat God van ons vra. Hy het saam met die eenkant mense gaan sit en na hulle geluister, gehoor wat regtig vir hulle saakmaak en wat hulle seermaak. Hy het die krete van armes en eenkant mense gehoor. Hy het in hulle skoene geloop. Hy het selfs sy dissipels se voete gewas.  
 
Jy moet 'n fyn oog en oor ontwikkel vir ander se lag en huil sodat jy saam in hulle skoene kan gaan staan en die pad saam met hulle stap."

[Bron: Plus 50 * Oktober/November 2025]

Thursday, 12 March 2026

Dink hieroor: Groot dinge het 'n klein begin

"Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word."

Matteus 5:9 AFR83

In 1976 is die Nobelprys vir Vrede aan Betty Williams en Mairead Corrigan toegeken vir hul aandeel aan die beëindiging van die geweld in Noord-Ierland. Williams en Corrigan het in Wes-Belfast kragte saamgesnoer toe 'n vrou en drie kinders, wat in hul woonbuurt gaan stap het, deur 'n wegholmotor getref is. Die kinders is dood en hul ma kritiek beseer.

Die motor se bestuurder, wat 'n lid van die Ierse Republikeinse Leër was, is deur Britse soldate geskiet. Hierdie tragedie het vroue in Belfast - insluitend Williams, 'n huisvrou, en Corrigan, die kinders se tannie - gemotiveer om die geweld stop te sit. Die twee vroue het 𝘞𝘰𝘮𝘦𝘯 𝘧𝘰𝘳 𝘗𝘦𝘢𝘤𝘦 gestig en in die daaropvolgende weke het meer as 30 000 mense teen die geweld betoog. Ten spyte van lewensbedreigende teenstand het hulle vredespogings vermoedelik die dodetal van die konflik met die helfte verminder.
 
Elke dag stuur God ons die wêreld in om Sy vredemakers te gaan wees, om daar waar ek leef en werk, 'n verskil te maak. 

Om vrede te maak, selfs wanneer dit moeilik is, is om Christus se voorbeeld te volg. Hy het vrede op aarde gebring tussen God en ons, Sy kinders, en tussen ons as mense.
 
Ek kan nie 'n vredemaker wees as ek nie vrede in my eie lewe het nie en ware vrede is eers moontlik, wanneer daar vrede tussen my en my Skepper bestaan. Dit begin deurdat ek Jesus as my Redder aanvaar. Wanneer ek dan elke dag met gebed en Sy woord begin, verander Hy my lewe om meer soos Hy te word. Daar rus Hy my toe om Sy vredemaker te gaan wees.

Op my beskeie manier kan ek dan uitgaan gaan om Sy vredeswerk in seergemaakte gevoelens en komplekse verhoudings te doen. Soms in my eie familie of gesin of vriendekring of dalk by die werk tussen kollegas.
 
Paulus herinner daaraan dat, al probeer ons alles in ons vermoë om in vrede met ander mense te leef, dinge nie altyd sal uitwerk soos ons graag sou wou nie. (Romeine 12:18, DB). ‘n Vriendin vertel hoe sy en haar suster jare gelede na haar ma se dood ‘n uitval gehad het. Ten spyte daarvan dat sy alles in haar vermoë gedoen het om vrede te maak, het die suster alle kontak verbreek. Die vriendin het aangehou bid vir die herstel van die verhouding. Eers na 8 jaar het die suster weer kontak gemaak en is hulle verhouding herstel.

