Thursday 23 May 2024

Hoekom bekommerd?

Ons hoor so dikwels iemand sê: Moenie bekommerd wees nie - maar dan ons wonder maar in die stilligheid hoe ons al ons bekommernisse net so opsy kan sit. Daar is soveel gevare wat ons omring, soveel dinge wat ons in spanning laat leef, en soveel mense wat seer het. Ek kan onmiddellik aan 10 belangrike bekommernisse gelyk dink - die verkiesing wat op hande is, die misdaad wat hand uitruk. werkloosheid, die ekonomie, finansiële probleme, oorloë en gerugte van moontlike oorloë, kanker wat so toeneem dat feitlik almal op die kerk se gebedslysie, die een of ander kanker het en dan tref dit my: Om nie bekommerd te wees nie, lyk onmoontlik. Dit is onmoontlik om ons op te hou bekommer as ons elke dag na al die probleme in die lewe kyk. 

Maar tog, toe ek vanoggend my twee oë oopmaak, besef ek dit is die eerste sigbare seëninge vir vandag. Die wonder van God se liefde wat vir ons leer dat Hy soveel groter is as die kommerwekkende omstandighede wat ons daagliks ondervind. Hy verseker ons dat Hy beheer het oor alle dinge. Hy is die Almagtige, Alwetende God wat ons behoeftes ken en in staat is om almal te vervul. 

Hy het ons grootste bekommernis weggeneem. Hy het ons bevry van die straf wat ons as sondaars verdien. Hy het Sy liefde aan ons gegee deur ons die lewe saam met Hom te gee, wat vir ewig sal  bestaan. Ons Hemelse Vader, wat ons so liefgehad het dat Hy Jesus as ons Verlosser gestuur het, beloof ook om in ons lewens te voorsien en ons teen gevaar te beskerm. Dit is nie nodig om onaangenaam, onbuigbaar, kwaad, angstig of vir die toekoms bang te wees nie, want ons het ’n Verlosser wat al ons gebede hoor en verhoor. Geen bekommernisse of al die ellende wat ons daagliks in die wêreld ervaar, en in die media van lees, kan die vrede wat ons deur geloof in Jesus Christus ontvang het, van ons wegneem nie.
 
Dankbaar vir God se reddende liefde in Jesus Christus, kan ons van ons geneigdheid tot bekommernis afwyk. 

Ons kan Hom met vertroue in gebed aanspreek, in die wete dat Hy luister en volgens ons beste belange sal antwoord. Aangesien God ons ook deur sy Heilige Gees verseker van sy alomteenwoordigheid en beskerming, weet ons dat Hy in sy liefde ook in hierdie lewe vir ons sal sorg.
 
Daar is dus geen rede tot kommer nie. Soos die apostel Paulus sê: Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
(Fil 4: 6-7).