Showing posts with label Tyd. Show all posts
Showing posts with label Tyd. Show all posts

Tuesday, 7 July 2026

Koop die tyd uit ...

Hoe ouer mens word, hoe meer en meer besef jy dat 'n R70-horlosie presies dieselfde tyd aangee as 'n R7000 een.
 
Of jy nou 'n R70- beursie het of 'n R700-beursie, die bedrag binne in die beursie se waarde bly dieselfde.
 
Of jou huis sewentig vierkante meter is of sewehonderd vierkante meter, die eensaamheid en hartseer of vrede en geluk binne die huis bly dieselfde.
 
Hopelik sal ons almal eendag besef dat innerlike vreugde en vrede nie van fisiese besittings of rykdom afhang nie.
 
Of jy nou eerste klas of ekonomiese klas in 'n vliegtuig reis, as die vliegtuig val, val jy saam!

Daarom moet ons verstaan dat as ons ware vriende het, boeties en sussies saam met wie jy kan lag en huil en sing en bid en gesels oor alles en nog wat, dat dít eintlik WARE rykdom is ...
 
Geniet die mense rondom jou wat God oor jou pad gebring het, want hul waarde is onmeetbaar.
 
Vertel vir hulle hoe kosbaar hulle vir jou is en hoe belangrik hulle voetspore in jou lewe is.
 
Wees ook dankbaar vir diegene wat jou wieletjies pap maak en jou geduld beproef, want jy leer waardevolle lewenslesse deur hulle.
 
Vergewe en maak reg terwyl daar nog tyd is.
 
Wees dankbaar dat jy 'n gesin en vriende en familie het.
 
Hulle is net vir jou geleen, en eendag gaan jy hul werklike waarde besef as jy hulle leë stoel of plekkie raaksien ...
 
Besef vandag opnuut dat sonder God in jou lewe, alles eintlik 'n sinnelose gejaag na wind is.
 
Ons hou ons besig met soveel dinge wat geen ewigheidswaarde het nie, terwyl ons eintlik moet voorberei vir 'n ewigheidslewe saam in die hemel.
 
So kom ons koop die tyd uit, want tyd is die een ding wat ons nooit weer terug kan kry as dit eers verby is nie.

Sunday, 21 June 2026

Vadersdag: Dankie, Pa!

My pa het my geleer kruip, maar gesê: "As jy groot is moet jy wérk vir dit wat jy wil hê, en nié kruip nie."

My pa het my geleer dat nie almal in die lewe Liewe Heksie of Liewe Lulu is nie, en dat Blommeland ook kaktusse huisves.

My pa het my geleer om my geld én my woorde te tel.

My pa het my geleer van noord, suid, oos en wes, maar dat ek self die rigting van my lewe moet bepaal.

My pa het my geleer dat die kortste pad na ‘n man se hart deur sy remote control loop, met SuperSport, MNet en DSTV as die hoofdis.

My pa het my geleer dat Bostik enige iets kan fix - van ‘n stukkende ketel tot ‘n stukkende hart.

My pa het my geleer dat grid, grout en great nie noodwendig dieselfde ding is nie.

My pa het my geleer om nie altyd my boetie te blameer as net die helfte van die maan in die lug hang en ek sê hy het dit gebreek nie.

My pa het my geleer dat drome méér is as net prentjies in ‘n mens se kop.

My pa het my geleer daar is altyd drie kante aan ‘n storie: My kant, jou kant en die regte kant.

My pa het my geleer die getrouste en goedkoopste troeteldier is ‘n spaarvarkie.

My pa het my geleer die mooiste vrou in die wêreld is my ma.

[Dankie, Marthie van der Merwe - 

Sunday, 25 January 2026

Tyd vir gebed

Mense kry vandag al hoe minder tyd vir gebed.
Daar is tyd vir enige ander ding:
tyd om te eet,
tyd om te slaap,
tyd om na die radio te luister,
tyd om TV te kyk,
tyd om die koerant te lees,
tyd om op FB rond te kuier ...
maar geen tyd vir gebed nie!

Susanna Wesley*, ten spyte van die feit dat sy negentien kinders grootgemaak het, het nogtans tyd gevind om haarself elke dag vir 'n volle uur in haar kamer toe te sluit, alleen met God.

Dit is nie sodanig 'n kwessie van tyd vind nie, maar van tyd maak!
En ons kan tyd maak as ons wil.