“𝘜𝘯𝘭𝘦𝘴𝘴 𝘵𝘩𝘦 𝘭𝘰𝘷𝘦 𝘰𝘧 𝘎𝘰𝘥 𝘪𝘴 𝘧𝘰𝘶𝘯𝘥 𝘪𝘯 𝘰𝘶𝘳 𝘩𝘦𝘢𝘳𝘵𝘴, 𝘢𝘭𝘭 𝘵𝘩𝘪𝘴 𝘵𝘢𝘭𝘬 𝘢𝘣𝘰𝘶𝘵 ‘𝘉𝘭𝘦𝘴𝘴𝘦𝘥 𝘢𝘳𝘦 𝘵𝘩𝘦 𝘱𝘦𝘢𝘤𝘦𝘮𝘢𝘬𝘦𝘳𝘴 𝘧𝘰𝘳 𝘵𝘩𝘦𝘺 𝘴𝘩𝘢𝘭𝘭 𝘣𝘦 𝘤𝘢𝘭𝘭𝘦𝘥 𝘵𝘩𝘦 𝘴𝘰𝘯𝘴 𝘰𝘧 𝘎𝘰𝘥’ 𝘸𝘰𝘶𝘭𝘥 𝘰𝘯𝘭𝘺 𝘣𝘦 𝘢 𝘥𝘳𝘦𝘢𝘮 𝘣𝘦𝘤𝘢𝘶𝘴𝘦 𝘪𝘵 𝘪𝘴 𝘪𝘮𝘱𝘰𝘴𝘴𝘪𝘣𝘭𝘦 𝘵𝘰 𝘢𝘱𝘱𝘭𝘺 𝘵𝘩𝘪𝘴 𝘵𝘦𝘢𝘤𝘩𝘪𝘯𝘨. 𝘈 𝘵𝘰𝘵𝘢𝘭 𝘵𝘳𝘢𝘯𝘴𝘧𝘰𝘳𝘮𝘢𝘵𝘪𝘰𝘯 𝘰𝘧 𝘰𝘶𝘳 𝘣𝘦𝘪𝘯𝘨 𝘩𝘢𝘴 𝘵𝘰 𝘵𝘢𝘬𝘦 𝘱𝘭𝘢𝘤𝘦. 𝘞𝘦 𝘯𝘦𝘦𝘥 𝘵𝘰 𝘣𝘦 𝘳𝘦𝘨𝘦𝘯𝘦𝘳𝘢𝘵𝘦𝘥 𝘣𝘺 𝘎𝘰𝘥.”
- Yves I-Bing Cheng

[Geseënd is die vredemakers deur Elmarie van die Westhuizen - klik HIER]

Friday, 21 November 2025

Jy is gebore om ...

'n seën te wees vir ander!
Dalk besef jy dit nie altyd nie,
Maar jy het iets spesiaal om aan ander te gee.
En daardie iets spesiaal is jouself:
* Jou glimlag ...
* Jou vriendelikheid ...
* Jou aanmoediging ...
* Jou positiewe energie ...
* Jou omgee ...
* Jou begrip ...
* Jou onvoorwaardelike aanvaarding ...
* Jou luistervermoë ...  
Hierdie is seëninge wat elke mens op aarde kan gee ...
Dit kos jou nie 'n sent nie ...
Maar dis goud werd vir ander ...
En vir jouself.
Die gelukkigste mense op aarde,
is mense wat liefde & geluk bring aan ander.

Thursday, 30 October 2025

Dink hieroor: Matteus 5:9

“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

Die Boodskap: “Gelukkig is almal wat vrede maak tussen mense wat in vyandskap met mekaar lewe. God sal op die laaste dag voor almal sê dat hulle sy kinders is.”

Is jy ‘n vredemaker? 'n Aktiewe vredemaker? Dit is nie genoeg om net oor vrede te praat nie. Jy moet daarin glo en dit daagliks op alle terreine van die lewe uitleef. 

Moeder Teresa: “As ons geen vrede het nie, is dit omdat ons vergeet het ons behoort aan mekaar. Vrede en oorlog begin in die huis. As ons waarlik vrede wil hê, laat ons begin deur mekaar in ons eie families (en gemeente) lief te hê.” 

Sunday, 21 September 2025

BRIEFIE VAN JESUS

My dierbare Vriend

Hoe gaan dit met jou? Ek móét net hierdie briefie aan jou skryf om jou te vertel hóé baie ek vir jou omgee ...
Ek het gister gesien hoe jy met jou vriende gesels en het die hele dag gewag in die hoop dat jy ook met My sal gesels ...

Ek het aan jou 'n sonsondergang gegee om jou dag mee af te sluit, en 'n koel briesie om jou te verfris, en gewag ... maar jy het nie gekom nie. Dit het My díép seergemaak, maar ek hét jou nog steeds lief, want jý is Mý vriend.

Ek het jou laasnag sien slaap en wou graag jou voorkop streel, toe laat ek maar die maan se strale oor jou gesig speel; wéér het ek gewag ... gereed om my na jou te haas sodat ons lekker kon gesels. My trane was in die reën.

As jy maar net wil luister. Ek het jou só ontsettend baie lief. Ek probeer om dit aan jou te vertel in die blou lug en in die stil, groen gras; ek fluister dit in die blare van die bome en adem dit uit in die kleure van die blomme, roep dit jou toe in die gekabbel van die bergstrome en gee aan die voëltjies liefdesliedjies om vir jou te sing.

