Showing posts with label God. Show all posts
Showing posts with label God. Show all posts

Friday, 22 May 2026

Wat sê ons vir God?

Gabs Malan het die  volgende stukkie geskryf wat vandag nog net soveel waarde het en veral hier rondom Pinkstertyd.

"My laatlam meisiekind het 'n manier gehad om klein-klein briefies vir my te laat rondlê. Ek het al hierdie briefies in 'n album gebêre. Ek het onlangs weer deur die album geblaai en my daaraan verkneukel. Ek deel graag so drie van die briefies:

* 'Ek hou baie van mamma, want ma is so goet vir ons almal,'

* 'Liewe Muis, ek is so jammer ek het nie my tand nie. My ma het hom weggegooi, maar ek het my brief in my beste skoene gesit vir jou. Muis, sal jy asb vir my 'n bietjie geld gee vir my tand. Liefde Lindi .'

* 'Mamma is die beste mamma wat ek nog ooit gehad het. Ek het mamma baie lief.'

Hoe baie beteken hierdie soort briefies nie vir ons as ouers nie? Dis daar om te lees as die dae koud word en die nagte lank - in die dae van eensaamheid en vertwyfeling - dan gee dit my weer mooi herinnerings en moed - hierdie uitdrukkings van liefde van my dogter ...

Wat sê ons vir God?

Sê ons vir Hom hoe lief ons Hom het??

Sê ons ook vir Hom dat hy die beste God en Vader is?

Of is die meeste gesprekke met Hom slegs versoeke?
* Here, help my asseblief ...
* Maak tog my kind gesond ...
* Help tog my man ...
* Bring ons dogter veilig terug ...
* Seën ons gesin ...

Hoeveel DANKBAARHEID is daar in ons gebede? 

Watter wonderlike oomblikke is daar vir ons aardse moeders as ons kinders hul arms om ons kom sit en vir ons sê dat hulle ons so liefhet?

En ek en God?

Is ek nie ook die ontvanger van sy liefde nie? Sorg Hy nie ook al die jare vir my nie?
* Sy bewaring
* Sy liefde
* Sy vergifnis
* Sy hulp
* Sy troue sorg
* Sy bedagsaamheid
* Sy groot sondaarsliefde wat, ja, ook vir my insluit.
* Hy wat selfs bereid was om sy kosbaarste, SY SEUN te stuur om my te kom losmaak van die sondebande wat my vasgevang gehou het.

WAT SÊ EK VIR SOVEEL LIEFDE? 

Hemelse Vader
Ek het U baie lief!
Dankie vir alles wat U vir my is en doen.
Dankie dat U U is, en dat U U elke dag oor my ontferm.
Dankie vir Jesus -
Ek het U baie lief!
Jesus, ek het U baie lief - dankie dat U gekom het om my weer in ere by God te herstel sodat ek nou by God kan uitkom en met Hom kan praat soos 'n kind met sy vader.
Dankie dat U die Heilige Gees gestuur het om in my te kom woonb, om vir my elke dag te lei op die pad van die lewe - my te help om reg te kies, my lief te hê en te vertroos.
Dankie, Heilige Gees van God.
Ek het U baie lief! ...

Dankie, klein-klein Lindi, vir jou briefies en die GROOT les van dankbaarheid - dankbaarheid wat 'n mens in woorde kan sê om 'n ander se hart bly te maak.

Ek wil die Here loof,
Ek wil die Here loof
Met my hele hart
wil ek U loof!

Dawid het gesê: 'Ek het U hartlik lief, Here, my sterkte.' (Ps. 18)

Loflied op die almag en genade van God.
Ps. 33:1 'o REGVERDIGES, jubel in die Here! 'n Loflied betaam die opregtes.'

Ps 37:4 'en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.'"

[Spore - Mei/Junie 1984 - bl.13-14]

Sunday, 1 February 2026

GOD SE CV AS LEWENSAFRIGTER EN BESTUURDER - GOD HET BEDANK

1 Samuel 8 & Johannes 8:31-47

Aan wie dit mag aangaan.

