Showing posts with label Ouderdom. Show all posts
Showing posts with label Ouderdom. Show all posts

Thursday, 8 January 2026

Dink hieroor: "Hoe" maak tog 'n verskil!

Dit maak nie saak hoe lank jy lewe nie, 
maar hoe!
Dit maak nie saak hoe oud jy is nie, 
maar hoe jy oud is!
[Anoniem]

Saturday, 11 November 2023

Kerkgenotjies: Mans en vroue jok ...

Vroue jok oor hul ouderdom. Mans oor hul salaris.

Klik HIER vir iets in ligter luim!

Wednesday, 31 May 2023

Die ouderdom

Die ouderdom is 'n blikslater ...
Hy bekruip jou.
Soos droogte in die Boesmanland.
Stadig.
Maar seker.
Hy maak jou krom.
Hy maak jou stom.
Hy maak jou vergeet.
Hy knibbel stomp-tand
aan eergister se onthou.
Hy stroop die bas van jou onthouboom.
Hy los jou alleen.
Met net gedagtes.
Ver gedagtes.
Wat jou terugvat na jou jonkweesdae.
Jou eerste Daan Desimaal-jare.

Maar die ouderdom
maak jou ook astrant.
Soms neuk hy stroom-op met jou.
Na daar waar jy weet jy nie
eintlik moet gaan krap nie.
Want dis die plek van die
Groot Nostalgie.
Wanneer jy sonder dat jy wou,
skielik daai ou droë Heimweeboom
begin klim.
Ja, hoog in die takke is jy.
Jy raak dik gedrink.
Van die verlange se waters.
Jy boor diep.
Slukkie vir slukkie drink jy
uit blou jare terug se vars boorgate.
Jou kinderjare.
Skoolgaanjare.
Vingerbordjare.
Bok-bok-staan-styf-jare.
Jonk-verlief-wees-jare...

Soms praat jy met jouself.
Saggies.
Of so dink jy.
Want jou ore hoor nie meer
soos destyds nie.
Al is hulle nou groter ...
Ja, jou gesig krimp,
maar jou neus en ore word groter.
Jou tande raak stomp.
Jy word lomp.

Ouderdom is soos `n steeks donkie.
Hy briek jou.
Jý wil, maar jou bene steek vas.
Viervoet vat hy jou vloer toe.
Loopraam toe.
Soos `n kind.
Só stroop hy jou selfvertroue.
Gister se bravade maak plek
vir vandag se bang.

Ouderdom steel.
Jou onafhanklikheid.
Jou karsleutels.
Jou lisensie ...
Hy lewer jou oor.
Aan ander se genade.
Hy maak jou sag.
Weerloos.
En eensaam.
Hy laat jou huil.
Sommer oor niks.
Sommer oor alles.

Die ouderdom is `n wetter.
Met `n hoofletter!
Hy ruk jou uit jou huis uit.
Ontvoer jou.
Teen jou wil.
Huis Herfsblaar toe.
Waar Matrone jou baas is.
Huisreëls jou bind.
Styf.
Vas.
Met oumenstoue.
Waarvoor jy `n helse prys betaal.
Letterlik.
Terwyl jy Genadebrood moet eet ...
En perdesalf op ou spiere
se seer smeer.
Ouderdom druk jou smaakkliere toe.
Jy verloor jou proe.
Hy vat jou eetlus weg.
Jou energie.
Hy breek jou spoed.

Maar ouderdom leer jou ook geduld,
want die kinders kom kuier op húlle tyd.
Ouderdom laat jou spog.
Te veel.
Oor die kleinkinders.
Wat jou siel lawe!
Saam met die jare se grysheid,
kom daar darem ook `n bietjie wysheid.
En diepe dankbaarheid.
Vir gespaarde jare
uit Sy hand uit.

Maar dan.
Later.
Raak jý stadig maar seker weer kind.
Moet jy gewoond raak aan die
alewige verkleinwoordjies ...
En om na jou kinders te luister!

Geskryf: Barney Louw

[Dankie, Jan Harm, vir hierdie bydrae.]

Sunday, 11 December 2022

Later ... wanneer is dit?

Skaars het die dag begin, dan is dit al sesuur saans.
Skaars breek Maandag aan, dan is dit weer Vrydag.
... en die maand is verby.
... en die jaar is verby.
... en so vergaan 30, 40, 50, 60 jare van ons lewens.

Skielik besef ons, hoeveel mense ons al verloor het. 
Ouers, familie, vriende en kennisse. 
'n Terug is daar nie!

