Showing posts with label Verantwoordelikheid. Show all posts
Showing posts with label Verantwoordelikheid. Show all posts

Thursday, 17 October 2024

Dink hieroor: Daar is slegs een persoon ...

Die werknemers van ‘n groot maatskappy het van hul etensuur teruggekeer en hulle is by die ingangsportaal van die kantore begroet deur die volgende kennisgewing:
“Die persoon wat jou die meeste verhinder het om te groei in dié onderneming, is gister oorlede. Ons nooi jou uit na die roudiens en laaste eerbetoon wat vanmiddag in die gimnasium om 16h00 sal plaasvind.”

Almal was eers geskok deur die gedagte dat een van hul kollegas oorlede is, maar na ‘n rukkie was almal baie nuuskierig om uit vind wie die persoon is wat oorlede is. Geen verdere inligting was tot hulle beskikking nie en hulle  moes tot 16h00 wag.

Die afwagting het gegroei soos wat die werknemers by die gimnasium opgedaag het om hul laaste eer te betoon aan die oorledene. Almal het gewonder wie die persoon is wat hulle die meeste verhinder het in hul groei in die onderneming en elke een het gespekuleer oor wie dit moontlik kan wees. Die meeste se gevoel was in elk geval: “Maak nie regtig nou meer saak wie dit is nie, ten minste is hy of sy nie meer daar nie!”

Een vir een het die werknemers nader gestaan aan die oop kis en wanneer hulle in die kis kyk, was almal sprakeloos. Hulle was geskok, so asof iemand hul diepste wese aangeraak het.

Daar was ‘n spieël binne-in die kis en elkeen wat inkyk, kon sy eie refleksie in die kisbodem sien. ‘n Nota was langs die spieël aangebring wat as volg gelees het:
“Daar is slegs een persoon wat in staat is om beperkinge op jou groei te plaas - dit is JYSELF.”

Jy is die enigste een wat in staat is om jou lewe te verander. Die enigste persoon wat kan bepaal hoe gelukkig jy vandag gaan wees of hoe suksesvol. Jy is die enigste persoon wat jouself kan help of jou eie groei kan belemmer.

Jou lewe verander nie as jou werkgewer verander, of jou vriende verander, of jou ouers verander, of jou lewensmaat verander of jou kinders verander nie. Jou lewe verander slegs wanneer JY verander, wanneer jy verder strek as wat jy dink jy in staat is om te strek. Wanneer jy glo dat jy tot alles in staat is, slegs dan eers sal jy werklik tot alles in staat wees. Jy moet lief wees vir jouself en in jouself glo, want hoe anders sal jy jou naaste kan liefhê of in jou naaste glo as jy nie in jouself glo nie.

Skrifgedeelte: Fil. 4:13
Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

[Oorspronklike skrywer onbekend]

Sunday, 16 June 2024

'n Liefdevolle vader was dryfveer agter dié dag

Vadersdag, wat jaarliks op die derde Sondag in Junie gevier word, is die breinkind van 'n dogter wat deur haar pa grootgemaak is. 

Vadersdag is die eerste keer op 19 Junie 1910 amptelik in Amerika gevier. Die moeder van die dag was mev. Sonara Smart Dodd van Spokane, 'n stad in die ooste van die staat Washington. Sy het op die gedagte gekom toe sy in 1909 na 'n Moedersdagerediens geluister het.

Haar pa, Henry Jackson Steward het haar grootgemaak na haar ma se dood. In haar oë was haar pa die liefdevolste en onselfsugtigste ouer wat sy kon hoop om te hê. Hy het die veeleisende taak van ouerskap met vreugde verrig en geen moeite is ontsien om Dodd se kinderdae regtig spesiaal te maak nie.

Die idee van 'n Vadersdag het vorm aangeneem omdat Dodd graag vir haar pa wou laat besef hoe spesiaal hy vir haar was en hoe sy al sy moeite waardeer. Omdat haar pa in Junie verjaar het, het sy dié maand vir Vadersdag gekies. Sy het die kerkmense van die stad oorreed dat Vadersdag met kerkdienste gevier moes word. Dit was 37 jaar nadat die idee van Moedersdag (wat toe reeds jare lank in kerke in Europa en Asië gevier is) in 1872 as nasionale dag in Amerika voorgestel is.

Die voorstel vir Vadersdag is deur pres. Woodrow Wilson aanvaar. Agt jaar later het pres. Calvin Coolidge aanbeveel dat Vadersdag nasionaal gevier word om 'n gemeensamer verhouding tussen vaders en hul kinders te bewerkstellig. Die volle verantwoordelikheid van vaderskap moes dan ook op dié dag verskerp word.

Vadersdag is die een dag waarop Pa's maar agteroor kan sit en bederf kan word deur ma en die kinders. Onthou ook om vir pa dankie te sê vir al die goeie dinge wat hy deur die jaar gedoen het. Die maklikste is om die dag met 'n heerlike ontbyt te begin en vir jou pa ontbyt in die bed te gee.