Friday 24 May 2024

Terugblik: Diamantveld-gemeente se groeteboodskap


Diamantveld-gemeente is die jongste dogtergemeente wat in 1955 van Dutoitspan afgestig het en tydens ons gemeente se eeufeesvieringe was ds. VO Nel die leraar van Diamantveld. Hier volg sy groeteboodskap aan Dutoitspan:

Dit is vir my 'n besondere voorreg om namens die jongste dogtergemeente, Diamantveld, u hartlik geluk te wens, waar u tans die honderdjarige bestaan van u gemeente herdenk. Ons is saam met u dankbaar en bly.

As ons oor die honderd jaar terugkyk, wil ons die Here dank vir daardie manne en vroue - geharde Godsvresende mense wat die behoefte gevoel het en daadwerklik oorgegaan het tot die stigting van die gemeente Dutoitspan. Hierdie gemeente het gegroei en met trots sy plek ingeneem in die ry van gemeentes van ons kerk. Ander gemeentes is van hom afgestig met 'n eie karakter wat God aan hulle gegee het.  

Die gemeente van Dutoitspan het saam met ons kerk in wording, gely en gestry en krisistye deurgemaak, insinkings belewe, maar deur die genade van God staande gebly en sy deel bygedra om die geestelike erfenis sowel as die kultuurgoedere van ons volk en kerk in stand te hou.

Na honderd jaar bely ons saam met u dat die Here u gelei het na Sy raad, en dank ons Hom vir wat die Calvinisme, ons Gereformeerde leer en die Verbondsgedagte vir u beteken het. Ja, dat die kerk van ons vaders nog ons kerk is!

Ons glo dat u 'n verbondsgemeente is, en dat God 'n besondere doel met u as gemeente het.

Waar ons grootste dank in oorgawe geopenbaar word, wil ons met die oog op die toekoms saam met u bid, die gebed van Dawid in 11 Samuel 7:29: "Laat dit U dan nou behaag, en seën die huis van U kneg, sodat dit vir ewig voor U aangesig kan wees."

Klik HIER vir meer inligting.

Bron: Eeufeesalbum: Gous, HG. 1971. Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente: Beaconsfield Kimberley 1872-1972