Sunday 16 June 2024

'n Liefdevolle vader was dryfveer agter dié dag

Vadersdag, wat jaarliks op die derde Sondag in Junie gevier word, is die breinkind van 'n dogter wat deur haar pa grootgemaak is. 

Vadersdag is die eerste keer op 19 Junie 1910 amptelik in Amerika gevier. Die moeder van die dag was mev. Sonara Smart Dodd van Spokane, 'n stad in die ooste van die staat Washington. Sy het op die gedagte gekom toe sy in 1909 na 'n Moedersdagerediens geluister het.

Haar pa, Henry Jackson Steward het haar grootgemaak na haar ma se dood. In haar oë was haar pa die liefdevolste en onselfsugtigste ouer wat sy kon hoop om te hê. Hy het die veeleisende taak van ouerskap met vreugde verrig en geen moeite is ontsien om Dodd se kinderdae regtig spesiaal te maak nie.

Die idee van 'n Vadersdag het vorm aangeneem omdat Dodd graag vir haar pa wou laat besef hoe spesiaal hy vir haar was en hoe sy al sy moeite waardeer. Omdat haar pa in Junie verjaar het, het sy dié maand vir Vadersdag gekies. Sy het die kerkmense van die stad oorreed dat Vadersdag met kerkdienste gevier moes word. Dit was 37 jaar nadat die idee van Moedersdag (wat toe reeds jare lank in kerke in Europa en Asië gevier is) in 1872 as nasionale dag in Amerika voorgestel is.

Die voorstel vir Vadersdag is deur pres. Woodrow Wilson aanvaar. Agt jaar later het pres. Calvin Coolidge aanbeveel dat Vadersdag nasionaal gevier word om 'n gemeensamer verhouding tussen vaders en hul kinders te bewerkstellig. Die volle verantwoordelikheid van vaderskap moes dan ook op dié dag verskerp word.

Vadersdag is die een dag waarop Pa's maar agteroor kan sit en bederf kan word deur ma en die kinders. Onthou ook om vir pa dankie te sê vir al die goeie dinge wat hy deur die jaar gedoen het. Die maklikste is om die dag met 'n heerlike ontbyt te begin en vir jou pa ontbyt in die bed te gee.