Ek klee jou met die koesterende sonskyn en sprei die aangename geure van die natuur oor jou uit. My liefde vir jou is díéper as die díépste oseaan, en gróter as die grootste begeerte in jou hart.

Vrá na my? Práát met my? Moet my ásseblief nie ignoreer of vergeet nie? Ek het só baie om met jou te deel!!
Ek sal jou nie verder pla nie ... dis jóú besluit of jy 'n plekkie in jou hart aan My wil afstaan ... Ek het vir jóú gekies en ek sal áltyd op jou wag - want ek het jou innig lief en sal jou vir ewig liefhê!

Jou vriend
JESUS

[Dankie, Rosetta]

Thursday, 11 September 2025

Dink hieroor: ‘n Rare talent

Vanoggend besef ek, mense se talente is nie altyd sigbaar nie. Nie almal dra goue medaljes nie. Of het ‘n trofeekas nie. Om net ‘n omgeehart te hê, is al klaar ‘n talent. Om te gee sonder om iets terug te verwag, is ook ‘n talent. So gaan soek vandag binne-in hart jou na jou talent. 

Gaan sit en dink bietjie ... vergeet van jou sondes of dit wat jou pootjie om vir ‘n oomblik blind te wees en sien jouself soos God jou sien ... wees eerlik met jouself. Sien jouself deur sy oë ... wat sien jy dan?

Ons is almal talentvolle wesens wat net meer in onsself moet glo en ophou om ons aan ander se talente te meet. Wees die beste jy wat jy kan wees, alle skulpies op die strand is mooi en uniek, al is party dalk gebreek of beskadig deur al die getye van die lewe ... so wees ‘n opregte omgeemens ... dis ‘n rare talent!

Tuesday, 22 July 2025

67-noodsaaklike minute by Resthaven ouetehuis


Senior burgers of oumense soos daar dikwels in die omgangstaal na hulle verwys word - die mense wat hulle lewe gewy het om op te bou, hard te werk, uit te reik en kinders groot te maak ... hulle wat nie meer raakgesien word nie ... hulle wat uitgerangeer is uit die samelewing waar alles teen 'n vinnige tempo en nog vinniger leefstyl gekenmerk word ... hulle het ons hulp dringend nodig.

Die vergete aftree-oorde wat deur gedetermineerde en omgeepersoneel aanmekaar gehou word, skree die onbetrokkenheid van die gemeenskap uit. Daar is só baie dinge wat benodig word om net te oorleef.

Kimberley se besondere koue winter het die behoefte aan komberse en wintersklere onderstreep.

'n Uit-die-hart-dankie vir Rina Groenewald wat op die agtergrond gewoeker het om die eerste tree te gee om die winterknyp by Resthaven aan te spreek. 50 splinternuwe komberse val nie net uit die lug uit nie. Saam met haar, het Pula, Daphné en Lizzie gehelp om vir elke inwoner Mandela-dag spesiaal te maak. Saam met die snoesige komberse, is daar ook heerlike sop en broodjies uitgedeel, terwyl ds. William en sy vrou, Isabel, ook die Brood van die Lewe met die inwoners gedeel het.

Dankie vir elkeen wat hierdie uitreik spesiaal en moontlik gemaak het.

Thursday, 19 September 2024

Dink hieroor: Die lewe is soos 'n kombers wat te klein is ...


Trek jy jou skouers toe, is jou voete oop.
Trek jy jou voete toe, is jou skouers oop.
Gelukkig vir ons wat geleer het om ons knie te buig ...
Want met gebed is jy van kop tot tone toe ...
en is daar nog plek vir almal vir wie jy omgee!!

Saturday, 8 June 2024

Sally Aucamp: Julle skenking maak ʼn verskil


Matrone Evie Brevis: "Dr. Venter, elke Eureka-leerder en -onderwyser wat omgee prakties uitleef, 'n groot Sally Aucamp-dankie! Tydens die oorhandiging het ek 'n atmosfeer van opgewondenheid en blydskap ervaar. Julle omgee en goedhartigheid maak 'n groot verskil in ander se lewens en in die besonder aan die inwoners van Sally Aucamp. Ons waardeer julle. Mag die res van 2024 vir julle by Eureka Laerskool voorspoedig verloop met al die wonderlike projekte wat julle aanpak." 

* Sally Aucamp en Christina Kiddy het gebaat by Laerskool Eureka en Helpende Hand se uitreikaksie.

