Wednesday 31 July 2024

Mossiestilte: Job. 42:10-15

Vers 10: En die Here het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die Here het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen. 

Hoe sal ek weet? Vra 'n vriend meer in 'n stelling. 

Het Job geweet wat gaan in die hemele aan waar Satan met die Almagtige God oor hom redeneer? Het hy geweet hy gaan alles verloor? Het hy geweet dat God met hom sou praat? Het hy geweet dat God hom meer sou seën aan die einde as sy begin?

Jy hoef niks te weet behalwe dat God steeds lief is vir jou; so lief dat Hy sy Eniggebore Seun vir jou sondes tot die dood laat boet het. Abraham het geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken. Wat geglo? Het hy God gesien en toe geglo? 

Ons glo in God Almagtig, omdat ons van Hom uit die skrifte en geskiedenis geleer het. Tog kom daar dae dat God se onverklaarbare krag by en in ons manifesteer en ons glo omdat ons net weet. Vandag het almal die Heilige Gees wat ons leer en herinner aan Jesus se woorde en dade en ons vertroos. Selfs 'n kind weet wat reg en verkeerd is. Bid vir jou naaste in geloof, nie omdat jy iets van God verwag nie, maar net omdat jy glo en die deernis van Christus in jou is en manifesteer. 

Here, dankie dat U alreeds weet hoe my toekoms gaan uitwerk. Dankie vir u genade en barmhartigheid elke dag. Maak nie saak wat my omstandighede is nie, ek glo in die bloedverbond van Jesus met my. Daarom bid ek ook vir ander dat u redding en genesing, hulle ook sal aanraak in Jesus Naam. Dankie Vader, in Jesus Naam. Amen.