As daar nou een ding is wat vir my duidelik is, is dit dat jou kinders as volwassenes nie noodwendig minder moeilikheid vir Pa en Ma beteken nie.
Inteendeel, ek het baie al moes hoor dat ouers sug en sê dat hulle nie weet waar hul kinders se maniere of optrede nou skielik vandaan kom nie. Volwasse kinders kan vir hul ouers groot moeilikheid beteken.
Groot kinders kan hul ouers baie, baie seermaak, soms sonder dat 'n mens dit enigsins verwag. Net soveel seën kinders kan wees, net soveel seer kan hulle ook veroorsaak.
Toe ek dié dag met Ma en Middelseun gesels, het ek besef sy is nou 'n goeie voorbeeld van iemand wat hiervan kan getuig.
Van 'n ma en 'n pa wat oor die jare heen hard probeer het, maar wie se middelste seun net anders as die ouer en jonger broer is. Pas weer is sy verlowing verbreek, het hy sy werk verloor en moeilikheid gemaak.
Ma soek 'n antwoord, sy weet nie regtig waarheen en hoe met so 'n volwassene wat nie wil hoor nie. Sy het hom reggeleer, reggelei, reg voor hom geleef, maar ai, hy wil nie hoor nie. Hoe oorleef sy met so 'n kind?
Sy het 'n goeie antwoord: "As die moeilikheid groot is, moet 'n mens klein treë gee."
Dié seun het haar geleer om klein treë te gee. Daar kom tye in 'n mens se lewe dat groot treë nie gaan help nie, dan moet jy stuk-stuk beweeg.
As die moeilikheid op sy grootste is, is dit sulke tyd. Dan moet jy klein treë gee en deur die klein treë kom jy stuk-stuk waar jy moet wees.
Ons is geneig om te dink dat groot probleme groot oplossings vra. Ons dink groot moeilikheid kan net met groot treë opgelos word. Hierdie ma het my 'n heeltemal ander perspektief op groot moeilikheid gegee. In groot moeilikheid, gee jy klein treë.
In die volksmond is daar 'n sêding wat lui dat 'n mens 'n olifant happie vir happie moet eet. As die moeiikheid groot is, gee klein treë.
Klik HIER om die artikel Twyfelhoekie: Kyk tog met ’n sagte hart om jou te lees.