Wednesday, 29 May 2024

Hart-afdrukke

Here, oral waar ek gaan, laat ek vingerafdrukke agter,
op die hande wat ek aanraak, op borde, mure, ruite, deurknoppe, boeke.
Daar is geen wegkomkans nie, waar ek vat,
plaas ek 'n teken van my identiteit ...

Help my Here, om vandag waar ek ookal gaan
hart-afdrukke na te laat!
Hart-afdrukke van regverdigheid en deernis,
van begrip en liefde,
van barmhartigheid en belangstelling.
Hart-afdrukke van hartlike vriendelikheid en
van opregte betrokkenheid en omgee.
 
Mag my hart 'n ander hart aanraak
en 'n afdruk laat van U liefde ...
Laat ek 'n sagte aanraking agterlaat by 'n
eensame buurman of buurvrou,
by 'n wegloopkind,
'n bekommerde ouer,
'n verstommende oumensie.

Here, stuur my vandag uit om hart-afdrukke
op mense se lewe te laat.
En as iemand sou sê:
"Jou aanraking het my vandag versterk
jou nabyheid het my vertroos",
laat hulle agterbly met die bewussyn dat dit
U liefde was wat hulle in my optrede ervaar het!!!

- Anoniem in Die Groot Gebedeboek - 

[Dankie, Anoniem, wat die fotostaat gestuur het.]

Wednesday, 20 September 2023

Wat is 'n oupa en 'n ouma?

  • Oupas is mans-oumas en oumas is ma-mense.
  • ʼn Oupa is iemand nes ek, net biekie slimmer, want hy kan my help met somme wat Pappa nie kan doen nie. Ouma sal dan al die lekker warm beskuit aandra en jou bederf met koffie en dan druk jy die beskuit so diep in die koffie beker sonder dat jy raas kry.
  • Oupas gaan stap graag met sienkies en gesels net oor die plaas en skape. Oumas sal met jou gaan sit op die rusbank en na jou luister, nes die Here sou doen en sal met sussies praat oor hoe hulle pop-pop gespeel het en met so klein stukkie materiaal vir hulle poppe klere gemaak het.
  • ʼn Oupa werk nie; hy het tyt vir jou, behalwe as hy slaap. Oupas slaap graag. As oupa slaap dan bederf ouma jou met al die sjokolades wat sy so onder die komberse wegsteek in die gangkas.
  • ‘n Oupa kan nie meer mooi sien nie, want hy wil altyt weet wat jy doen. Maar dis lekker om vir hom te sê, omlat hy regtig wil weet. As jy dalkies stout was sal ouma sê dat dit nog glad nie die einde van die wêreld is nie.
  • Oupas het baaaie geld, want hulle koop elke dag die koerant en gooi tien rant in die kerk. Oumas het so kaart wat sy gebruik om vir my daarie mooi skoene te koop wat so duur is en ek weet nie wie betaal die kaart nie. Maar die kaart betaal vir baie dinge.
  • ‘n Oupa is iemant wat altyt bly is om jou te sien, daarom hou hy altyt lekkers in sy sak en as jy nader kom dan moet jy eers so liggies aan die oor getrek word. Oumas hou meer daarvan om vir jou poeding met baie custard te gee en dan kan jy haar voorskoot aantrek, al is dit te groot vir jou.
  • Oupas vertel een storie tien maal. Elke keer anders. Jakkels en Wolf stories is mooi al het ek nog nie ‘n rêrige jakkels en wolf gesien nie. Dis so goed soos tien stories. Oumas ken weer Kook en geniet uit hulle koppe uit en daar's niks wat sy nie kan kook of bak nie en met eiers en meel kan oumas toor.
  • Almal moet probeer om ‘n oupa en ouma te kry, want hulle is lekkerder as telewiesie kyk en die grootste stuk goud wat ek nog gesien het.

Wednesday, 26 July 2023

Allan Visagie se onderhoud


Helena Barnard het 'n onderhoud met Allan gevoer oor sy omgee vir sy medemens, waar hy vandaan kom en wat sy lewensiening is. Lees gerus die artikel in hierdie week se Noordkaapbulletin op bl.3. 

[Klik op die artikel om dit te vergroot.] 

Dankie, Rina, dat jy hierdie berig met ons lesers deel, veral diegene wat buite die grense van ons land woon en getroue lesers is.
Gaan lees ook sy 67-minute vir Mandela-dag HIER.
'n Rolmodel van hoop kan HIER gelees word.