[Oswald Smith] 

* Lees HIER oor Susanna Wesley se gebedsnalatenskap en die invloed wat haar man en twee bekende seuns, John and Charles Wesley, op die Christelike geloof gelaat het.

Friday, 17 October 2025

Gedig: Geen tyd

Ek het gekniel om te bid, 
maar soveel het my te doen gestaan, 
dus was dit van korte duur.

Ek moes my na my werkplek haas, 
anders kon dié aan wie ek iets skuld, 
my aangluur.
Derhalwe het ek gekniel,
gou 'n gebed gedoen; 
en vinnig van my knieë opgestaan.

My Christelike plig was tog nou nagekom, 
so my siel kon in rustigheid weer voortbestaan.
Die ganse dag het die tyd ontbreek 
om 'n woord van bemoediging teenoor iemand te spreek.

Geen tyd is gemaak om met vriende oor Christus te praat - 
hulle kon met my die draak steek.
Geen tyd, geen tyd, te veel om te doen, 
dit was my voortdurende klaaglied
Geen tyd afgestaan aan siele in nood, 
maar eindelik baie tyd: 
dít wat die dood aan my bied.

Met neergeslane oë het ek voor die Here verskyn
en daar moes ek staan en bewe,
Want in Sy hand het God 'n boek gehad: 
dit was die Boek van die Lewe.

"Jou naam verskyn nie in my Boek nie," sê God toe Hy met my spreek,
"Ek wou dit op 'n keer neerskryf, maar die tyd daarvoor het ontbreek".

('n Variasie op verlede week se TYD-gedig. Klik HIER om dit weer te lees!)

Friday, 10 October 2025

Terugflits: Gedig - Tyd

Ek kniel en bid, maar nie te lank
Want daar is soveel te doen
Ek moet my jaas want pligte wag
te veel om op te noem.

Ek prewel 'n paar woorde gou,
Spring van my knieë op
My plig as Christen het ek gedoen,
My hart kan rustig klop.

Dwarsdeur die dag was daar geen tyd
'n Trooswoord uit te spreek;
En om van Christus te getuig
Het my gans ontbreek.

"GEEN TYD, GEEN TYD, te veel te doen
Dit laat ek steeds versteen.
Geen tyd oor armes te ontferm
Toe breek my sterfdag aan.

En toe ek voor Gods troon verskyn
En skuldig staan en bewe
Sien ek die Groot Boek in sy hand
Die Boek van Eewge Lewe.

God blaai daar in sy Boek en sê:
"Jou naam staan hier nie in nie.
Ek wou dit eenmaal hierin skryf,
Maar kon die TYD nie vind nie.

[Uit: Dorstfontein NG Gemeente Dutoitspan Maandblad Oktober 1986]

Friday, 25 July 2025

Geen tyd ...

Ons probeer om God te beperk tot binne die kerk op 'n Sondagoggend ...
Miskien ook Sondagaand ... 
En binne die onwaarskynlike diens op 'n weeksdag.

In tye van siekte, wil ons hom graag daar hê ...
En, natuurlik, by begrafnisse.

Nietemin, gedurende werktyd en wanneer ontspan word, 
het ons nie vir Hom tyd of plek nie ...
Daardie deel van ons lewens, na ons mening ... 
Kán ons, en behoort ons, self te behartig.

Mag God my vergewe dat ek ooit so gedink het ...
Dat daar 'n tyd en 'n plek is waar HY nie die EERSTE plek in my lewe moet inneem nie.

Ons behoort voortdurend tyd te hê om alles in herinnering te roep wat HY vir ons gedoen het.
Jesus het gesê: "Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader..." (Mar. 8:38 ).
Ja, ek hét God lief.
HY is die bron van my bestaan en my Redder.
Hy hou my funksioneel elke en iedere dag.
Sonder Hom sal ek niks wees nie.
Sonder Hom is ek 'n nul.
Maar, ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee (Fil. 4:13).

*DIE GEDIG** *

Ek het gekniel om te bid,
maar soveel het my te doen gestaan,
dus was dit van korte duur.

Ek moes my na my werkplek haas,
anders kon dié aan wie ek iets skuld, my aangluur.
Derhalwe het ek gekniel, gou 'n gebed gedoen;

en vinnig van my knieë opgestaan.
My Christelike plig was tog nou nagekom,
so my siel kon in rustigheid weer voortbestaan.

