Tuesday 7 May 2024

2024: 'n Vlugtige basaarterugblik

'n Outydse kerkbasaar is 'n gesellige byeenkoms met die geur van pannekoek en braaivleis wat in die lug hang, goeie musiek in die agtergrond wat 'n kuieratmosfeer skep, 'n oop beursie en kinders wat laggend en jillend spring, gly en kompeteer.

Met soveel stalletjies te kus en te keur, tel of dink niemand aan kalorieë nie, ook nie aan uitgawes nie, want die doel heilig die middele. Spyt gaan later in die week aan jou gewete se deur kom klop omdat die opwinding tot oordaad aan soetgoed en verbode eetgoed op jou lysie jou tot verantwoording roep. Gelukkig is hierdie oordaad beperk tot 'n paar geleenthede per jaar en op hierdie manier stil jy jou eetgewete!

'n Basaar se wins lê nie net in finansiële gewin nie, maar dit kan ook gemeet word aan die gesellige saamwerk van die gemeentelede, die vrolike samekoms en kuiers voor en agter die tafels, die kosbare herinneringe wat geskep word om later te koester en jou gevoel van behoort aan 'n gemeenskap.

Met moeë voete, 'n gelukkige hart, 'n leë beursie en 'n volgelaaide kar, ry jy huis toe en voel soos ‘n wenner wat saam kon kuier en belê in die Koninkryk.