Showing posts with label Karin Muller. Show all posts
Showing posts with label Karin Muller. Show all posts

Tuesday, 11 June 2024

Terugflits: Moenie oppasser verkwalik

Gewoonlik is daar 'n buurvrou, vriend of familielid wat darem bereid is om na 'n mens se plante en diere om te sien wanneer 'n mens nie tuis is nie. Jy is dalk ook bereid om dit vir iemand anders te doen.

My vriendin Monnick doen so 'n uitsonderlike werk met ons diere wanneer ons nie tuis is nie dat hulle amper spyt is wanneer ons terug is.

Terwyl my broer diensplig gedoen het, moes ek sy slange versorg. Ek was net nege jaar oud, maar hy het my goed touwys gemaak. Om na die slange om te sien was vir my aanvaarbaar, maar om die muise aan die lewe te hou wat weer vir die slange gevoer moes word, was 'n groot uitdaging.

Onlangs het my skoonsus haar man se visse versorg terwyl hy 'n paar weke oorsee was. Die visse het op 'n streep begin vrek. Sy was moedeloos, want sy het al die opdragte wat aan haar verduidelik is so sorgvuldig moontlik uitgevoer. Dit is maklik om honde en katte namens iemand te versorg. Delikate goed soos visse en fyn plantjies is 'n ander storie.

Dalk voel die diere en die plante aan die roetine het verander. Dalk is dit net effens minder of meer water of kos of op 'n ander tyd van die dag as waaraan hulle gewoond is. Dalk mis hulle hul eienaar.

Dit mag wees dat hulle uit protes 'n eetstaking onderneem en so hul eie ondergang bewerkstellig.

As Pollie dus met jou tuiskoms onderin die voëlhok lê of jou fyntuin lyk soos 'n paar dae ná die runderpes, is dit nie noodwendig omdat iemand nie omgee of tyd daarvoor ingeruim het nie.

Dit is dalk net omdat die een wat die oppaswerk moes doen, nie presies dieselfde soort aanvoeling as jy het nie.

[Bron: Noordkaap - Potpurri - Karin Muller]

Tuesday, 22 August 2023

Potpourri: Misdaad knou die kraai in jou

Met die jaareinde wat nader kom, raak mense meer as gewoonlik bewus van sekuriteit. Terwyl vakansieplanne gemaak word, word oppassers vir hond en huis gereël. Waarskynlik meer vir die huis as vir die hond.

Beleggings word beveilig. Dokumente met vertroulike inligting word in kluise toegesluit. Kluise word agter slot en grendel beveilig. Die sleutels van dié slotte word veilig bewaar.

Dekades gelede het ons 'n voëlpark besoek. Een van die besoekers het vir die kraai in 'n hok 'n blink muntstuk gegee. Die swart geveerde het die muntstuk in sy snawel geneem en ons met sy blink ogies aangestaar. Hy het rondgekyk en 'n sprong af grond gegee. Toe het hy die muntstuk sorgvuldig onder die waterbak weggesteek. Hy het 'n oomblik getalm, besluit dit is nie veilig nie en die muntstuk in sy nes gaan wegsteek. Weer was hy onseker. Ons het 'n halfuur staan en kyk hoe die arme voël plek na plek beproef. 

Sonder rus vir sy gemoed.  

Die samelewing dwing ons waarskynlik om soos hierdie kraai op te tree. Jy kies 'n wagwoord vir jou rekenaar, maar besluit die stelsel is nie veilig nie. Jy moet jou wagwoord verander.

Later sit jy met wagwoord op wagwoord op wagwoord. Een vir jou rekenaar by die werk. Een vir jou rekenaar by die huis. Een vir die program waarop jy werk. Een vir die bank.

Te midde van die diefwering, sekuriteitskameras, talle wagwoorde en persoonlike identifikasienommers raak diegene wat nie voorheen paranoïes was nie, effens onrustig.