Die ganse dag het die tyd ontbreek om 'n woord van
bemoediging teenoor iemand te spreek.
Geen tyd is gemaak om met vriende oor Christus te praat -
hulle kon met my die draak steek.
Geen tyd, geen tyd, te veel om te doen,
dit was my voortdurende klaaglied.
Geen tyd afgestaan aan siele in nood,
maar eindelik baie tyd: dít wat die dood aan my bied.

Met neergeslane oë het ek voor die Here verskyn
en daar moes ek staan en bewe,
Want in Sy hand het God 'n boek gehad:
dit was die Boek van die Lewe.
"Jou naam verskyn nie in my Boek nie,"
sê God toe Hy met my spreek,
"Ek wou dit op 'n keer neerskryf,
maar die tyd daarvoor het ontbreek."

Sunday, 15 June 2025

Gebed vir Vadersdag

Ons bid vir die pa’s wat daarna streef om die eise van hulle werke, huwelike en kinders te balanseer met ‘n eerlike bewustheid van beide die vreugde en opoffering daarvan.

Ons bid vir die pa’s, wat ten spyte van hulle eie tekort aan ‘n rolmodel, gedurig daaraan werk om ‘n waardige pa te wees vir hul kinders.

Ons bid vir die pa’s wat nie altyd daar kon wees vir hulle kinders nie, maar wat nou ekstra moeite doen om hulle kinders lief te hê en te ondersteun, selfs as volwassenes. Hiermee saam bid ons spesiaal vir pa’s wat deur die woorde en dade van hulle kinders gewond is en dit dikwels diep in hulle binneste wegsteek.

Ons bid vir elke pa wat ten spyte van onenigheid in sy huwelik, in sy kinders se lewens betrokke bly.

Ons bid vir die pa’s van kinders wat aangeneem is, wie se liefde en ondersteuning lei na ‘n vol lewe wat getuig van aanvaarding en behoort.

Ons bid vir dié wat as stiefpa’s die rol van pa moet vervul, en hierdie verantwoordelikheid vrylik kies. Ons is dankbaar vir die wat die titel van “vader” verdien het in hulle stiefkinders se lewens deur liefde en respek. Ons bid ook vir die stiefpa’s wat nog daaraan werk en soms daarmee sukkel.

Ons huil saam met elke pa wat ‘n kind aan die dood afgestaan het en aanhou om oor die kind te rou en die kind in hulle harte saam te dra.

Ons bid ook vir elke man wat geen kinders het nie, maar die volgende generasie koester as hulle eie.

Ons dra elke man in die gemeenskap aan God op wat ons as vader-figuur gelei het as mentor, onderwyser of reisgenoot.

Ons bid vir die mans wat op die drumpel van ouerskap staan, mag hulle vry en met vrymoedigheid hulleself oor hulle kinders verheug.

Ons bid vir die pa’s wat reeds gesterf het, wat in ons herinnering en verlange voortleef, wat aanhou om ‘n invloed op ons lewens te hê.

Ons is diep dankbaar dat U vir ons kom wys het hoe lyk ‘n perfekte Vader wat omhels, troos en liefhet sonder voorwaardes.

Seën elke pa en pa-figuur in ons gemeenskap Heer, waar vaders dikwels afwesig is.

[Gebed deur Kirk Loadman, vertaal deur Tilana Meyer-Morkell]

Thursday, 22 May 2025

Dink hieroor: Spesiaal vir jou van my af

Alles kan in 'n oogwink verander.
Want God werk op vreemde wyses.
Sy wil is nie ons wil nie.
Sy gedagtes is nie ons gedagtes nie.
Sy tyd is nie ons tyd nie.
Daarom moet jy:
* Diep dink.
* Saggies praat.
* Baie liefhê.
* Vriendelik wees.
* Hard werk
* Voluit lewe.
Want elkeen wat goed lewe, lewe lank, want ons lewenstyd word nie bereken in jare, dae of ure nie ...
Dink gerus en gereeld hieroor:
Vreugde, selfs liefde, sterf as jy dit nie vertroetel nie.
Daarom is dit nou tyd dat ons -
* Met sagte hande aan mekaar begin vat.
* Met sagte oë na mekaar begin kyk.
* Met sagte tonge met mekaar praat.
En sorg dat ons elke dag ons daaglikse dosis lag inkry!

