Showing posts with label Herinneringe. Show all posts
Showing posts with label Herinneringe. Show all posts

Thursday, 28 May 2026

Dink hieroor: Wees 'n betrokke ouer

Om deel van jou kinders se herinneringe van môre te wees,
moet jy vandag in hulle lewens teenwoordig wees!

Thursday, 9 October 2025

Dink hieroor: In ons kitssamelewing ...

In ons kitssamelewing 
waar alles só vinnig herstel 
of liewer vervang word, 
is daar nie 'n kitsoplossing vir seer nie. 
Baie mense troos jou met die woorde dat tyd genesing bring - 
miskien is dit waar ... vir sommiges ... 
Die enigste tydelike heling, 
is jou herinneringe. 
Die herinneringe wat jy oor jare bymekaar gemaak het
en gekoester het.
Daardie herinnering is 'n pleister vir die seer.  

[Anoniem]

Thursday, 8 May 2025

Dink hieroor: 'n Trommeltjie herinneringe

Elke mens het ‘n lewenstrommeltjie herinneringe en dit is al wat jy het vandat jy kan onthou totdat jy sterf.
Wat jy in jou eie trommeltjie sit, asook in die trommeltjie van ander, is wat saakmaak.
Om die trommeltjie van die lewe te vul met kosbare herinneringe moet 'n mens nooit geleenthede versaak nie.
Dit wat jy vandag nalaat, is verewig verlore in die trommeltjie.
Om waardering te toon, om liefde te gee, om mooi herinneringe vir jou familie, vriende asook vir mense wat jou pad kruis, te gee, is van die blywende juwele in elke persoon se trommeltjie.
Watter herinneringe sit jy daagliks in jou geliefdes, vriende, kollegas en kennisse se trommeltjie?
As hulle die dag hul trommeltjie uitpak, wat gaan hulle van jou onthou ...?

Monday, 27 January 2025

Oases op die lang pad

"... Ek het grootgeword in 'n gesin waar ons gedurende vakansies die land deurkruis het. Ons het graag by padstalletjies gestop om van die kontrei se vrugte of droëvrugte te koop wat ons so in die ry geëet het. Die pad na, en van ons bestemming, was altyd deel van die reis en alhoewel die roete soms lank was, was die reis draaglik en aangeneem.

Ons lewenspad kan partykeer 'n hoofweg wees met kitskosrestaurante en geriefswinkels wat ons help om vinniger en makliker van punt A na punt B te kom. Ander kere lê daar weer 'n lang, eentonige pad voor ons uitgestrek waarteen ons opsien, maar wat ons nie kan vermy nie. Waaroor ons wel beheer het, is hoe ons kies om dié pad aan te pak. Gaan ons stop by plekke van lafenis op die pad wat anders lank en eentonig voor ons uitgestrek lê, of kies om eerder verby te ry en onsself die breek, die blaaskans te misgun?

Soms het ons min of geen beheer oor die pad waarop die lewe ons noodgedwonge neem nie. Ons kan egter kies om onsself  'n ruskans te gun deur die mooi en anderse wat wel periodiek op die roete voorkom, raak te sien, te geniet en daaruit te put wat nodig is om die pad vorentoe aan te durf. Net dalk word hierdie stoppe wonderlike herinneringe wat die lang reis nie net draaglik maak nie, maar in iets kosbaar omtower ..."

[Madelein Campher - The Post, April 2024, bl. 12]