Saturday 27 July 2024

Kerkgenotjies: Ouma se Broccoli

Die 4-jarige Johan het by sy ouma op die platteland gaan kuier. Ouma besluit dis nou die tyd om die swak eetgewoontes van die stad reg te stel en om Johan ‘n bietjie meer te leer van groentes. Spesifiek die groentes wat sy ma nooit voorberei nie. Johan leer sommer ook dat die gesondste groente die groente is wat sy ouma self plant.

Die spesifieke dag is BROCCOLI aan die beurt en ouma versin die oulikste stories oor die boompie wat hy gaan proe.

Hy kan nie wag nie en begin ewe entoesiasties aan die eerste een proe, maar ouma sien hy kou al stadiger met ‘n veraf uitdrukking in sy oë. Ouma het net gou in die spens verdwyn en hoor hom roep: “Ouma, kom kyk gou hier!”

Hy wys toe na sy bord waarop hy die boompie in ‘n hoop rys staangemaak het, mooi vasgedruk in die middel van die rys. “Kyk, Ouma, hierdie is die paradys en daardie is die boom waarvan God gesê het ons mag nie eet nie!”