Friday 19 July 2024

Terugblik: Die Dorsfontein - Maandblad van die NG Gemeente Dutoitspan


Die Dorsfontein was Dutoitspan se maandblad wat elke maand deur die diakens by hul onderskeie wyke uitgedeel is, as hulle die gemeentelede besoek het om hul maandelikse bydrae in te samel. Die A5-boekie se buiteblad was gewoonlik gekleurd (baie keer pienk) met wit blaaie in die middel wat deur van die kerkraadslede en oom Ross-hulle gevou is en dan vasgekram is, voordat dit afgetel en in die onderskeie poshokkies gesit is. Deel van die inhoud van die boekie was o.a. 'n boodskap, verslae van die voorsitters van die verenigings en al die aktiwiteite wat daardie maand plaasgevind het, asook wat voorlê. Hierdie maandblaadjie het gedurende die laat 1960's en vroeë 1970's verskyn.  

(Letsie Joubert het die inhoud op wasvelle getik, wat Schalk Pienaar op 'n Vrydagmiddag afgerol het en wat die kerkraad op 'n Sondagaand gevou het. Oom Ross het dit Maandagoggend afgetel en in die diakens se poshokkies gesit.)  

Waar kom die naam Die Dorsfontein vandaan? 

In die ou geskiedenisboeke verwys hulle o.a. na Dutoitspan en Dorstfontein. (History of South Africa since 1795 deur GM Theal).

In kort: Nadat daar besondere ryk vondste op die plaas Dorstfontein van 'n ene Van Wyk ontdek is en wel op die gedeelte bekend as Dutoitspan, het 'n groep delwers hulle na Dutoitspan gehaas. Daar aangekom, het hulle etlike boere, vriende van die plaaseienaar, Van Wyk, reeds aan die delf gevind. Eers wou Van Wyk hulle nie toelaat nie, maar toe hul nie die plek wil ontruim nie, was hy later genoodsaak om tot 'n vergelyk met hulle te kom, en so is die dry diggings by Dorstfontein geopen.   

Die geskiedenis van die plaas Dorstfontein kan teruggevoer word tot 1860. Op 22 November van daardie jaar is dit deur die owerheid van die Oranje-Vrystaat toegeken aan  AP du Toit - die man aan wie Dutoitspan waarskynlik sy naam te danke het. 'n Jaar of wat daarna het Du Toit dit verkoop aan CDC Geyer, wat op 12 Mei 1862 die geregistreerde eienaar geword het. Oplaas het Geyer dit weer aan AJ van Wyk verkoop, in wie se naam Dorstfontein op 6 Januarie 1869  geregistreer is. Van Wyk self het hierdie historiese diamantplaas op 24 April 1871 aan London Exploration Company verkoop. (Griqualand West Land Court p.134)

Dorstfontein het natuurlik binne die Oranje-Vrystaat geval en wel in die distrik Jacobsdal. Streng genome het Dutoitspan onder die gemeente Boshof en die aangrensende Bultfontein onder die van Jacobsdal geval. (Acta Synodi OVS. p.120) 

Ten einde die snel-groeiende delwersbevolking van Pniel, Dorstfontein en omstreke onder behoorlike burgerlike bestuur te plaas, het die owerheid van die OVS op 22 Februarie 1871 die sendingstasie Pniel afgesny van die distrik Jacobsdal en tot 'n afsonderlike distrik geproklameer, waartoe ook die delwerye van Dutoitspan, Bultfontein en die latere Vooruitsigt (Kimberley) behoort het. Gevolglik het die landdros Truter van Pniel verskuif na Dutoitspan, waar nou ook 'n poskantoor en polisiestasie geopen is.

So is Dutoitspan, tot sover haas onbekend, ineens op die kaart van Suid-Afrika, ja van die beskaafde wêreld, geplaas.

Mej. Liz van Wyk (of tannie Lizzie, soos sy algemeen bekend gestaan het) was die broerskind van AJ van Wyk - die eienaar van Dorstfontein. 'n Baie aktiewe en geliefde gemeentelid wat orals betrokke was. Sy was 'n Sondagskoolonderwyseres van 1919-1969. 

Tydens die eeufeesviering 1972 van die gemeente was sy nog gesond en aan die gang. Die vroegste foto's van haar in die eeufeesboek is in ds. WFP Marais (1896-1912) se tyd geneem waar die Sondagskool 'n piekniek op Alexanderfontein gaan hou het. 

[Bron: Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente Beaconsfield - Kimberley 1872-1972: HG Gouws, redakteur]
                   
Heerlike en interessante inligting beskikbaar by Kimberley City Info HIER en ook Today in Kimberley's History HIER.