Thursday, 13 March 2025

Dink hieroor: Die skeidsregter

Dit staan soos 'n paal bo water - met hom redekawel of verskil jy nie: 'n strafskop of 'n strafdrie is jou voorland. Speel jy egter volgens die reëls, is hy die vriendelikheid self. Dis nou man wat die fluitjie hanteer wanneer 30 moeë manne vir tagtig minute agter een val aanhardloop - die skeidsregter.

Al lyk hy klein tussen manne van gemiddeld 110 kg, het hy groot gesag. Met vragte kennis en hope ondervinding straf en beloon hy. Tog word sy oordeel dikwels in twyfel getrek - deur leunstoelkenners, wat elkeen 'n reëlboek ingesluk het! En elke span wat verloor, maak hom die skuldige. Met oë agter sy kop, moet hy regverdig oordeel oor wat in 'n breukdeel van 'n sekonde gebeur. Tog is hy net 'n mens wat sy sport geniet - fluitjie in die mond! Hoe dit ookal sy, 'n skeidsregter is baie spesiaal.

Elkeen van ons is 'n skeidsregter. Ons besluit, neem standpunt in en pas lewensreëls toe. Maar mag ons nooit vergeet dat die Skeidsregter van ons lewe in beheer is nie. Wie is Hy? Jeremia 11:20 sê: "die Here, almagtige regverdige Regter ..." 

Hy regeer tot in ewigheid. Hy oordeel regverdig. Hy verwag gehoorsaamheid. Hy pas dissipline toe. Hy is genadig. Hy toets ons. Hy vergewe ons oortredings.

Ons hoef Hom nooit in twyfel te trek nie - ons kan ons oorgee aan Hom. As ons af-en-toe 'n geelkaart kry, is dit om ons die lewenspel volgens sy Reëlboek - die Bybel te leer speel. Hy bly in beheer.

Wat 'n voorreg om in God se span te speel!

[Corrie van Wyk - Lucerna Desember 2000: Radiokansel - kommunikeerders van die Goeie Nuus]