Thursday 18 July 2024

Hoe gaan jy vandag jou 67 minute spandeer?

Elke jaar word daar op 18 Julie 67 minute van individue gevra om uit te reik, om 'n verskil te maak en om hulp te verleen daar waar dit die nodigste is. Hierdie voorbeeld is deur Nelson Mandela gestel en wêreldwyd word sy geboortedag nou internasionaal gevier om mense bewus te maak van gemeenskappe en mense in nood. 

Internasionale Mandela Dag het in 2009 begin om mense te inspireer. Maak nie saak hoe klein of groot jou bydrae is nie, die belangrikste is die eerste tree. 

'n Paar uitreik-idees om hierdie dag anders as ander dae te maak: 
* Skenk plantjies vir die kerktuin of plant sommer self 'n paar plantjies of 'n boom in die tuin.
* Doen inkopies vir senior burgers of vir die inwoners van Sally Aucamp.
* Kuier by die inwoners van Ons Huis of Sally Aucamp tydens teetyd - gesels, gee om en vat 'n baksel skons of muffins saam. 
* Lees vir hulle wat in die 24-uur versorgingseenheid lê.  
* Help met huiswerk by 'n kinderhuis of gaan kuier net, gesels en deel broodnodige drukkies uit.
* Samel klere en/of komberse in en gee dit vir organisasies wat by werklose mense betrokke is.
* Besoek iemand in die hospitaal.
* Vat wol vir diegene in Ons Huis wat ywerig vir die straatkinders brei. 
* Bel iemand wat eensaam is en gesels vir 67 minute (dis mos net een maal 'n jaar).
* Kook 'n ete vir iemand wat dit nodig het.
* Gee 'n etegeskenkbewys vir 'n boemelaar.

Daar is nog honderde idees wat julle met ons kan deel. Stuur gerus foto's en vertel die storie agter die storie - dis dikwels die inspirasievonk wat iemand nodig het om die uitreikstokkie aan te vat in die lewenswedloop. 

Klik HIER om meer van Allan se 67-minute in 2023 te lees.