Monday, 24 March 2025

Gebed: God het my tyd afgemeet om tot sy eer te gebruik

Here my God, ek het tyd.
Oorgenoeg tyd.
Al sê ek so dikwels:
"Jammer, maar ek kan eenvoudig nie dit ook nog inpas nie!"
Ek het al die tyd
Wat U aan my gegee het:
Die dae van my jare
Die ure van my dae
Dit alles het ek tot my
Beskikking om te vul.
Here, ek bring my tyd na U toe.
Ure en dae wat ek vir U kan werk -
Die vrouevereniging, die katkasasie,
die dankfees, gemeenskapdiens ...
Maak asseblief uit die brak en smaaklose
water van my gejaagde ure - geurige, vol, ryk wyn - soos daardie dag in Kana -
Sodat ek daagliks ander se dors daarmee kan les.
Amen  

Friday, 24 January 2025

SNAAKS ...

... hoe baie R100 is as jy dit kerk toe neem, en tog so min as jy supermark toe gaan.
... hoe lank is 'n uur as jy die Here dien en hoe kort 60 minute is as jy langs die viswaters sit.
... hoe moeilik dit is om 'n hele hoofstuk van die Bybel op een slag te lees en hoe maklik dit is om 'n hele roman deur te lees.
... hoe ons nie weet wat om te sê as ons bid nie - en tog kan ons ure lank oor nietighede gesels.
... hoe mens te moeg is na werk om biduur toe te gaan, maar hoe verfris jy voel as daar partytjie gehou word.
... hoe daar nie nog tyd is om op die kerkraad of vrouediens te dien nie, maar hoe 'n mens ure lank na TV, FB en videos kan kyk.
... hoe verveeld mens kan raak wanneer die dominie 30 minute lank preek, maar hoe interessant 'n vollengte rolprent kan wees.
... hoe onbekwaam 'n mens is om vir Here te werk, maar hoe op hoogte van sake jy kan wees oor die politiek van die dag.

Nee, dit is maar net tekens van waar ons prioriteite lê - en van ons ware toewyding aan die God wat ALLES vir ons gegee het

"Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
Dit is die eerste en groot gebod." Matt 22:37. 

[Eerw. Jan Muller]

Thursday, 16 January 2025

n Rede tot blydskap

Elke nuwe dag wat GOD sy kinders gee, is 'n rede tot blydskap. 'n Dag wat ons voluit kan geniet en die dinge kan doen wat ons graag wil. Nie een van ons weet hoeveel lewensdae ons nog oorhet nie.

Ook weet jy nie hoeveel môres daar nog vir jou voorlê nie.

Maar jy het wel vandag waarvan jy seker is. Maak spesiaal tyd om vandag maksimaal te benut. Moet niks tot môre uitstel wat jy vandag kan doen nie. As jy iets wil doen, doen dit vandag. Sê jy is jammer, wys nou jy is lief vir iemand. As jy rusie gemaak het, maak nou reg. Moenie tyd mors nie.

Thursday, 7 November 2024

Dis nou jou tyd - gebruik dit!!

Gister was ‘n goeie begin. Vandag kan jy selfs beter doen!

Wat jy tot op hierdie punt gedoen het, is indrukwekkend. Wat jy nou kan doen, is fenominaal.

Jy het baie moeite, aandag, tyd en opoffering ingesit om te kan wees wie jy is. Nou is die tyd om al daardie waardes saam te snoer en die beste jy te word wat jy kan wees.

Voel die sukses en absolute positiwiteit van al die doelwitte wat jy al bereik het. Jy is hier om ‘n verskil te maak, en wanneer jy dit doen sal jy sonder twyfel weet dat jy op pad is na jou Godgegewe doel.

Die warm son skyn, die koue wind waai, en die lewe offer jou nuwe vreugde en uitdagings met elke dagbreek. Deur dit alles, maak nie saak wat nie, kan jy jou eie unieke waarde in antwoord op die lewe se uitdagings bied.

Leer uit jou teleurstellings, en bou op jou suksesse. Dit is JOU tyd om jou doelwitte en drome te bereik.

[Aangestuur deur Liz.]

Thursday, 3 October 2024

Dink hieroor: Tyd is gratis

“Tyd is gratis
maar dit is prysloos.
Jy kan dit nie besit nie
maar jy kan dit gebruik.
Jy kan dit nie hou nie
maar jy kan dit spandeer.
As jy dit verloor het
kan jy dit nooit weer terug kry nie.”
Kom ons gebruik die ure in die dag wys.

