Showing posts with label Allan Visagie. Show all posts
Showing posts with label Allan Visagie. Show all posts

Friday, 2 August 2024

Sally Aucamp salueer 'n hartsmens

Allan was 'n man met 'n fyn waarnemingsvermoë, iemand wat gehoorsaam geluister het na die stem van God en Sy opdragte uitgevoer het. (Lees HIER die verhaal waar Allan God se afspraak met 'n kind nagekom het - die rolmodel van hoop.) 

Hy kon probleme aanvoel en raaksien en met sy omgeehart het hy opgetree. Hy is iemand wat spore in ander mense se harte gelos het. Om sy uitreikdrome te laat realiseer, het hy hande en voete nodig gehad en dit het hy gevind in die persoon van Rina Groenewald. Saam-saam het hulle twee berge versit, beplan en gewerk. Ander helpers is dikwels ingetrek en het as 'n span saamgewerk, met Allan as die kop. Rina Groenewald, Natalie Willemse, Daphné de Beer en Endry Strauss was deel van sy span.

Allan mog fisies gestremd wees, maar hy het nie gestremd gedink en uitgereik nie. En vanuit sy rolstoel was sy uitreikboodskap aan die mense wat sy pad gekruis het, kragtig.   

Allan is sedert 2016 'n inwoner van Sally Aucamp, 'n tehuis vir volwassenes met liggaamlike gestremdhede. Hy is 'n boorling van Upington en na sy skoolloopbaan in Kimberley is hy terug Upington toe waar hy sedert 2001 by die plaaslike radiostasie betrokke was. Sy passie vir uitreiking het daar begin en die radiostasie het uitreikingsprogramme gehad nadat die behoeftes in die gemeenskap geïdentifiseer is.

Allan se raad aan sy luisteraars was altyd om na jou hart te luister en mag daardie raad na sy dood voortleef. 

Allan: "Daar waar jy kan help, moet jy help. Ons is op aarde geplaas om die spreekwoordelike persoon langs jou se nood ligter te maak." 

Allan, jy sal voortleef in die harte van die mense wat jy gehelp het en in die harte van hulle vir wie jy 'n mentor en 'n rolmodel was. Jou nagedagtes sal geëer word.

Lees HIER, HIER en HIER van sy berigte. 

Thursday, 18 July 2024

Noordkaap Bulletin: "Steek hand uit; maak ander se nood ligter"


Dankie, Allan, dat jou uitreik nie net by woorde of wense bly nie, maar dat jy die daad by die woord voeg. Jy het die vermoë om stil-stil 'n mens se oë oop te maak om die nood raak te sien. Baie seën op jou werk vorentoe!

Klik op die berig om te kan lees of lees gerus die artikel van Helena Barnard oor Allan Visagie HIER!

Hoe gaan jy vandag jou 67 minute spandeer?

Elke jaar word daar op 18 Julie 67 minute van individue gevra om uit te reik, om 'n verskil te maak en om hulp te verleen daar waar dit die nodigste is. Hierdie voorbeeld is deur Nelson Mandela gestel en wêreldwyd word sy geboortedag nou internasionaal gevier om mense bewus te maak van gemeenskappe en mense in nood. 

Internasionale Mandela Dag het in 2009 begin om mense te inspireer. Maak nie saak hoe klein of groot jou bydrae is nie, die belangrikste is die eerste tree. 

'n Paar uitreik-idees om hierdie dag anders as ander dae te maak: 
* Skenk plantjies vir die kerktuin of plant sommer self 'n paar plantjies of 'n boom in die tuin.
* Doen inkopies vir senior burgers of vir die inwoners van Sally Aucamp.
* Kuier by die inwoners van Ons Huis of Sally Aucamp tydens teetyd - gesels, gee om en vat 'n baksel skons of muffins saam. 
* Lees vir hulle wat in die 24-uur versorgingseenheid lê.  
* Help met huiswerk by 'n kinderhuis of gaan kuier net, gesels en deel broodnodige drukkies uit.
* Samel klere en/of komberse in en gee dit vir organisasies wat by werklose mense betrokke is.
* Besoek iemand in die hospitaal.
* Vat wol vir diegene in Ons Huis wat ywerig vir die straatkinders brei. 
* Bel iemand wat eensaam is en gesels vir 67 minute (dis mos net een maal 'n jaar).
* Kook 'n ete vir iemand wat dit nodig het.
* Gee 'n etegeskenkbewys vir 'n boemelaar.