En die kraai binne-in ons wonder: "Bestaan daar 'n plek wat waarlik veilig is?"    

*Noordkaap 22 November 2017 - Karin Muller

[Dankie, Anoniem wat die uitknipsel gestuur het. Besoek gerus Netwerk24 (Noordkaap Bulletin) se gereelde rubrieke - daar is altyd iets in hierdie rubrieke om aan te herkou.]

Saturday, 27 March 2021

Watter tipe lekkergoed-mens is jy?

Mense vergelyk ander mense soms met diere. Of met vrugte. So kry jy jou “buffels” of “trapsuutjies”. Jou “harde koejawels” of “suur pruime”. Persoonlik voel ek dat die mensdom met lekkergoed vergelyk kan word. Daar is ‘n oneidigheid in kleur, smaak, tekstuur en verpakking.

So kry jy jou malvalekker-mense. Sag van binne en buite. Jou jellie-lekkergoed-mense en paaseier-mense val ook in hierdie kategorie. Hulle is egter die tipe lekker wat jy met ekstra versigtigheid hanteer. Los jy hulle in die Noord-Kaap son, raak hulle hard van buite, maar dalk nog effens sag van binne. Stel jy hulle te lank aan negatiewe elemente bloot, raak hulle binnekante uiteindelik ook hard. Amper oneetbaar.

Dan kry jy jou nikkerbal- en gekookte lekkers-mense. So hard van binne soos van buite. Onwrikbaar. Jy hou van hulle. Of jy hou nie van hulle nie. En visa versa. Hulle verrig die onmoontlike in moeilike tye. Hulle is wie hulle is en maak gewoonlik geen geheim daarvan nie. Mens wonder soms hoe hulle voorbereidingsproses moes wees om so hard aan die ander kant uit te kom.

Ons kry ook die wit-eier-mense. Jy het amper ‘n mes nodig om die buitenste dop te breek, maar dit is waar die hardheid ophou. Binne wag ‘n soet sjokoladelaag wat smelt in jou mond. Die geheim is om nie op te gee op hierdie mense nie. Al lyk dit op die oog af nie so nie, smag hulle daarna dat jy deur die klipharde dop breek en uitvind wat werklik in hulle binneste aangaan. Jy kry ook die teenoorgestelde – die sagte sjokoladelaag buite en ‘n harde neut aan die binnekant. Op die oog af sag, maar jy vind baie vinnig uit dat dit is waar die sagtheid ophou.

Natuurlik is daar jou sjokolade-mense. Mense wie jy opsoek wanneer jy troos nodig het. Dit is gewoonlik iemand na aan jou. Wanneer jy hulle in die Noord-Kaap son los, verloor hulle hulle vorm, maar nie hulle smaak nie. Gee jy hulle ‘n tydjie om af te koel, is hulle weer eetbaar.

Dan is daar die legio ander lekkergoed-mense. Die toffies en die suigstokkies. Die kougom en die sherbet. Die suurwurms en die sout-drop. Soos alles in die lewe moet ons versigtig wees om nie ‘n lekkergoed bloot op sy verpakking te beoordeel nie. Soms is dit die aangenaamste lekker wat uit die onopvallendste verpakking te voorskyn kom. Soms is daar die teleurstelling van ‘n ongelooflike verpakking met ‘n nie so smaaklike lekker daar binne nie.

Volgens my, wat al in vier provinsies gewoon het, is die mense van sentraal Suid-Afrika, maar veral die Noord-Kaap, my gunsteling lekkergoed-mense. Hulle gasvryheid en omgee in swaar tye oortref enige ander provinsie se lekkergoed-mense.

Almal van ons is uniek. Ons verskille maak die lewe interessant en ons vul mekaar aan, al voel dit nie altyd so nie.

Watter tipe lekkergoed-mens is jy?

[Karin Muller: Noordkaap 2014-04-22]