Monday, 30 September 2024

Gee ons vandag kalmte, Heer

Op die Here se tyd.
Ons hoor dit tog so baie!
Glo jy dit?
Is dit vir jou ook?
Of wonder jy ook soms en smeek jy na bo: "Wanneer is dit dan nou tyd, Heer???"
Ons moet glo en vertrou.
Hoe moeilik ookal.

Here, help ons vandag om te besef dat U al lankal, van die begin van tyd af weet wanneer die regte tyd is vir alle planne wat ons het, alle hartsbegeertes om in plek te val. U weet wat U vir ons beplan het, en U beplan net goed. Gee ons vandag kalmte, Heer, om te kan vertrou. AMEN

Wednesday, 14 August 2024

Spreuke in 'n katedraal in Wallis

Maak tyd om te dink - 
dis die bron van krag.
Maak tyd om te speel - 
dis die geheim van blywende jeug.
Maak tyd om te lees -
dis die fontein van wysheid.
Maak tyd om te bid -
dit is die grootste krag op aarde.
Maak tyd om lief te hê -
en om liefde te ontvang, 
dis ’n Godgegewe voorreg.
Maak tyd om vriendelik te wees -
dis die pad van geluk.
Maak tyd om te lag -
dis die musiek van die siel.
Maak tyd om te gee -
die tyd is te kort vir selfsug.
Maak tyd om te werk -
dis die prys van sukses.
Maak tyd om goed te doen -
dis die sleutel na die hemel. 
Maak tyd om te glo -
dis die sleutel tot die Ewigheid. 

Tuesday, 16 July 2024

Elke uur van die horlosie het 'n boodskap

EENUUR:- sê vir my ek lewe net eenmaal en daarom moet ek die lewe waardeer en my tyd op aarde reg gebruik.

TWEEUUR:- sê ons het net 2 ouers wat ons moet liefhê en gehoorsaam.

DRIEUUR:- herinner my aan die Drie-enige God wat ek met my hele hart moet. .. liefhê, die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

VIERUUR:- herinner my aan die 4 windstreke (Noord, Suid, Oos en Wes) en dat ek, waar ek ookal gaan, God se kompas (my Bybel) nodig het om vir my rigting aan te wys.

VYFUUR:- dui op die 5 vingers aan elke hand waarmee ons moet werk om ons brood eerlik te verdien en diensbaar vir die Here te wees.

SESUUR:- sê vir my dat ek ses dae van die week moet werk.

SEWEUUR:- sê dat ek op die sewende dag moet rus.

AGTUUR:- laat my dink aan die agt siele in Noag se ark wat in die sonvloed behoue gebly het, en dat ek net so behoue sal bly as ek by Christus my skuiling soek.

NEGEUUR:- herinner my aan die 9 melaatses wat nie teruggekom het om die Here te dank na hulle gesond geword het nie, en maan my om altyd dankbaar te wees vir al die goeie dinge wat ek uit Sy hand ontvang.

TIENUUR:- herinner my aan die 10 jong meisies waarvan 5 nie gereed was toe die bruidegom gekom het nie, en vermaan my om nie so dwaas te wees nie.

ELFUUR:- herinner my aan so baie mense wat tot elfderuur uitstel om hulle te bekeer en dan onverwags te sterwe kom.

TWAALFUUR:- sê vir my die genadetyd is haas verby. Middernag kom die bruidegom en ek moet sorg dat ek nie agter bly as hy sy kinders kom haal nie.

Elke tik van die horlosie. Elke klop van die hart bied 'n geleentheid! Amen!

[Dankie, Rosetta, vir die aanstuur van hierdie boodskap.] 

Sunday, 16 June 2024

Pa's, daar is geen plaasvervanger vir liefde nie

Die Amerikaanse skrywer, Alan Cohen, vertel: In 'n klein dorpie in Spanje het 'n pa met die naam, Jorge, 'n bitter argument met sy seun, Paco, gehad. Die volgende oggend het Jorge ontdek dat Paco se bed leeg is - hy het van die huis af gedros.

Oorweldig deur spyt en berou het Jorge selfondersoek gedoen en geweet sy kind is vir hom belangriker as enigiets anders op aarde. Hy het besef dat hy as pa misluk het en wou weer van voor af met sy seun begin. Jorge het na 'n bekende winkel in die middedorp gegaan en 'n groot kennisgewing in die venster geplaas met die volgende boodskap: "Paco, kom huis toe! Ek is lief vir jou. Ontmoet my môre-oggend hier."