Ek, as God, het besluit om te bedank. Die wêreld en kerk het my dalk nie meer nodig nie. Alles is nou gerekenariseer. Vrae word vir die rekenaar gevra en dit gee vir ons al die antwoorde. Dit is vir My as 
Skepper van alles hartseer om My bedanking in te dien.

Ek wil net My CV gee sodat die een wat in My plek aangestel word, weet wat Ek alles gedoen het, dalk kan daardie persoon veranderings aanbring om ‘n beter verhouding te skep.

My CV en werk was soos volg:

Ek het die hemel en aarde gemaak. Ek is die enigste een wat dit nog suksesvol gedoen het. Ek was die eerste bestuurder van die menslike skepping. Eintlik het Ek hulle gemaak. Dus weet Ek hoe die mens se verstand, sy liggaam en sy denke werk. Ek weet die beste hoe om met die mens te werk en hoe verhoudings moet werk.

Dit is so goed om die vervaardiger van enige iets as die persoonlike werktuigkundige te hê.

Ek wil dit uitwys dat my salaris reeds betaal is met die bloed van My Seun Jesus aan die kruis. Dit wat Ek na smag het is dat julle vir My erkenning sal gee dat die prys wat My Seun betaal het, genoeg was vir al die sondes van die mens wat afhanklik is van My.

Die volgende wat Ek wou doen, was om mense se lewens te verander en die seer van mense se lewens te kan herstel. Ek wil graag veranderings doen waar dit nodig is. Ek wil dit graag beklemtoon dat Ek die ontdekker is van onvoorwaardelike liefde.

Ek het gevra dat julle My ten volle sal vertrou en om My werk te doen. Dan sal alles goed afloop en sal daar geen teleurstellings wees, of tyd gemors word nie, maar dit wil vir My voorkom dat julle as Dutoitspan-gemeente en die mense van die wêreld nie meer belangstel in My nie. Mense probeer My met AI en wetenskap uitwerk of Ek regtig bestaan. Dit is vir my ‘n hartverskeurende geleentheid om maar te bedank, want Ek is nie meer nodig nie.

My Naam is God
Adres: Ek is altyd teenwoordig 24/7
Telefoonnr. 777
Toe Ek in die begin My CV gestuur het vir die wêreld, was dit die volgende:

AAN ALMAL WAT MY CV LEES, WIL EK GRAAG DIE VOLGENDE DEEL:
EK HET BELOWE DAT EK MY ALLERBESTE VIR JULLE SAL GEE EN GEHOOP DAT JULLE NOOIT SPYT SOU WEES NIE.


ONDERVINDING:
Ek het tyd gemaak van die begin tot die einde. Ek het al die mag en krag.

MY VORIGE WERK:
Ek het die hemelruim, aarde en die waters van die wêreld gemaak. Ek hou tans die wêreld in stand.

MY OPLEIDING:
Ek ken die volle waarheid, Ek het die volmaakte kennis, Ek is die lig, Ek verstaan alles, Ek is die lewe,
Ek is die weg, Ek is die goeie skaapwagter, Ek is ook die Vader van die heelal.

AS JY MY BETER LEER KEN, DAN SAL JY AL MY KARAKTERTREKKE LEER KEN. 
HIER IS ‘N PAAR VAN MY KARAKTERTREKKE:

Wysheid - Jak 1:5; 3:17-18
Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie. (Ps. 11:10, 1Kor 1:30)

Waarheid - Joh 8:32
Julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vry maak.

Geestelike Geneesheer - 1 Pet 2:24
Hy het self ons sondes in Sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sonde dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur Sy wonde is julle genees.

Vergewe, want vergifnis is my belangrikste karaktertrek - 1 Joh1:9
Maar as ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig. Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Voorsiener - Fil 4:19
En my God sal in elke behoefte voorsien volgens Sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.

Genade - Ef 1:7-8 – (7). 
Deur die bloed van Sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God, (8). wat Hy in al Sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.

Vrede - Is vir My belangrik Rom 14:17
... die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.

Ek is gewillig en gereed om jou lewe oor te neem en wil graag vandag vir jou laat kennis neem van My besluit.

