Showing posts with label Gelukwensing. Show all posts
Showing posts with label Gelukwensing. Show all posts

Sunday, 12 October 2025

Verlowing: Adriaan en Jade


Baie geluk met julle verlowing. 
Ons wens vir julle 'n leeftyd van geluk, 
onvergeetlike herinneringe,
baie liefde en baie seën toe.

Sunday, 3 August 2025

Kerkraadslede: ouderlinge en diakens


 Sarel, Danie, Elmar, Christiaan, Johannes en Chris baie geluk en mag die werk wat julle in sy wingerd verrig, geseënd wees en vrugte dra. 

Friday, 14 March 2025

Kerkraadslede: ouderlinge

 
Adriaan en Marina, baie geluk en mag die werk wat julle in sy wingerd verrig, geseënd wees en vrugte dra. 

Friday, 31 May 2024

Terugblik: Inwyding van die tentkerk (en die stoelprobleem)

 

GESTIG
1872

RING
Kimberley (voorheen Dutoitspan)

ADRES
H.v. Rose- en Dyerplek, Beaconsfield, Kimberley

SLUIT IN
Beaconsfield en omgewing

EERSTE PREDIKANT
S.H. Kuhn (1877–1880)

Interessante terugblikbrokkie:

Die inwyding van Dutoitspan se kerktent op Saterdag 21 Januarie 1872 was 'n heuglike feesdag. Baie lidmate van New Rush het oorgekom om in die vreugde van hul bure te deel. Ds. EAJ du Toit van Jacobsdal en ds. Colin Fraser van Philippolis het by hierdie plegtigheid voorgegaan.

Berig in De Kerkbode

Aan die hand van 'n berig in De Kerkbode van 10/2/1872 kon ons die verrigtinge mooi volg. Die aanwesiges het hul eers na de oude kerkplaats - die noodkerk van bokseile wat van tyd tot tyd oor die waens en karre gespan was - begewe, waar ds. Du Toit hul kortliks toegespreek het. Vandaar het hul in plegtige optog na die kerktent gegaan, wat op die gebruiklike wyse deur ds. Fraser geopen is, terwyl dit een stryk deur gestortreën het. Ondanks die gure weer was die opkoms so groot dat die gebou in 'n ommesien propvol was. Nadat ds. Du Toit die gebed van Salomo by die inwyding van die tempel (1 Konings 8) voorgelees het, het ds. Fraser sy wydingsrede uitgespreek na aanleiding van Exodus 20:24: Op elke plek waar Ek my Naam laat gedenk, sal Ek na jou toe kom en jou seën. 

By al twee dienste die volgende dag was die bedehuis weer eens goed gevul. Die volgende Sondag is die nagmaal gevier. Hierdie bedehuis het blykbaar tussen die mynhope op die N.-Circularweg gestaan en is later deur die Dutoitspanmyn verswelg.

Met die inwyding het daar nog 90 pond (R180) skuld op die kerktent gerus.

Berig in Het Volksblad:

So het ons lidmate op sowel Dutoitspan as New Rush nou hul eie bedehuis gehad. Maar dié het natuurlik sleg afgesteek by die kerkgeboue van die ander kerke op die diamantvelde. Op New Rush alleen - aldus 'n berig van 'n korrespondent in Het Volksblad van 18/6/1872 - was daar toe al nie minder nie as ses gerieflike kerkgeboue van ander genootskappe.

Terwyl hierdie bedehuise hul eie stoele en banke gehad het, moes die lidmate van die NG Kerk vir elke diens hul eie stoele saamdra! Daar was dus nog 'n groot agterstand vir die Kerk om in te haal.

[Bron: Eeufeesalbum: Gous, HG. 1971. Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente: Beaconsfield Kimberley 1872-1972 - bl. 11]

Friday, 24 May 2024

Terugblik: Diamantveld-gemeente se groeteboodskap


Diamantveld-gemeente is die jongste dogtergemeente wat in 1955 van Dutoitspan afgestig het en tydens ons gemeente se eeufeesvieringe was ds. VO Nel die leraar van Diamantveld. Hier volg sy groeteboodskap aan Dutoitspan:

Dit is vir my 'n besondere voorreg om namens die jongste dogtergemeente, Diamantveld, u hartlik geluk te wens, waar u tans die honderdjarige bestaan van u gemeente herdenk. Ons is saam met u dankbaar en bly.

As ons oor die honderd jaar terugkyk, wil ons die Here dank vir daardie manne en vroue - geharde Godsvresende mense wat die behoefte gevoel het en daadwerklik oorgegaan het tot die stigting van die gemeente Dutoitspan. Hierdie gemeente het gegroei en met trots sy plek ingeneem in die ry van gemeentes van ons kerk. Ander gemeentes is van hom afgestig met 'n eie karakter wat God aan hulle gegee het.  

Die gemeente van Dutoitspan het saam met ons kerk in wording, gely en gestry en krisistye deurgemaak, insinkings belewe, maar deur die genade van God staande gebly en sy deel bygedra om die geestelike erfenis sowel as die kultuurgoedere van ons volk en kerk in stand te hou.

Na honderd jaar bely ons saam met u dat die Here u gelei het na Sy raad, en dank ons Hom vir wat die Calvinisme, ons Gereformeerde leer en die Verbondsgedagte vir u beteken het. Ja, dat die kerk van ons vaders nog ons kerk is!

Ons glo dat u 'n verbondsgemeente is, en dat God 'n besondere doel met u as gemeente het.

Waar ons grootste dank in oorgawe geopenbaar word, wil ons met die oog op die toekoms saam met u bid, die gebed van Dawid in 11 Samuel 7:29: "Laat dit U dan nou behaag, en seën die huis van U kneg, sodat dit vir ewig voor U aangesig kan wees."

Klik HIER vir meer inligting.

Bron: Eeufeesalbum: Gous, HG. 1971. Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente: Beaconsfield Kimberley 1872-1972