Die volgende oggend het Jorge na die winkel gegaan waar hy nie minder nie as sewe jong seuns met die naam, Paco, aangetref het en wat ook onder dergelike omstandighede van die huis af gedros het. Elkeen het die roepstem van liefde beantwoord met die hoop dat dit sý pa was wat hom met ope arms huis toe nooi.

Op Vadersdag, wanneer Pa altyd oorlaai word met waardering en liefde, is dit miskien gepas vir pa's om 'n bietjie selfondersoek te doen en te vra of hulle as rolmodelle van vaderskap al die lof en liefdesbetuigings waardig is. Dis nie om pretbederwer te wees nie, maar om 'n ernstige realiteit van ons tyd onder oë te neem. Kinders sal 'n pa nie onthou vir die materiële dinge wat hy aan hulle verskaf het nie, maar vir die manier waarop hy hulle met liefde vertroetel het.

Wat ook al in ons tyd deur verskillende kitsoplossers gesê word, die primêre behoefte van 'n kind is liefde - waarvoor daar geen plaasvervanger is nie.

Die meeste van ons as pa's sal dinge anders doen as ons weer ons kinders van voor af kan grootmaak. Een ding het die lewe ons geleer, mits ons oop was om geleer te word: daar is geen probleem wat die liefde nie kan oplos nie; geen knoop wat die liefde nie kan ontrafel nie; geen generasiegaping wat die liefde nie kan oorbrug nie.

Om dié soort liefde 'n konkrete werklikheid te maak, móét ons meer tyd met ons kinders deurbring. Die lewe gryp ons so maklik in sy seekatgreep vas dat ons vir ons kinders vreemdelinge word. Past. Gary Stroope het tereg gesê: "Ek het nog nooit 'n geslag kinders só ouerloos gesien nie."

Ons ken 'n kollega wat gedink het dat die werk wat hy vir die Here doen van kardinale belang is. Vroeg soggens, voordat die kinders op was, was hy al uit die huis uit en saans wanneer hy terugkom, slaap hulle reeds. Toe word hy een middernag plotseling tot stilstand geruk deur 'n briefie wat sy agtjarige dogtertjie aan sy kopkussing vasgespeld het. In haar kinderhandskriffie skryf sy: "Pappa, ek is baie lief vir Pappa, maar ek sien Pappa nooit om dit vir jou te sê nie. Nou skryf ek dit maar. Ek is baie lief vir Pappa." En met die vergewensgesindheid van 'n kind sluit sy af met honderd onverdiende soentjies onder aan die brief.

Soos 'n rotsstorting het berou sy hart oorweldig. Sy kon nie verstaan nie toe hy haar om middernag uit haar bedjie optel en haar warm lyfie aan sy bors druk en belowe: "Nooit weer sal jy hunker na die liefde van 'n pa nie."

Hoe maklik ontaard ons lewenstyl nie tot dié van mense wat met die oop deur na die straat toe lewe en ons lewe uitdeel aan almal wat verbykom, terwyl ons vlees en bloed in ons eie huis smag na ons liefde en teenwoordigheid.

Ons is tog so besig met "belangrike"dinge - selfs met ander ouers se kinders, terwyl ons eie kinders hunker na ons liefde en nabyheid.

Ralph Waldo Emerson het gesê: "Wie jy is, praat so hard dat ek nie kan hoor wat jy sê nie."

Ons kinders leer eintlik eers wie ons werklik is wanneer ons genoeg tyd saam met hulle deurdring. Ons móét tyd máák vir ons kinders! Miskien moet ons ter liefdevolle ontnugtering van pa's wat té besig is om tyd te hê om saam met hul kinders deur te bring, na Stan Gibhardt luister: "Ek het na jou gekyk, Pa, en geglimlag.Ek het gehoop jy sou my sien maar jy het nie. Ek het vir jou gesê, ek is lief vir jou en gewag vir 'n antwoord, maar jy het nie. Ek het vir jou gevra om buite saam met my te kom bal speel, maar jy het nie. Ek het 'n tent in die agterplaas opgeslaan en gehoop dat jy één nag saam met my sal deurbring, maar jy het nie. Ek het iemand nodig gehad om mee te gesels en my gedagtes te deel. Ek het gedink dat jy sou kom kyk, maar jy het nie. Ek het jou vertel van my eerste wedstryd en gehoop dat jy sou kom kyk, maar jy het nie. Ek het jou gevra om my jeug met my te deel, maar jy was té besig en jy kon nie. My land het my opgeroep vir militêre diensplig en jy het gevra dat ek veilig moet tuiskom, maar ek het nie.  