Ek wil graag in jou behoeftes voorsien: In jou verlossing en ewige lewe. Ons kan onmiddelik begin. Ek was beskikbaar 24 uur per dag, sal jou daaglikse vriend wil wees, Ek sal jou berader wil wees en jou leiding gee, krag om staande te bly in die teenstand van al die aanvalle van die vyand. Ek sal jou graag wil transformeer soos Ek is. Ek wil jou lewe beheer en dan sal jy deel van My liggaam word.

SALARIS VERGOEDING
Ek herhaal dat alles reeds betaal is met die bloed van My Seun. Die enigste van belang is dat jy moet in My glo en jou verbind aan My en My vertrou. Aanvaar ook My liefdesverklaring as Ek jou herinner dat jy Myne is Ek het jou gevorm. Ek het baie van julle persoonlik ontmoet wat vir My baie beteken het. Die hartseer is dat baie mense My nie wou ontmoet nie, of na my wou luister nie en My gewoon geïgnoreer het.

DIE POS IS OOP: WIE VAN JULLE GAAN AANSOEK DOEN VIR GOD SE POS?

Daarom is hierdie CV die beste en belangrikste kommunikasie wat ons het om te reageer op die God se bekendstelling, want God sal graag wil hê dat ons Hom moet antwoord op Sy CV. As ons nie gaan reageer nie, sal dit ‘n groot teleurstelling vir God wees. Een daarvan is liefde; een van mentorskap, nie diktatorskap nie.

Die vraag is as ons vandag deel van die paneel is wat weer God se CV sal hanteer, sal jy só iemand aanstel, of sal jy sê die CV is nie goed genoeg nie, of dalk sê: Nee genade, dit lyk vir my na ‘n oorgekwalifiseerde CV.

God het so pas Sy pos bedank! Wil jy aansoek doen vir Sy pos? Sien jy kans om God se pos te hê? Of sal jy uit dankbaarheid vandag sê Here asseblief moenie bedank nie, ek het U nog baie nodig, of dankie Vader dat U my God is wat ‘n nietige mens soos ek liefhet. Dankie dat U ‘n reuse prys betaal het vir my verhouding, ek sal dit met my hele lewe koester en U volg tot aan die einde van my lewe.

Sal ek en jy kwalifiseer vir dit wat God se CV sê? Daar is een uitstaande punt in God se CV wat sê dat die Vader jou ontsettend lief het. Daarom vra die Vader ook vandag vir ons: Praat asseblief met My, Ek smag na jou geselskap. Ek wil graag met jou deel wat op My hart is.

EK TREK MY BEDANKING VANDAG TERUG NET TER WILLE VAN JOU EK SAL DAAR WEES VIR JOU TOTDAT EK JOU KOM HAAL.  

DAAR IS EEN VOORWAARDE VIR DIE TERUGTREK VAN MY BEDANKING: LEEF MY LIEFDE EN GENADE UIT SODAT MY KONINKRYK UITGEBREI KAN WORD.

Tuesday, 13 August 2024

Dink 'n bietjie ...

'n Mens kan ontrou raak
- Een is absoluut getrou.
'n Mens kan omgekoop word
- Een bly by Sy woord.
'n Mens kan ineen stort
- Een se krag is van Ewigheid af.
'n Mens kan ongeduldig word
- Een verdra alles
Ek vertrou op God.
Hy is God.

[Martin Gutl]

Wednesday, 24 January 2024

Geloof maak alles die moeite werd

Dis die DIEP WATERS
wat ons leer SWEM!
Dis die OPDRAANDES
wat ons FIKS maak!
Dis die VASKLOU
wat ons STERK maak!
Dis die UITHOU
wat ons WENNERS maak!
Dis ons GELOOF in die Almagtige GOD
wat ALLES die moeite werd maak!!

Sunday, 16 April 2023

Friday, 12 November 2021

Sunday, 1 August 2021

Tuesday, 27 July 2021

Saturday, 24 July 2021

Friday, 9 April 2021

Thursday, 8 April 2021

Friday, 19 March 2021

Friday, 26 February 2021

Tuesday, 19 January 2021

Friday, 8 January 2021

Monday, 30 November 2020

Wednesday, 25 November 2020

Friday, 13 November 2020

Friday, 6 November 2020

Friday, 30 October 2020