Friday 5 July 2024

Sally Aucamp reik na Bophelo-kinderhuis uit!


18 Julie - Mandela-dag - is vervroeg. Die koue wat nou met mening toegeslaan het en sy spreekwoordelike tande ingeslaan het, is daarvoor verantwoordelik. Allan Visagie se 67 minute uitreikaksie na Bophelo-kinderhuis was 'n groot sukses. Op hierdie stadium is daar 10 babas en 10 groterige kinders in die huis. Bydraes is ontvang van 'n 96-jarige dame wat warm truitjies gebrei het, Endry Strauss en Rina Groenewald het slaapsokkies vir die koue voetjies gebrei, en allerlei ander babagoed het hulle weg na Bophelo gevind. 

Allan is ongelukkig in die bed met griep, maar soos 'n goeie organiseerder betaam, het hy reëlings getref dat hierdie warm klere betyds by die ontvangers uitkom, saam met heerlike eetgoed, 'n pakkie lekkergoed vir elk en worsbroodjies.

Die twee huismoeders, Sanna Seekoei en René Beukes, is twee omgeemense wat nie sal skroom om die ekstra myl te loop nie. Hulle is die hart van Bophelo-kinderhuis. Mag hulle baie krag en genade ontvang om hierdie groot taak met ywer te doen.

Rina Groenewald, Daphné de Beer, Natalie Willemse en Wian Willemse het Allan se skoene gaan volstaan en saam met die inwonertjies gekuier.