Monday, 24 March 2025

Gebed: God het my tyd afgemeet om tot sy eer te gebruik

Here my God, ek het tyd.
Oorgenoeg tyd.
Al sê ek so dikwels:
"Jammer, maar ek kan eenvoudig nie dit ook nog inpas nie!"
Ek het al die tyd
Wat U aan my gegee het:
Die dae van my jare
Die ure van my dae
Dit alles het ek tot my
Beskikking om te vul.
Here, ek bring my tyd na U toe.
Ure en dae wat ek vir U kan werk -
Die vrouevereniging, die katkasasie,
die dankfees, gemeenskapdiens ...
Maak asseblief uit die brak en smaaklose
water van my gejaagde ure - geurige, vol, ryk wyn - soos daardie dag in Kana -
Sodat ek daagliks ander se dors daarmee kan les.
Amen