Showing posts with label Siek. Show all posts
Showing posts with label Siek. Show all posts

Friday, 11 April 2025

Hallo, Jesus, dit is Jim

Elke dag om 12 uur het 'n man by die kerk se voordeure ingestap, stadig tot voor die kansel, 'n paar minute daar vertoef en dan weer uitgestap.
 
Die predikant het hierdie daaglikse ritueel gade geslaan en besluit op 'n dag om meer van die man te wete te kom. Hy stap na hom toe en sê: "Goeiedag, Meneer, ek sien jou elke dag by die kerk instap en dan weer na 'n paar minute uitstap, is daar dalk iets waarmee ek kan help?"

Die man kyk na die predikant en glimlag: "U sien, dominee, ek kan nie baie goed en lank bid nie, nou stap ek maar elke dag gedurende my etensuur om 12 uur hier by die kerkgebou in en dan stap ek tot daar voor die preekstoel en dan sê ek: 'Hallo, Jesus, dis Jim hier,' en dan stap ek maar weer uit."

En so het die tyd verbygegaan, en eendag het een van die gemeentelede vir die predikant kom sê dat Jim in die hospitaal opgeneem is, en dat dit nie goed gaan met hom nie. Die predikant gaan toe hospitaal toe en vra die saalsuster hoe dit met Jim gaan. Sy sê toe dat sy die man so jammer kry - hy is so siek, en kry geen besoekers nie.

Die predikant gaan toe na Jim se bed, en vra: "Jim, hoe gaan dit met jou?"
 
Jim se hele gesig kry 'n uitdrukking van blydskap toe hy antwoord: "Dit gaan baie goed met my, ek het nou net besoek ontvang."
 
Die predikant was baie verbaas, want die saalsuster het nou net gesê dat Jim geen besoekers kry nie. Hy vra toe: "Wie was jou besoeker, Jim?"
 
Jim vertel opgewonde dat elke dag om 12 uur dan stap Hy hier in en dan sê Hy vir my: "Hallo, Jim, dis Jesus," en dan stap Hy weer uit.

Soms dink ons dat ons geleerde woorde moet besig om met die Vader te praat. Maar Hy is ons Vader, en Hy hoor nog voordat ons gevra het. Ons kan met ons Hemelse Vader praat oor enige iets net soos ons met ons aardse vaders kan praat. 

En Hy is altyd daar om te luister, en te antwoord. Al sê ons net Hallo, Jesus, dis maar net alweer ek - ek het nie baie woorde nie, maar lees asseblief vandag my hart.

[Skrywer - Onbekend]

Thursday, 8 August 2024

Die vurk

‘n Jong meisie is met ‘n terminale siekte gediagnoseer. Menslik gesproke het sy nog drie maande om te leef. Sy begin dadelik om haar sake in orde te kry. In ‘n gesprek met haar predikant versoek sy watter liedere sy graag op haar begrafnis wil laat sing, asook die skrifgedeelte wat hy moet lees.

Toe die predikant groet, onthou sy nog iets wat vir haar baie belangrik is. “Daar is nog iets, Dominee.” “Wat is dit?” 
“Ek wil graag met ‘n vurk in my hand begrawe word. Dis vir my baie belangrik.” 
Die predikant lyk verdwaas. “Wat ‘n eienaardige versoek”.
“By die restaurante waar ek al sosiale funksies bygewoon het, het iemand na die hoofdis, wanneer die eetgerei weggeneem word, gefluister: “Hou jou vurk.” Dan het ek geweet daar is nog iets heerlik wat gaan kom, soos veerligte sjokoladekoek of besonderse appeltert. So wil ek graag hê die mense moet my in my kis sien met ‘n vurk in my hand. Ek wil hê elkeen moet wonder en vra: “En die vurk? Waarvoor is dit?” Dan moet u antwoord: “Hou jou vurk, as jou saak met die Here reg is, kom die beste nog.”

Met trane in sy oë groet die leraar. Hy besef die jong vrou het ‘n wonderlike idee van die hiernamaals. Selfs beter as hy. Selfs beter as ouer gelowiges met baie meer lewenskennis. Sy WEET iets beter wag op haar, want haar saak met God is reg.

By die begrafnis hoor die predikant dan ook telkemale: “En die vurk?” En hy glimlag net. In sy boodskap verduidelik die leraar die meisie se uitsonderlike wens en wat dit simboliseer. Hy getuig hoe die mooi storie in sy gedagtes bly.

“Ek is seker elkeen van julle gaan ook oor en oor daaroor dink.” 

Hy was reg. En elke keer wanneer jy jou vurk optel, onthou: As my saak met God reg is, is die beste nog op pad!!!

Toepassing: 
Koester die tyd wat jy nog gegun word. Maak seker jou saak met God is reg. Jesus sê in Joh 14:6 “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe, NIEMAND kom na die Vader toe behalwe deur MY nie”.
Die beste wat voorlê kan NET joune wees as jou saak met God reg is! DAN lê die beste deel nog vir jou voor!

Hou jou vurk gereed kind van God ... Die beste lê nog voor!!! 

[Dankie, Valerie, ons waardeer jou gereelde bydraes.]