Showing posts with label Skinder. Show all posts
Showing posts with label Skinder. Show all posts

Thursday, 25 September 2025

Dink hieroor: ʼn Verligte gevoel

Ons dink dat as ons op ander se foute hamer ons beter sal lyk. 

“ Weet jy wat sus of so gedoen het ...” laat my sommer al klaar beter voel. Ja-nee, ek is self darem nie so sleg nie. Dit is sowaar ʼn snaakse manier om jouself beter te laat voel en lyk, deur ander seer te maak.

Jy sal weet wanneer dit gebeur. Dit gaan gewoonlik so: “Hanrie het haar goeie punte, maar ...” en dan trek jy los. Of  “Moet vir niemand sê nie – ek sê net vir jou ...” en dan word die krane oopgedraai. As jy klaar is, het jy so bietjie van ʼn verligte gevoel, want jy voel so bietjie meer tevrede met jouself.

Jy het nie nodig om op die seerkry van ander te klim om beter te voel nie. God het jou lief soos jy is … onthou net altyd dat Hy die mense oor wie jy so skinder, ook liefhet.

Saturday, 28 September 2024

Kerkgenotjies: Die tweeling

Die predikant op Carnavon het huisbesoek gaan doen by 'n huisgesin waar die ouers 'n identiese tweeling het. Alhoewel die mannetjies identies gelyk het, het hul persoonlikhede soos dag en nag van mekaar verskil. Klein Juan was 'n rustige outjie, maar klein Karl was 'n mannetjie wat baie lief daarvoor was om vir almal poetse te bak ... 'n besige kind wat nie die woord stilsit in sy woordeskat het nie.  

Tydens die huisbesoek het donimee dan ook verneem of die seuns darem in die aande voor hulle gaan slaap hul dag afsluit met 'n gebedjie, waarop Mamma bevestig dat dit wel die geval is.

Klein Juan het aangebied om vir dominee sy vaardighede met sy gebedjie te illustreer en hy trek sommer dadelik weg: "Liewe Jesus, baie dankie vir my mammie en pappie en die kos wat ek elke dag eet. Maak asseblief my boetie 'n soet seun, want hy is party dae baie stout! Amen."

Klein Karl het tjoepstil na sy boetie se gebed gesit en luister, waarop hy as volg reageer het: "Liewe Jesus, baie dankie vir my mammie en pappie en die kos wat ek elke dag eet. Sorg asseblief dat my boetie gestraf word, want hy skinder van my by jou!"