Tuesday 7 May 2024

'n Breëborsbesoeker by die basaar


'n Honde-eienaar dink altyd dat hy sy hond êrens heen vat vir oefening of ontspanning, maar eintlik is dit net die teenoorgestelde. Honde het hulle eienaars goed afgerig om hulle te vat waar hulle wil wees. Pruce het met die honderiemtelegram gehoor dat Dutoitspan hul jaarlikse basaar gaan hou en dit is net hier waar hy besluit het om 'n draai by die basaar te maak. Hy het sy eienaar gebring om te deel in die reukvreugde by die tente en die braaivleisvure. 

Geen mens of hond kan aan al die lekkernye blootgestel wees en nie vir jou padkos koop om huis toe te vat nie. En soos duidelik uit die foto blyk, het hy presies geweet waar die beginstalletjie is - die stalletjie waar die kaartjies verkoop word. En daarvandaan het sy neus hulle twee verder gelei van vleisstalletjie na pannekoekstalletjie na die boepensbroodjiestalletjie waar die keuse 'n mens diep laat twyfel het.

Pruce het reeds 2025 se basaar op sy geheuekalender gemerk en hy sien uit na nog 'n Saterdaguitstappie tussen die kosstalletjies en vriendelike besoekers, wat daar was nie 'n mens wat nie met hom 'n geselsie aangeknoop het nie.