So laat ons die tyd geniet, wat ons nog oor het.
Laat ons nie ophou om tyd te gebruik, soos dit ons gelukkig maak nie.
Laat ons kleur voeg by ons gryse allerdag!
Laat ons glimlag oor dinge, wat ons harte streel.
Ons moet die tyd wat ons oor het, met rustigheid en vertroue geniet - die woord "later" uitskakel.

Ek doen dit later ...
Ek sê dit later ...
Ek sal later daaroor dink ...
Ons los alles altyd vir later!
Later is dalk te laat! 

Want, wat ons nie verstaan nie is:
Later is die koffie koud
Later het prioriteite verander
Later is die sjarme gebreek
Later is die gesondheid verby
Later is die kinders groot
Later is ons ouers oud
Later word gesprekke vergeet
Later verander dag na nag
Later eindig die lewe ...
En dan is dit te laat!

So asseblief, moet niks uitstel tot later nie!
Want intussen kan ons die beste oomblikke verloor ...

Die beste ondervindinge
Die beste familie
Die beste vriende
Vandag is die dag ♥️ 
die oomblik is nou ♥️

Ons is nie meer jonk genoeg, om dinge wat vandag gedoen kan word, na môre te verskuif nie.
Kom ons wees vandag net dankbaar, vir diegene wat deel is van ons lewens, en deel dit met diegene om ons ... of gaan ons dit ook los ... vir later ...?

Saturday, 16 June 2018

Plato het gesê: ...

Hulle met bedaarde en tevrede geaardhede,
sal skaars die las van die ouderdom voel,
maar vir hulle wat die teenoorgestelde
geaardhede het, is jeug en ouderdom
'n ewe groot las.

Sunday, 20 May 2018

Wat kinders geleer het...

1. Wanneer jou Ma kwaad is vir jou Pa, moenie dat sy jou hare kam nie.

2. As jou suster jou slaan, moenie terugslaan nie, hulle vang altyd die tweede persoon.

3. Jy kan nie honde vertrou om jou kos op te pas nie.

4. Moenie nies terwyl iemand jou hare sny nie.

5. Jy kan nie ’n stukkie blomkool in jou glas melk wegsteek nie.

6. Die beste plek wanneer jy hartseer is, is op ouma of oupa se skoot.

7. Maak nie saak hoe jy die koeldrank meet nie, maar jou broer het altyd meer koeldrank as jy.

8. As daar lekker nagereg is, moenie laaste by die bak uitkom nie.

9. Lekkergoed is geneig om jou eetlus weg te neem en jou boude te laat brand.

10. Honde en katte hou ook nie van ertjies nie.

WAT VOLWASSENES GELEER HET:

1. Om ’n tiener groot te maak is soos om jellie aan ’n boom vas te kap met ‘n spyker.

2. Jou ouers was reg toe hulle altyd gesê het: “Wag maar, jy sal verstaan as jy die dag kinders het”.

3. Middeljare is wanneer jy jou ontbytgraan kies vir die vesel en nie die plesier nie.

4. Jy kry jou kinders uit die huis maar nie uit jou sak nie.

5. Geduld is toe nie net ‘n woord nie, dis inspanning.

6. Kinders grootmaak is nie vir sissies nie.

7. Selektiewe doofheid is nie ’n fisiologiese gebrek nie maar ’n verdedigingsmeganisme.

8. Mens wonder hoekom jou kinders jou ander helfte se humeur en geite geërf het.

9. Tieners beskryf die ouderdom tussen tien en geduld.

10. Ouers word “dommer” met elke generasie.

WAT DIE OUDERDOM ONS LEER:

1. Om oud te word is verpligtend, om groot te word is opsioneel.

2. Vergeet die gesondheidskosse; ek het al die preserveermiddels nodig wat ek kan inkry !

 3. Wanneer jy val, wonder jy wat jy nog alles kan doen terwyl jy daar onder lê, sodat dit minstens die moeite werd was.

 4. Jy weet jy word ouer wanneer ’n skommelstoel jou dieselfde sensasie verskaf as wat ‘n “roller coaster” gedoen het jare gelede.

 5. Dit is frustrerend wanneer jy al die antwoorde ken, maar niemand doen die moeite om jou te vra nie.

 6. Tyd mag miskien ’n wonderlike geneser wees, maar dis ’n patetiese skoonheidskundige.

 7. Wysheid is veronderstel om te kom met die grysheid, maar somtyds kom net die grysheid.

 8. Jou sig verbeter met die ouderdom want jy hou die boek al verder weg van jou oë af.

 9. Die enigste een wat jou gereeld wil sien is jou dokter.

10. Plooie maak nie seer nie.