Daar is nog honderde idees wat julle met ons kan deel. Stuur gerus foto's en vertel die storie agter die storie - dis dikwels die inspirasievonk wat iemand nodig het om die uitreikstokkie aan te vat in die lewenswedloop. 

Klik HIER om meer van Allan se 67-minute in 2023 te lees.

Sunday, 14 July 2024

Madiba-dag: Allan se pad met Bophelo-kinderhuis

Allan het 'n omgeehart groter as 'n rugbybus vol Griekwa-ondersteuners. Hy is die afgelope jaar baie nou betrokke by Bophelo Kinderhuis in Herlear. Sy hande en sy voete is Rina Groenewald wat hom ondersteun in wat hy ookal vir hierdie babas en kinders beplan en doen.

Hulle het besluit om Madiba-dag met amper twee weke te vervroeg sodat hulle die gebreide warm truitjies, slaapsokkies en ander warm babagoedjies voor die koue by die ontvangertjies kon uitkry. Hierdie is nie 'n eenmansprojek nie en skenkers het na vore gekom om vlerke aan Allan se droom te gee. 'n Tannie van 96 jaar het kliphard aan hierdie truitjies gebrei. Saam met die warm klere en warm harte het hulle die kinders op warm brakke en 'n pakkie lekkergoed getrakteer. Niks is mos vir 'n kind lekkerder as daardie soetigheid wat hulle energie 'n goeie hupstoot gee nie.

Allan kon tot sy groot teleurstelling nie die uitstappie meemaak nie, omdat griep hom platgetrek het. Hy is nietemin goed verteenwoordig deur Rina Groenewald, Natalie Willemse en Daphné de Beer wat ook gereelde besoekers by Sally Aucamp is. Wian Willemse leer sommer van kleins af wat dit beteken om uit te reik as hy die plekke saam met sy ma besoek.

Allan se droom is dat elkeen 'n hand sal uitsteek om die een langs hom of haar in nood se dag op 'n manier ligter te maak. Dit is tog mos hoekom ons op aarde geplaas is.

67 minute is 'n baie klein deeltjie van jou tyd wat jy kan gebruik om uit te reik, om te doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy is. 

Lees die oorspronklike berig met foto's van 5 Julie HIER!

Friday, 5 July 2024

Sally Aucamp reik na Bophelo-kinderhuis uit!


18 Julie - Mandela-dag - is vervroeg. Die koue wat nou met mening toegeslaan het en sy spreekwoordelike tande ingeslaan het, is daarvoor verantwoordelik. Allan Visagie se 67 minute uitreikaksie na Bophelo-kinderhuis was 'n groot sukses. Op hierdie stadium is daar 10 babas en 10 groterige kinders in die huis. Bydraes is ontvang van 'n 96-jarige dame wat warm truitjies gebrei het, Endry Strauss en Rina Groenewald het slaapsokkies vir die koue voetjies gebrei, en allerlei ander babagoed het hulle weg na Bophelo gevind. 

Allan is ongelukkig in die bed met griep, maar soos 'n goeie organiseerder betaam, het hy reëlings getref dat hierdie warm klere betyds by die ontvangers uitkom, saam met heerlike eetgoed, 'n pakkie lekkergoed vir elk en worsbroodjies.

Die twee huismoeders, Sanna Seekoei en René Beukes, is twee omgeemense wat nie sal skroom om die ekstra myl te loop nie. Hulle is die hart van Bophelo-kinderhuis. Mag hulle baie krag en genade ontvang om hierdie groot taak met ywer te doen.

Rina Groenewald, Daphné de Beer, Natalie Willemse en Wian Willemse het Allan se skoene gaan volstaan en saam met die inwonertjies gekuier.  

Saturday, 23 March 2024

Verjaardagwense


Allan (Sally Aucamp), jou verjaardag getuig van God se genade en liefde vir JOU! Mag jy 'n geseënde dag geniet. Mag Hy vir jou die krag en die genade gee om elke dag met al die baie uitdagings te kan hanteer, asook die innerlike dryfkrag om voort te gaan met jou goeie werk! Geniet jou spesiale dag.