[Bron: Die Taalgenoot, Ja-nee ..., Junie 1999, bl. 45]

Wednesday, 5 June 2024

Tyd is die grootste geskenk

Elke dag is 'n tydgleuf wat sonder voorbehoud aan ons geskenk word en wat ons óf benut óf verspil. Elkeen van ons ontvang elke dag ewe veel van hierdie kosbare geskenk. Daar word geen onderskeid tussen mense gemaak nie.

Daar is 24 uur wat bestuur moet word, of soos vir baie die geval is, wat jóú bestuur, jou uitput en jou ook skuldig laat voel. Die een faktor wat sommige mense dalk meer suksesvol maak, is die feit dat hulle die kuns bemeester het om hulle tyd beter as ander te bestuur of te beplan. 

Tyd is die een produk wat nie gespaar, gekoop of geruil kan word nie. 

Tyd is 'n ruwe en onbewerkte produk. Dit vra om gebruik, benut en ontwikkel te word. Die maklikste uitweg is natuurlik om net passasiers daarvan te word, wat tot gevolg het dat dit nooit omskep word in 'n instrument waarmee ek myself kan ontwikkel en my volle potensiaal kan bereik nie. Passiewe tydspassasiers verspeel baie lewensure en -jare om eendag te ontdek dat die tyd hulle ingehaal het en dat hulle nooit hulle drome verwesenlik het nie.

Wat maak jy met hierdie grootse geskenk?

[Verwerk uit Maksiman, Maart 2003]

Wednesday, 27 September 2023

Gees en waarheid

Olywe word gepars vir die beste olyfolie.
Druiwe word flenters getrap vir die allerbeste wyn.
Van stukkende blomme word die duurste parfuum gemaak.

Wat het dit met ons in gemeen?

Onthou, as die lewe jou pars, flenters trap
of pimpel en pers slaan ... 
hou moed, want deur dit alles dra Jesus jou,
jou anker is vas
jou ketting kan nooit breek nie,
jy is met die Hand uitgesoek!

Mag jy vandag tyd kry om by die Here se voete te gaan sit
en met te ervaar hoe lief Hy jou het
en hoe kosbaar jy in Sy oë is.

Geniet hierdie dag 
en elke ander dag
met 'n passie vir die lewe,
'n glimlag en 'n positiewe gesindheid.
(Skrywer: Ellaine Kapp)

[Dankie, Rosetta, dat jy hierdie boodskap met ons almal deel.] 

Sunday, 20 November 2022

Eendag, lank lank gelede ...


... was daar 'n eiland waar gevoelens gebly het: Blydskap, Hartseer, Kennis, Liefde, ens.

Op 'n dag word daar aangekondig dat die eiland gaan sink.

Inderdaad het almal bote reggekry om te vlug.  Almal, behalwe Liefde. Sy het daar gebly tot die einde. Toe sy sien die eiland sink regtig, het sy besluit sy kort hulp. Sy vra vir Rykdom om haar op te laai, maar Rykdom antwoord: "Nee jammer, ek het te veel goud en silwer - ek het nie plek vir jou nie.

Liefde vra toe vir Ydelheid en dié antwoord: "Jammer, jy's al sopnat en gaan my boot beskadig." Liefde vra toe vir Hartseer en Hartseer antwoord: "Ag, Liefde, ek is soooo hartseer. Ek wil net op my eie wees. Jammer!" Blydskap kom verby en is so vrolik dat hy nie eens Liefde se krete hoor nie!! Skielik was daar 'n sagte stem agter Liefde wat sê dat hy haar sal help. Liefde is so bly dat sy vergeet om sy naam te vra en toe hulle aan wal stap, het die pragtige kalm stem verdwyn. Liefde vra vir Kennis wie haar gehelp het?? En kennis antwoord: "Dit is Tyd." Liefde vra verbaas ... Tyd? Hoekom het Tyd my gehelp??" 

Omdat slegs TYD in staat is om ons te laat besef hoe belangrik LIEFDE werlik is ...