Tuesday, 13 June 2023

Terugblik: Die Pienk Boekie


Dawn du Preez vertel: Gedurende 2011 was Kimberley vir vier dae sonder water; die winkels het ook geen water op hulle rakke gehad nie. Een van die senior burgers van Kimberley-Wes gemeente wat nog op haar eie woon, het haar apteker gebel om hom te vra of hy nie asseblief vir haar 'n bietjie water kan stuur vir 'n koppie tee en die res vir haar hondjie nie. Sy het niemand anders om te vra nie.

[Dit laat 'n mens dink hoe betrokke is ons regtig met die mense wat nie geld of 'n manier het om water te koop nie, veral deesdae is geen water eerder die reël as die uitsondering.]

[Bron: Die Pienk Boekie Nuusbrief nr. 93 Maart 2011] 

Die Pienk Boekie is 'n boekie wat kwartaalliks uitgegee is vir die vrouelidmate van die NG Kerk in die Noord-Kaap. Die redakteur op daardie stadium was Janetta du Preez wat op Lime Acres gebly het.

Die visie van hierdie Christen-vroue was leer, leef en dien met liefde.

Liefdesbrief aan 'n suster

’n Vrou het saam met haar ma tee gedrink. Terwyl hulle oor die lewe en volwassenheid gepraat het, het haar ma gesê: "Moet nooit jou susters vergeet nie! Hulle sal mettertyd baie belangrik word, maak nie saak hoe lief jy jou man, of jou kinders het nie, jy gaan jou susters nodig hê!" 

"Onthou wanneer ek praat van jou susters, bedoel ek ALLE vroue wat aan jou geheg is."

“Soms moet jy hulle kontak, dalk saam met hulle uitgaan, dinge saam met hulle doen, want eendag sal jy hulle nodig hê!” Die dogter het daardie woorde in haar toegesluit. Sy het kontak met haar susters behou. Sy het deur die jare baie vriende gemaak. sommige het gekom, sommige het gegaan, maar mettertyd het sy verstaan ​​wat haar ma bedoel het. Die wêreld, tyd, natuur en lewe bied hul veranderinge en raaisels in 'n vrou se lewe, maar jou ware susters bly altyd. Na al die jare wat ek op hierdie aarde geleef het, het ek geleer dat:
  • Tyd gaan verby.
  • Die lewe gebeur.
  • Kinders word groot.
  • Afstand skei.
  • Passie neem af.
  • Die hart breek.
  • Ons ouers sterf.
  • Gunste word vergeet.
  • Werksgeleenthede kom en gaan.
  • Loopbane eindig.
MAAR ... jou susters is altyd daar, maak nie saak die afstand tussen julle nie. ’n Suster is nooit te ver om bereik te word nie. wanneer jy deur 'n eensame vallei moet stap en dit vir jouself moet doen, sal die susters van jou lewe om jou wees, jou bemoedig, vir jou bid, jou druk, vir jou ingryp en met ope arms vir jou wag by die einde van die pad. Hulle sal langs jou loop ... of selfs jou vrag dra.
Oumas, ma's, dogters, kleindogters, niggies, tannies, skoonma's, skoonsusters, skoondogters, buurvroue en vriende ... Hulle is almal jou susters en hulle is God se seën in die lewe!

[Dankie, Rina, dat jy hierdie waarheid met ons deel.]

Sunday, 17 April 2022

Liefde is ...

Liefde is ‘n glimlag,
nie ‘n frons nie.
Liefde is ‘n drukkie,
nie ‘n klap in die gesig nie.
Liefde is omgee,
nie misbruik nie.
Liefde is om die sambreel vir iemand in die storm te wees
en die reënboog na die storm.
Liefde is om iemand se trane af te vee,
nie dit te veroorsaak nie.
Liefde is om boek te hou van goeie tye,
nie die slegte tye nie.
Liefde vergewe
nog voor iemand jou seergemaak het.
Liefde maak van jou 'n ligtoring
wat ander die rigting wys in die donker.
Liefde maak van jou ‘n boom
wat koelte gee vir dié wat rus nodig het.
Liefde word nie gespreek nie, maar gewys.
Liefde kan genees, vertroos, versterk –
al het jy niks om iemand te bied nie,
maar jy het Liefde wat geld nie kan koop nie,
is jy die rykste mens op aarde!

[Dankie, Nerine, dat jy ons net weer daaraan herinner.]