Wednesday, 26 July 2023

Allan Visagie se onderhoud


Helena Barnard het 'n onderhoud met Allan gevoer oor sy omgee vir sy medemens, waar hy vandaan kom en wat sy lewensiening is. Lees gerus die artikel in hierdie week se Noordkaapbulletin op bl.3. 

[Klik op die artikel om dit te vergroot.] 

Dankie, Rina, dat jy hierdie berig met ons lesers deel, veral diegene wat buite die grense van ons land woon en getroue lesers is.
Gaan lees ook sy 67-minute vir Mandela-dag HIER.
'n Rolmodel van hoop kan HIER gelees word.

Tuesday, 18 July 2023

Sally Aucamp se 67-minute


Ds. Ensie en Allan
Sally Aucamp se 67-minute vir Madibadag-projek is geskoei op Nelson Mandela se woorde: “Wanneer ons ons lig laat skyn, laat ons ander onbewustelik toe om dieselfde te doen.“

Allan Visagie, een van die inwoners, het hierdie projek gereël. Die doel van vandag se uitreik was om die omstandighede gemakliker te maak vir hulle wat vandag by Beaconsfield se kliniek gestaan en wag het om gehelp te word. Die koue vaal wintersdag het dadelik van kleur verander toe heerlike warm sop en toebroodjies aan die wagtendes uitgedeel is. Daar was baie honger magies wat reeds van vroeg af in die ry gestaan het. Almal het genoeg gehad en daar was nog oor. Dit laat 'n mens onwillekeurig dink aan die Bybelse vissies en broodjies
Endry Strauss en Pula
Leburu saam met
Allan.
wat aan die skare uitgedeel is en toe almal genoeg geëet het, het die dissipels nog twaalf mandjies vol kos opgetel wat oorgebly het.

Ons roeping as rentmeesters is om te dien en om 'n verskil in mense se lewens te maak. Mense wat 'n entoesiastiese en energieke Allan gehelp het om vandag die lig in ander se lewens te wees, was Rina, ds. Ensie, Endry, Pula en Daphne. Ds. Ensie het 'n relevante boodskap van bemoediging gebring. 

Sally Aucamp se hartsprojek en omgeeprojek was geseënd. Die hand van ons Hemelse Vader was so duidelik sigbaar met hierdie uitreik en daarom weet ons dat die saad wat vandag by Beaconsfield Kliniek gesaai is, vrugte sal dra.

'n Groot dankie aan elkeen wat vandag tyd en bereidwilligheid vir hierdie saak gegee het.

Foto's: Rina Groenewald
'n Vrywillige werker by Sally Aucamp.



Allan is 'n uitreiker en 'n rolmodel. Lees die artikel HIER.

Wednesday, 4 January 2023

'n Rolmodel van hoop

Goedvoelstories moet 'n mens deesdae gaan uitvis tussen al die misdade, moord, motorongelukke en mediese probleme, maar hulle is daar ... hartklopstories ... hoendervleisstories ... genadestories.

Een so 'n wonderlike storie is die hartsgehoorsaamheid van Allan Visagie, 46 jaar oud en 'n inwoner van Sally Aucamp in Cassandra in Kimberley. Hierdie boorling van Upington het geluister toe hy 'n opdrag van Bo gekry.

Allan ry altyd oor die brug om sy benodigdhede by die winkelsentrum te kry en hierdie week was dit nie anders nie. Die enigste verskil is dat toe hy Maandag na PEP toe wou gaan, die winkel toe was. 'n Gevoel van dringendheid het hom egter vandag na PEP gedryf en daar loop hy "sy opdrag" raak. Die Here het die afspraak gereël en Allan moes net opdaag. 'n Kind wat 'n weldoener in sy lewe nodig gehad het en nie geweet het waar sy hulp vandaan sou kom nie.      

Allan het sy hand diep in sy sak gesteek en vir die outjie skoolklere en ander skoolbenodigdhede gekoop. Hy vat hom toe huis toe en daar hoor hy dat albei ouers van hierdie kind oorlede is en dat sy ouma na hom kyk.

'n Opdrag van Bo wat gehoorsaam uitgevoer is. Allan, jy is 'n ster en om Mathys Roets, die sanger, se woorde in die nuwe Bruis-tydskrif aan te haal: "Ons ouens in rolstoele is rolmodelle vir mekaar."  Maar ons wil so 'n stukkie bylas - jy is 'n rolmodel vir elke leser van hierdie blog.